DEUR MIMI FINESTONE (namens Johan van Deventer)
Ek reken dit het tyd geword dat pa’s wat kinders grootmaak wat spesiale behoeftes het, daaroor begin praat. Sulke pa’s het ondersteuning nodig. Hulle het mense nodig om hulle deur hul rouproses te help, en hulle tot aanvaarding te help begelei.
Glo my, dis ’n harde pad. Hierdie mans het al die hulp nodig wat hulle kan kry. Mans soos ek.
‘Ons lang pad’
Ons, ek en my vrou, het Migael in 2008 aangeneem. Hy was slegs 19 maande oud en ons het geen idee gehad hoe hierdie klein warrelwind ons lewe sou beïnvloed nie.
Ons was in ons laat dertigs en was totaal oorweldig deur die koms van ons seun. Ons het nie ’n benul gehad wat as “normaal” beskou word nie, totdat ’n vriendin aanbeveel het dat ons ’n arbeidsterapeut nader oor Migael se gedrag. Daar het ons lang pad begin.
Ons wou antwoorde hê, en het dit eers drie jaar later gekry toe Migael, na afloop van toetse wat in Frankryk gedoen is, met die rare toestand genoem phenylketonuria (kortweg PKU) gediagnoseer is. In daardie stadium het Migael ook simptome van outisme vertoon.
LEES OOK: ‘Ek fokus op die klein wonderwerke,’ sê kwadrupleeg op sy herstelpad
Ná 13 jaar waarin ons hierdie pad saam met Migael gestap het, ervaar ek steeds oomblikke waarin ek die Vader vra: “Hoekom?” Waarin ek soebat: “Help my seun!” In sulke donker oomblikke luister ek na die gedig van Jason Hague, “A Reflection of Aching Joy”. Hague het dit vir sy outistiese seun Jack geskryf, en dit resoneer diep by my.
Maar hierdie oomblikke is eintlik niks in vergelyking met die liefde en vreugde wat Migael ons bring nie. Die rouproses om my drome vir Migael te laat vaar, is lank reeds afgehandel. Dis trouens vervang deur die intense bewus wees daarvan dat ons moet fokus op die klein wonderwerke wat elke dag plaasvind.
Om jou drome vir so ’n kind prys te gee, beteken nie dat jy hoop verloor nie. Migael is ’n liefdevolle, vriendelike en ’n nie-te-moeilik-nie-tiener. Hy funksioneer nieverbaal en kommunikeer deur middel van ’n tablet en gebaretaal. Te midde van al sy uitdagings blink hy uit in naaldwerk, kosmaak en perdry.
Ek het geleer om die tyd wat ek saam met Migael kan deurbring, te koester. Hierdie besef het nie oornag gekom nie; ons moes heelwat uitdagings te bowe kom. Eers nadat ek besef het dat daar genade is in die oomblikke wat Migael die lewe uitbundig beleef, en dat ek die voorreg het om dit te aanskou, het my oë regtig vir sy wêreld oopgegaan.
Ek bedryf twee plekke in George waar groot vragmotors gewas word. Migael sien uit na ’n Saterdag wanneer hy daar sy tyd kan verwyl, en om daarna ’n ete by ’n restaurant te geniet. Hy bestel self sy tjips – en water met baie suurlemoen!
Hy is trots op die naaldwerk en breiwerk wat hy doen. Hy help sy ma in die kombuis. Hy pak graag weg en sorteer uit, en hy pak die skottelgoedwasser beter uit as sy pa (dankie daarvoor!).
LEES OOK: Gestremde kinders en hul geseënde ouers
Ek kon nou weer die badkamerkassie vassit wat agt jaar gelede verwyder is sodat Migael dit nie breek en sodoende seerkry nie. Hy bêre deesdae sy toiletware daarin. Dís wat ek bedoel wanneer ek sê ons fokus op elke dag se klein mylpale.
Die belangrikste ding wat ek in dié tyd geleer het, is dat ’n ouerpaar nooit mekaar se hand kan los nie. Hulle moet as ’n span saamwerk en saamstaan. In ons huishouding beteken dit doodgewoon dat die een aan diens is sodat die ander een kan diep asemhaal.
Legacy Centre
Vyf jaar gelede het ons hier in George die Legacy Centre, ’n “een-tot-een”-tutorsentrum vir kinders met spesiale behoeftes, in die lewe geroep. Die onderwysers by die sentrum fokus op die onderrig en die ontwikkeling van lewensvaardighede van die 16 kinders wat in hulle sorg is. Sedert die stigting hiervan het ons ongekende ondersteuning van die Tuinroete-gemeenskap beleef.
Dis vir ons ’n groot prioriteit om die ouers van die betrokke kinders by te staan, aangesien ons maar te goed weet hoe moeilik hierdie reis vir ’n ouer is.
Die werklikheid waarmee ’n gesin met ’n outistiese kind (of met ’n kind wat ander spesiale behoeftes het) gekonfronteer word, is dat dié kind na alle waarskynlikheid nooit selfonderhoudend sal wees nie. Ons moet werk aan ’n veilige toekoms vir Migael en ander jong mense soos hy. Ons, en mense soos ons, moet weet dat wanneer ons nie meer daar is nie, ons kind by ’n veilige plek versorg sal word. Ons uiteindelike doelwit is om ’n sentrum te ontwikkel waar jong volwassenes soos Migael tuis kan wees.
Klik hier vir meer inligting oor Legacy Centre: https://www.legacycentre.co.za/info/