Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

‘Alle eer aan God!’ sê tweelingsusters ná albei Covid-19-longontsteking oorleef

DEUR ANNETTE DEMPSEY

Ek het aanvanklik gedink dis bosluiskoors. Ek was op ’n plaas en het oral bosluisbytmerke gehad. Toe die dokter my egter op 30 Junie 2020 meedeel dat my Covid-19-uitslag positief is, was dit soos ’n doodsvonnis. Dit was in die tyd toe ons nog niks van die koronavirus geweet het nie.

Ek is aangeraai om medikasie by die apteek te kry. My tweelingsussie Hermi het dit vir my gaan haal.

LEES OOK: ’n Muur van vuur om Kleinmond-dominee

Teen 4 Julie 2020 kon ek agterkom daar is groot fout. Daarby het ek gevoel ek is besig om ’n angsaanval te kry. Ek het in die kar geklim en hospitaal toe gery. By Pretoria-Oos-hospitaal se ongevalle-afdeling het die dokter dadelik my suurstofvlakke gemeet en gesê dis dié van ’n dooie mens. Hy wou weet waarom ek tóé eers gekom het, en presies hoe ek daar gekom het.

“Met my eie voertuig,” het ek geantwoord.

Nare ervarings

Ek is dadelik in die intensiewesorgeenheid opgeneem. Die diagnose was Covid-19-longontsteking. Ek is aan die hoëdruk-suurstofmasjien gekoppel. Maar ek het ’n groot kalmte beleef, en ek het besef dat as ek sou doodgaan ek in groot vrede sou sterf.

Ek was soms wel baie deurmekaar. Ek onthou die aand toe ek gedroom het my oorlede ouma sit by my op die bed.

My hartklop was soms so stadig dat die hospitaalpersoneel my ma gebel en gesê het hulle moet vir my bid, want dit gaan nie goed nie. Hiervan kan ek gelukkig bitter min onthou.

Wat ek wel onthou, is die nare ervarings in die intensiewesorgeenheid. ’n Man wat oorkant my gelê het se trageabuis is een oggend per ongeluk uitgeruk. Ek onthou hoe die personeel rondgehardloop het en hoe die arme mens na sy asem gesnak het.

Daar was ook ’n getroude paartjie. Die man is later ontslaan nadat hy sy vrou gegroet het. Sy is nooit huis toe nie …

Dit alles was baie traumaties en sal my vir altyd bybly. Nie een van my familielede was by my nie, en my angsvlakke was hoër as gewoonlik. Hoe gaan ’n mens so alleen dood, het ek bly wonder, so eensaam?

Op 24 Julie 2020, ná 20 dae, is ek uiteindelik ontslaan. As Covid-19-pasiënt moes ek die hospitaal se agterste uitgang gebruik. Daar het Hermi baie opgewonde op my gewag.

LEES OOK: ‘Dit voel asof ek my een been en my een arm verloor het,’ sê Covid-weduwee oor haar ‘Oukie’

Ná my ontslag het ek nog ses maande lank by die huis aangesterk – waar ek steeds verskeie komplikasies beleef het. Ek kon eers in Januarie 2021 na my werk terugkeer.

Daar is só baie dinge wat met ’n mens se liggaam gebeur nadat jy Covid-19 opgedoen het. Alles was egter toe nog vreemd en niemand het regtig geweet wat om te verwag nie. Ek was knaend kortasem. En ek was baie verswak omdat ek so lank gelê het.

’n Nuwe nagmerrie

Op 1 Junie 2021 het ons uitgevind my tweelingsus se tienerseun Kyle het Covid-19 by die skool opgedoen. Die angs was terug. Ons nagmerrie het opnuut begin. As ons maar geweet het hoe groot dit dié keer sou wees …

Sus Hermi het Kyle een aand in die badkamer gekry waar hy flou geword het. Hy was baie koorsig. Sy het geweet dis nie verkoue of griep nie, en as ma het sy besluit dat sy nié vir Kyle kan los nie. Dat sy haar nie van hom gaan afsonder  nie.

Hermi se 17-jarige seun Kyle is in Hoërskool Garsfontein in Pretoria en ry ook professioneel fiets. Foto verskaf

Dit alles het sy willens en wetens gedoen, terdeë daarvan bewus dat sy ook kan siek word. En dat Covid-19, geneties gesproke, haar nie goed gaan behandel nie. Ons het geen onderliggende siektetoestande nie en is eintlik baie gesond. Die dokters het egter gewaarsku dat die Covid-19-simptome soos ek dit ervaar het moontlik ook op Hermi kan wag.

Ná ’n week het Kyle genadiglik goed herstel.

God was goed vir ons. Hermi kon hom behoorlik versorg. Hermi en Kyle het ons verjaardag, 10 Junie 2021, alleen en in afsondering gevier.

Soos ’n engel

Maar toe het sy siek geword. Op 13 Junie het sy die eerste simptome getoon en op 17 Junie het sy ’n positiewe toetsuitslag ontvang. Dr David Grieve, ons huisdokter, was in hierdie tyd soos ’n engel wat vir ons gestuur is. Ná die bestudering van Hermi se bloedtoetse het hy vasgestel dat sy reeds Covid-19-longontsteking opgedoen het.

Om tydens die derde vlaag van die pandemie in ’n hospitaal opgeneem te wou word, was ’n absolute nagmerrie. Dr Grieve en sy vrou Ronel, asook verskeie vriende en familielede het oral na ’n oop bed help soek. Sonder sukses. Hermi was aan haar eie genade oorgelaat, in haar eie bed en sonder enige mediese versorging of suurstof.

LEES OOK: ’n Gebed op die maat van die MRI-skandeerder

Om vyfuur die oggend van 21 Junie 2021 het Hermi desperaat ’n ambulans ontbied, maar die ambulanspersoneel het haar aangeraai om nie ’n oop bed by ’n Johannesburgse hospitaal te aanvaar nie. Sy het dus tuis gebly.

Deur die Here se genade het Netcare Unitas-hospitaal Hermi spoedig laat weet dat daar vir haar ’n oop bed is.

“Nee, Here! Tree in!”

Op Dinsdag 22 Junie, drieuur daardie oggend, het Hermi ’n stemnota gestuur: Dit gaan nie goed nie, het sy gesê. Later het ’n dr Kock my gebel en gesê hy moes Hermi intubeer en dat sy deur die nag gesukkel het om asem te haal.

“Die dokters het my oor en oor daarvan verseker hoe gelukkig ons was dat Hermi die ECMO-behandeling kon ontvang. Bloot die feit dat God hiérdie deur vir ons oopgemaak het, was reeds ’n wonderwerk, ’n bewys van sy grootheid,” sê Annette Dempsey, Hermi se tweelingsus. Volgens Annette is daar slegs 10 ECMO-masjiene in Suid-Afrika. Foto verskaf

Dit was bitter om nie by haar te kon wees nie. Elfuur die Woensdagaand het ek die ontstellendste oproep van my lewe ontvang toe ’n dr Welkovics gebel en gesê het die lewensondersteunende masjiene funksioneer nie na wense nie en  dat Hermi se kanse op oorlewing skaars 20% is.

Hoe aanvaar jy die nuus dat jou tweelingsussie nie die koronavirus gaan oorleef nie?

Ek het gesmeek: “Nee, Here! Tree in!”

Die dokter het steeds oor die foon gepraat en ek moes mooi luister. In die agtergrond het die masjiene geraas. Ek moes toestemming gee dat hulle die mees ingrypende maatreël tref wat daar beskikbaar is: koppeling aan die ECMO-masjien. Dis ’n apparaat soortgelyk aan ’n hart-longmasjien wat by opehartoperasies gebruik word.

Toe het die Here begin deure oopmaak. Ek kon byvoorbeeld elke dag klokslag drieuur by Hermi wees. Ek kon by haar gaan sit en haar hand vashou en haar gunsteling-gospelmusiek vir haar speel.

’n Foto wat Annette van haar en Hermi se hande geneem het in die hospitaal. Annette het elke dag haar sussie se hand gaan vashou terwyl sy vir haar gospelmusiek gespeel het. Foto verskaf

Ek het my hande op haar gelê en vir haar gebid. Ek het gebid dat God nuwe lug in haar longe blaas en dat Hy haar moet rustig hou. Ek het vir al die hande gebid wat aan haar raak. Ek het gevra dat daardie hande geseën moet word.

Toe Hermi uiteindelik uit die koma wakker word, kon sy steeds nie praat nie vanweë die pype in haar keel. Dit was onmoontlik om te kommunikeer. Aanvanklik het sy probeer beduie; daarna het sy met ’n bewerige vinger op my foon probeer tik. Later het ek vir haar ’n boek gebring waarin sy kon skryf. Maar sy was baie swak en kon net sulke brokkies neerskryf. Dit was egter genoeg.

In dié tyd het sy vertel hoe ’n vrou in die saal oorlede is en hoe al die ligte begin flikker het. Die medikasie het haar deurmekaar gemaak, het ek gedink. Maar toe ek later die saalsuster daaroor uitvra, het sy dit bevestig.

Tydens een van my besoeke het die vrou in die bed langs hare gesterf. Sy was so oud soos ons en ook aan die ECMO-masjien gekoppel. Oral was beterskap-briefies opgeplak, alles van haar kinders af.

Haar ma het langs haar liggaam gestaan en huil, en ek kon my skaars die verskrikking indink. Ek het later gehoor haar pa het twee weke tevore ook gesterf.

Ek het besef hoe geseënd en bevoorreg ons is om Hermi steeds by ons te hê.

Hermi was baie bang om wakker te lê terwyl sy aan die ventilator gekoppel was. Gewoonlik word pasiënte soos sy onder verdowing gehou, maar as ECMO-pasiënt was haar verdowing ligter aangesien dit haar beter op die behandeling sou laat reageer.

Sy het deurentyd geroggel, en wou dan hoes. Maar die slym wou nie uitkom nie en die personeel het die slym kom uitsuig.

Dit was baie traumaties, ook wanneer die verpleegpersoneel haar dan verlaat het om na ander pasiënte om te sien. Hulle moes haar daarvan oortuig dat daar oral monitors is en dat hulle haar wel onder oë het.

Die personeel was opsigtelik oorwerk, en in ’n stadium moes een suster na drie pasiënte omsien.

Jy leer opnuut bid

Sonder dat ons dit weet, en bokant ons begrip, dra God ons in tye soos dié. Dis Hy wat gesorg het dat Hermi ’n bed in die Netcare Unitas-hospitaal gekry het – wat oor ’n ECMO-masjien beskik waarvan daar maar tien in Suid-Afrika is.

Die dokters het my oor en oor daarvan verseker hoe gelukkig ons was dat Hermi die ECMO-behandeling kon ontvang. Bloot die feit dat God hiérdie deur vir ons oopgemaak het, was reeds ’n wonderwerk, ’n bewys van sy grootheid.

Ek het saans ál om my bed geloop en met die Here gepraat. Ek het Hom gesmeek om my suster vir ons te spaar. Jy leer opnuut bid in sulke tye. Jy smeek uit die diepte van jou hart. Later ervaar jy dat die Heilige Gees jou gebed oorneem.

Ek onthou die kalmte wat ek in Hermi se hospitaalkamer ervaar het. Die belewenis van God se teenwoordigheid daar was buitengewoon. Elke dag, voor ek my moes skoonskrop om by Hermi te mag ingaan, het ek eers gebid. “Here,” het ek dan gevra, “wees met my waar ek vanmiddag hier instap. Omring ons met u teenwoordigheid. Stuur u engele na Hermi se bed om haar veilig te hou.”

Jy leer bid sonder ophou.

Op 15 Julie 2021 het ons Hermi by die hospitaal se voordeur uitgestoot waar Kyle sy ma ingewag het. Dit was die eerste keer dat hy haar sedert haar opname gesien het. Hermi was bitter maer en swak, en het steeds 100%- suurstofvloei ontvang. Maar sy kon huis toe gaan.

’n Mens sou dink die beterskap begin daardie oomblik dat die rolstoel by die hospitaal uit is. Dis nie so nie; die stryd is dan nog ver van verby. Baie pasiënte word eers na ’n rehabilitasiekliniek oorgeplaas omdat hulle al hul spiertonus verloor het. Hermi was gelukkig; haar vriend Eduard kon haar tuis versorg.

Alle eer aan God!

Ons sal God ewig dankbaar wees vir nog ’n kans op lewe. Daar is iets daaraan om so ’n noue ontkoming te beleef: Jy is opnuut dankbaar vir die klein dingetjies in die lewe, en jy verheug jou daarin om elke oggend wakker te word.

Ek, en almal wat vir ons lief en dierbaar is, het ons laat inent. Ek is trots om te sê ek is volledig ingeënt, en dat Hermi teen einde Oktober haar tweede inenting sal ontvang.

Dis ons storie. Ons is passievol daaroor, want dis ’n verhaal van hoop, van God se groot genade.

Ons wil baie spesiaal dankie sê aan dr Van Dyk van die Netcare Unitas-hospitaal en haar span. Dokters en hospitaalpersoneel kry nie altyd die dank en erkenning wat hulle verdien nie.

Hermi het dr Van Dyk menigmaal uit pure dankbaarheid omhels. Dié se woorde was dan telkens dat sy net gedoen het wat medies moontlik was.

Baie dankie an familie en vriende wat ons so getrou bygestaan het.

Alle eer aan God!

  • Annette en Hermi Dempsey is ’n 37-jarige tweeling van Pretoria. Hulle het twee ouer broers, Willem en Hannes, en ’n ma, Evril. Hierdie liefdevolle moeder het hulle van jongs af geleer om God lief te hê. Pa Hannes is lankal reeds oorlede. Hy was maar 45.
Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF