Ons het lank en hard vir ’n baba gebid, sewe jaar lank om presies te wees. Ons het by die Here gepleit, ons het Hom gesmeek om ons op hierdie manier te seën.
En daar was ’n hele dorp wat saam met ons gebid en vertrou het. Die bekende gesegde lui: “It takes a village to raise a child.” Ons kan sê: “We had a village praying for ours.”
Die Here het aan my man ’n visioen gegee, ’n saadjie in sy hart geplant, sodat hy kon vasklou aan sy geloof en op Hom wag. Maar weens infertiliteitprobleme was ons kanse skraal om normaal swanger te raak. ’n Mens reken dat dit een van die basiese funksies is wat jy as vrou moet kan vervul, en die teleurstelling was diep en pynlik.
Deurdat ons finansieel geseën is, was ons in staat om ’n paar keer kunsmatige inseminasie te laat doen. Dit was, helaas, nie suksesvol nie. In ons gebrokenheid en hartseer het ons tog bly glo. Ons het die Here vertrou. En sy belofte. Ons het geweet Hy sou nie teruggaan op sy woord nie.
‘Ons kanse op sukses was uiters skraal’
’n Paar jaar het verbygegaan, en ons hartsbegeerte is steeds nie vervul nie. ’n Barmhartige Samaritaan het later op die toneel verskyn en ons geseën met die geld om in vitro-bevrugting te probeer.
Daar was egter etlike uitdagings. My eierselle (ova) was nie volwasse genoeg om bevrug te word nie; boonop het ek nie genoeg voortgebring om in vitro-bevrugting te laat slaag nie. Ons kanse op sukses was uiters skraal.
Die dokter het gesê dat skenker-eierselle die aangewese weg is, maar my man wou niks hiervan weet nie. Hy het gereken dat, as ons nie my eierselle kon gebruik nie, ons dit dan eerder heeltemal moes laat vaar.
Teen hierdie tyd het ek gevoel dat ek net vir hom ’n baba wou gee, ongeag die manier waarop dit gebeur.
Ek het by die Here gepleit, ek het die hele situasie met Hom probeer uitredeneer. Ek het geweet ek en my man moes hieroor saamstem, anders kon ons net sowel alles laat vaar.
Een oggend in my stiltetyd, toe ek weer met die Here hieroor praat, was dit asof die Heilige Gees baie duidelik vir my vra: “Op watter manier gaan God se eer die helderste skyn?”
Die antwoord was voor die hand liggend: met mý eierselle, nie deur middel van skenkers nie.
‘Daar was slegs drie …’
Die proses hierna was ’n uitdaging: Die inspuitings moes elke dag op dieselfde tyd toegedien word, soos die drink van die pilletjies. Ek het drie wekkers gestel vir elke inspuiting, onderskeidelik 30 minute en 15 minute te vroeg, en die laaste een op die presiese tyd, om seker te maak ek laat genoeg ruimte om huis toe te ry en die nodige te doen.
Ek moes ’n paar keer my inkopies in ’n winkel laat agterbly en huis toe jaag.
’n Dag of twee voor die ova-insameling plaasvind, kry jy ’n “booster”-inspuiting wat op ’n spesifieke tyd toegedien moet word. Ons het dié aand saam met vriende gaan uiteet. Toe die tyd aanbreek, is my vriendin saam met my badkamer toe en sy het die inspuiting toegedien. Dis nogal vreemd, ek weet, maar dis tog waarom jou beste vriende daar is …
Maar nog was dit het einde niet. Ek het nie genoeg eierselletjies voortgebring nie en daar was min wat bruikbaar was. Nadat die eierselle uitgehaal en skoongemaak is, was daar slegs drie wat potensiaal getoon het. Die dokters reken gewoonlik om 15 eierselle in te samel, wat dan so sewe lewer wat bruikbaar is – waarvan daar uiteindelik slegs twee of drie oorleef.
‘… en toe net een’
Die dokter het besluit om al drie te bevrug. Die bevrugte eierselle (sigote) word dan drie dae lank gemonitor om vas te stel of daar groei plaasvind.
Die volgende dag het die hospitaal ons laat weet dat twee sigote nie oorleef het nie. Daar was dus net een oor – ons vegtertjie!
Die volgende twee dae was ons op hete kole. Ons het gebid dat hierdie nuwe lewetjie sal oorleef. Ons gebede is verhoor en op die derde dag is die bevrugte eierselletjie (nou ’n embrio) teruggeplant.
Ons moes nog twee weke lank wag om seker te maak dat die inplanting suksesvol was, dat die embrio groei en dat ek werklik swanger is. Die wag was báie erg.
Maar tydens die wagperiode het ek diep in my hart geweet dat die Here ons nie al die pad tot hier sou bring en ons dan sou teleurstel nie. In geloof oortuig, het ek vir ons gedrukte T-hemde laat maak, ek het “swangerskap-koekies” laat bak wat ons vir almal sou uitdeel, en ek het die bekendmaking in detail beplan.
Na afloop van die twee weke is daar bloedtoetse gedoen. En ek het die wonderlike nuus van die hospitaal gekry – ek was swanger!
Die emosies wat deur my gestroom het, en die dankbaarheid teenoor die Here, was iets wat ek vir niemand kan beskryf nie.
Ook maar mens … wou ek egter doodseker maak. Ek het oor die straat gestap apteek toe om ’n klompie swangerskaptoetse te gaan koop. Ek het die toetse net daar by die werk gedoen, maar ek moes stilbly. Almal het geweet wat ons deurgemaak het, maar ek wou die wonderlike nuus heel eerste met my man deel.
‘Die Here het ons droom bewaarheid’
Etenstyd is ek winkels toe om te gaan babagoedjies koop. En daardie middag, toe my man by die huis kom, was daar net babagoed waar jy kyk. Ek hoef nie ’n woord te gesê het nie. Die blydskap op sy gesig en die trane in sy oë het my eie emosies weerspieël.
Ons het dadelik ons ouers en die naaste familie en vriende laat weet.
Die swangerskap het relatief maklik verloop en ek het elke oomblik daarvan geniet. Die reis het wel nie sonder ’n klip of twee in die pad verloop nie, maar, soos altyd, het ons Vader in die hemel dit vir ons weggerol.
Die Here het ons droom bewaarheid en ons hartsbegeerte vervul. In die grendeltyd, op 31 Mei 2020, is ons Alexa gebore, ’n lekker fris 3,75 kg-dogtertjie wat ons hele lewe kom verander het. Alle eer aan Jesus!
* Alecia du Toit (34), haar man Pieter (36) en hul dogtertjie Alexa (3) woon in Rockhampton, Australië. Hulle het op 4 Julie vanjaar op die vliegtuig geklim en Suid-Afrika vir hul nuwe tuiste verruil. Pieter is ’n ondergrondse landmeter. Alecia het haar beroep as regsekretaresse laat vaar om ’n tuisbly-mamma te word.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.