Stap is die ideale oefening. Maar sê nou jou voete, knieë en heupe begin so erg protesteer dat dit onmoontlik is om fiks te bly?
Een van die geselligste soorte oefening is om saans ná werk of in die vars vroegmôre saam met jou maat of ’n vriend of vriendin te gaan stap. Daardie gesels-en-oefen is boonop goed vir jou gemoed en jou gesondheid. Maar hoe nou as ’n lastige skeet dreig om jul stapspoed te breek?
Eina! My artritis-knie!
Al is osteoartritis so oud soos die mensdom self, verstaan ons steeds maar min daarvan. Wat ons deesdae wel besef, is dat artritis die eindsimptoom van verskillende siektetoestande is. Jou artritis, en die redes daarvoor en hoe dit behandel moet word, kan dus hemelsbreed van mýne verskil.
Navorsers onderskei tussen verskillende soorte osteoartritis, onder meer:
- artritis met inflammasie (16-30% artritislyers);
- artritis by mense met metaboliese sindroom (dit is meestal artritis in die hande);
- artritis by mense met ’n vinnige beenomset (24% artritislyers);
- artritis met pyn, as jy gewig op die gewrig plaas;
- artritis met pyn, al word daar nie gewig op die gewrig geplaas nie.
Hopelik sal bogenoemde onderskeid tot doeltreffender terapieë lei, byvoorbeeld medikasie wat vinnige beenomset kan teenwerk.
Vir artritislyers met metaboliese sindroom is daar reeds hulp, onder meer cholesterolmedikasie en bloedverdunners. Dié artritislyers sal ook daarby baat as hulle minder suiker en stysel eet en elke dag oefen.
Keer so wat jy kan
Ook wat artritis betref, is voorkoming beter as genesing – veral wanneer jy die veertigs aandurf, en later.
Hier is ’n drietal wenke:
Hou inflammasie in toom
Inflammasie is jou liggaam se manier om skade te herstel. Dis ’n uitstekende korttermynplan, maar aanhoudende inflammasie het self skade tot gevolg. Dit is trouens beslis by artritis betrokke. So baie van ons aanvaar ligte chroniese toestande (soos sinusitis, allergieë, tandbederf en swaminfeksies) sonder om te besef hoe verwoestend hierdie klein jakkalsies te werk gaan. Vermy eerder alles waarvoor jy allergies is. Gaan gereeld tandarts toe. Maak ’n plan met chroniese infeksies, al pla dit jou min genoeg.
Oefen ’n halfuur lank, elke dag
Sit jy jou dae om? Dis presies hier waar die probleem is. Oefening is die beste manier om artritis te voorkom. Tog is daar ’n voorwaarde: Jy moet nooit so intens oefen dat jy ná die tyd stram en seer is nie. Stramheid en pyn dui op inflammasie, en dit is die sekerste manier om artritis in te nooi. Oefen eerder tien minute op ’n slag, twee of drie keer per dag. Of dertig minute lank, vyf keer per week. Moenie jou gewrigte, ligamente en spiere ooreis deur ’n weeklikse maratonsessie aan te pak nie.
Laat kyk na jou belyning
’n Verskil in beenlengte het tot gevolg dat jou heupe en knieë ongelyk is, wat baie stremming en selfs chroniese inflammasie om die gewrigte in jou rug, heupe, knieë en enkels veroorsaak. Laat ’n podiater jou belyning evalueer. As jou een been korter as die ander is, of as jou voete skeef trap, sal dié spesialis nommerpas-binnesole voorskryf wat jou probleem regstel. Let wel: Die algemene soort binnesole wat jy by apteke en sportwinkels kan koop, help maar min. Dit kompenseer nie vir ’n korter been of vir jou spesifieke afwyking nie.
En as ek reeds artritis het?
Probeer hierdie opsies; daar bestaan uitstekende bewyse van elkeen se doeltreffendheid:
Beweeg!
Beweging is uitstekend vir artritis, want dit voorkom dat jou gewrigte styf word. Die belangrikste voordeel is egter dat oefening artritispyn verlig. Niemand weet presies hoe dit gebeur nie, maar navorsing wys uit dat matige oefe-ning net so goed en selfs beter werk as pynstillers – boonop sonder newe-effekte soos lewerskade. Fokus op strekbewegings, soos by joga en pilates. Of swem, want dit versterk jou spiere en ligamente. Selfs vibrasietoestelle kan help. Onthou steeds: Moenie die oefening oordoen nie.
Yskompresse
’n Yskompres wat elke dag twintig minute lank op die seer gewrig geplaas word, laat die swelsel sak. Dit maak die gewrig meer beweeglik. By baie mense verlig dit ook pyn.
Temperatuurterapie
Gebruik ’n warmwatersak of klim in ’n baie warm bad sodat die seer gewrig twintig minute lank so warm moontlik kan word. Volg dit dadelik op met ’n yspak, ook twintig minute lank. Herhaal dié prosedure twee tot drie keer per dag.
Loopstokke of ’n loopraam
Hierdie soort hulp werk uitstekend as jou artritispyn vererger nadat jy geruime tyd op jou voete deurgebring het. Dit verminder die gewig op veral jou voete, knieë en heupe. Onthou dié siklus: Hoe meer jy beweeg, hoe minder pyn het jy, en hoe meer kan jy beweeg …
Laserterapie
Dit werk veral goed by knieë.
My voete moor my
Pyn jou voete, al het jy nie eelte, knokkels, hamertone of jig nie? Die een voetprobleem wat ’n mens maklik miskyk, is ’n gesakte voetbrug. Jy kyk dit mis, ja, want daar is niks om te sien nie – behalwe dat jy dalk opmerk jou voete het deur die jare effens breër geword.
Maar al kan jy nie sien wat fout is nie, weet jy een ding deeglik: Dis seer om ’n entjie te stap, of om ’n ruk lank te staan. Almal beveel dertig minute se stap aan as die ideale ligte oefening, maar vir jou is dit bitter pynlik.
Wanneer jy lank staan, word jy bewus van intense pyn op enige van die volgende voetdele: jou voetbrug; een of al twee enkels; die binnekant van jou voete; by jou kleintoontjie rond; aan jou voet se onderkant, op die plantar fassia – dit is die stewige ligament wat jy onder die voetsool, van jou hak na jou voorvoet, kan voel.
Die rede vir dié pyn? Jou voetspiere en ligamente het verswak en hou nie meer die voet en veral die voetbrug “bymekaar” nie. Sommige beentjies in jou voet verskuif, ligamente verkort of verrek, en die senuwees word vasgeknyp.
Sorg dat jy gereeld voet- en beenoefening kry. Hoe meer dikwels jy matig oefen, hoe beter werk jou liggaam.
Hier is ’n klompie doeltreffende, maklike oefeninge.
Doen tien van elkeen, en herhaal alles drie keer per dag. Jy kan byna almal deur die loop van ’n gewone dag doen – voor die televisie, by jou lessenaar, of waar jy ook al in ’n ry staan en wag.
- Staan op jou tone. Lig, hou dit tien sekondes so, en sak.
- Doen die trap-sak. Staan met die voorste deel van jou voet op ’n trap, terwyl jy jou hak so ver moontlik laat afsak.
- Krul jou tone. Buig jou tone boontoe, en dan weer so ver ondertoe as wat jy kan.
- Rol jou voete. Staan met jou voete heupwydte uit mekaar. Lig die voete se binneste sykante op, terwyl jy jou gewig op die buitenste sykante plaas. Rol van binne na buite, en van buite na binne.
- Strek jou kuite. Gee een lang tree vorentoe, buig jou voorste knie terwyl jy jou agtervoet plat op die grond hou. Hou dié gestrektheid dertig sekondes lank.
NOG VIER redes waarom jy sukkel om te stap:
Aambeie. Dié toestand kan stap besonder ongemaklik maak. Kry medikasie by die apteker of dokter.
Swak aargesondheid. Dit kan pyn in jou bene veroorsaak. Stap totdat jou been begin pyn. Rus dan totdat die pyn ophou. Stap verder.
Diabetiese senuweeskade. Dit het ’n naalde-en-spelde-gevoel tot gevolg, en selfs gevoelloosheid. Hou aan stap, maar kyk mooi waar jy trap aangesien jou brein en jou voete nie meer so goed met mekaar gekoördineer is nie. Jou dokter kan iets voorskryf wat jou senuweestelsel ondersteun.
Swak bloedsirkulasie. Wanneer ons ouer word, verswak ons aarkleppe. Die bloed word nie meer so maklik na die hart teruggestoot nie, wat tot pyn in ver-al die bene aanleiding gee. Stap sal die spiere versterk wat die bloed terug na die hart toe stoot. Stap bly dus goed vir jou. Maar stap rustig. En hier is ’n wenk: Voor jy begin stap, lig jou voete hoër as jou kop en lyf. Hou dit tien minute in dié posisie. Herhaal dit nadat jy van die stappie af teruggekom het. Dit help met die bloedvloei na jou hart.
Loer gerus op ons gesondheidsblad vir nog artikels oor jou liggaam en goeie gesondheid.