DEUR CONETTE LE ROUX
“Ek is dankbaar vir die ouers wat mý gekies het om die surrogaatma vir hulle baba te wees,” vertel Angelique Butler, ’n 30-jarige enkelma van Montagu in die Wes-Kaap.
Angelique, wat tydens die onderhoud 25 weke swanger was, sê dit verskaf vir haar groot vreugde om op dié manier vir ’n kinderlose paartjie hoop te gee én te wys dat niks vir God onmoontlik is nie.
Maar, verduidelik dié naeltegnikus, sy is ook dankbaar vir die reis en hoe dit haar as mens ryker gemaak het. “Ek het die afgelope jaar baie hartseer en seer ervaar. Ek was in ’n verhouding, maar dit het nie uitgewerk nie. Dié swangerskap het my gehelp om myself te vind en te fokus op my, my kinders en die babatjie se gesondheid,” sê Angelique.
LEES OOK: ‘Deel van my sterf saam met my baba, maar God bring weer vreugde deur surrogaatma’
Angelique vertel sy het voorheen soms verkeerde keuses gemaak, maar die swangerskap het haar gedwing om besluite te neem wat nie spanning op haar en sodoende die baba plaas nie.
Mandy Rodrigues, ’n kliniese sielkundige wat al meer as 20 jaar surrogaatassesserings* doen, beaam dat Angelique die afgelope ruk geweldig persoonlik gegroei het. Mandy het Angelique en die voorgenome ouers geassesseer en staan hulle verder deur middel van berading by.
Volgens Mandy is Angelique die ideale surrogaatma omdat sy goed kommunikeer, goed reageer op soms negatiewe terugvoer, ander inspireer met haar reis (via Facebook) én uiters trots is op haar rol as surrogaat.
Hoewel Angelique nie tans ’n lewensmaat het wat haar kan ondersteun nie, is sy dankbaar vir haar ouers en ’n goeie vriendin wat haar bystaan.
Angelique kan ook nie uitgepraat raak oor die ouerpaar wie se baba sy dra nie. “Ons het van dag een af gekliek. Ek kry volle ondersteuning van die ouers wie se baba ek dra. Hulle is wonderlike mense – vir enigiets waarmee ek sukkel is hulle net ’n oproep ver. Hulle woon ook elke ‘scan’ en doktersafspraak by,” vertel sy.
Angelique het self ’n 7-jarige dogtertjie en 10-jarige seuntjie. Die wet vereis dat ’n surrogaatma ten minste een gesonde kind van haar eie moet hê. Volgens Angelique kommunikeer sy deurlopend met haar kinders oor die baba wat sy vir ’n ouerpaar dra. Sy sê albei haar kinders is bewus daarvan dat die baba nie hulle boetie of sussie is nie.
Angelique verduidelik: “My dogtertjie is my grootste ondersteuner. Sy het dit saam met my beleef toe ek so naar was (Angelique was twee keer in die hospitaal omdat sy niks kon binnehou nie). Haar drukkies en soentjies het alles beter gemaak. Sy weet dat ek ’n baba dra vir iemand anders, en sy weet ook dat sy nie die baba gaan sien nie, behalwe op ’n foto. Sy aanvaar dit so. My seuntjie (wat by sy pa in Clanwilliam woon) weet ook dat ek iemand anders help om ’n gesin te voltooi.”
LEES OOK: ‘God leef!’ vertel ma ná aanneemseun haar opspoor
Haar pad as surrogaat was vir haar tot dusver net positief. Die enigste ongemak, vertel sy, was toe sy op ’n stadium vir 11 weke lank 84 hormoonpille per week moes drink. Dié pille was sodat haar liggaam kon “dink” dat sy swanger is nadat die embrio in haar baarmoeder geplant is.
Hoewel surrogaatskap in sommige ander lande taamlik winsgewend kan wees, is dit nie die geval in Suid-Afrika nie. ’n Surrogaatma moet dit vir onbaatsugtige redes doen en die voorgenome ouers mag slegs die mediese kostes en enige ander onkostes rondom die swangerskap betaal. Die aanvanklike assessering van die surrogaatma bepaal as ’t ware of haar “hart op die regte plek is” en of sy dié onselfsugtige daad wel om die regte redes doen.
Dié “Mej Sonneblom”, soos sy na haarself op sosiale media verwys, wil ook ná die baba se geboorte vir nog iemand hoop bring. Daarom is sy tans besig met opleiding as “caretaker”. Sodra sy vroeg in 2022 herstel het na die keiser gaan sy begin om daagliks na iemand om te sien wat nege jaar gelede in ’n reuse-motorongeluk was, en verlam gelaat is.
“Ek wil hom weer hoop gee vir die toekoms. En my werk by hom gaan vir my ’n vaste inkomste beteken,” sê Angelique.
*Wetgewing bepaal dat die surrogaat (sowel as die ouers) in diepte deur ’n sielkundige geassesseer word om te verseker dat beide partye emosioneel voorbereid is vir die proses.
- Kliniese sielkundige Mandy Rodrigues kan by mandy@medfem.co.za gekontak word.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.