LiG Tydskrif

‘Beskou jouself met sagter oë,’ sê kunstenaar Petronel Baard aan haar 16-jarige self

DEUR PETRONEL BAARD

Ek onthou hoe ek, toe ek 16 was, by ’n vrouefunksie vir Lentedag ’n liedjie uit My fair lady by Villiersdorp se skougronde gaan sing het: “The street where you live”.

Dit was 1 September 1992 en die hele, pragtige dorp het geruik na bloeisels.

Ek het geloop en dink, huppel, stap en sing: “Blomme in my hare, blomme in my oë …”

’n Mens is ’n bloeisel op 16, so jonk en vol belofte, vol drome.

LEES OOK: ‘Jy ís mooi, slim en goed genoeg,’ skryf Esté Gross in brief aan haar 16-jarige self

Ek het gewéét ek gaan in die kunste werk en wie sou kon raai, 30 jaar later, doen ek selfs ’n vertoning: ’n Blom in elke vrou. So draai die heelal!

Daar was so ’n paar goed waaroor ek reg was op 16 – tyd saam met jou familie en ouers, is kosbaar. Onvervangbaar.

Ek was ook reg dat die lewe stresvol is, maar ek was ook te hard op myself as gevolg van dit.

Ek sou nou vir daai meisie sê om nie bang te wees nie, maar die lewe stap-vir-stap te geniet, altyd balans in alles na te streef en dat sy volkome genoeg is.

Ek kan nie dit genoeg benadruk nie.

Ek het redes gehad hoekom ek dit nie toe kon besef nie en op die ou einde is dit ook goed so. Leer jou lesse en bewaar jou hart, die Bybel sê dit ook: “Alles werk ten goede mee vir die wat die Here liefhet”.

Dít op sigself herinner ons aan die Goddelike boodskap van liefde, dat liefde alles is, want God is liefde.

Ek moes en moet steeds baie draaie loop om myself met sagter oë te beskou, met liefde na daai dromer van jare gelede te kyk en om met dieselfde deernis ander te bejeën. Ook moet ek keer op keer myself vergewe.

Dit som dit maar net weer vir my op: Daar is ’n blom in elkeen van ons en dit verdien al die sorg in die heelal.

Soek wat goed en reg is, in jouself én ander en al die ander goed, sal vir jou bygevoeg word.

Laastens net die herinnering dat humor van die beste medisyne is wat ’n mens kan kry. Lag! Dit hou ons jonk van gees.

Die digter Mardene Marais stel dit so: “Uitbundig – Ons bons, God giggel”.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.