Vir Jeannette Geldenhuys-Smit was dit altyd ’n emosionele uitdaging om ’n brief aan haar biologiese moeder te rig. Sy het, byvoorbeeld, geworstel met ’n moontlike aanhef. “Liewe Mamma” het nie reg gevoel nie; “Beste biologiese moeder” was te klinies. “Éintlik,” sê Jeannette vandag, “is sy bloot die vrou wat my in die wêreld gebring het.”
Die skande, wat weggesteek is
Jeannette is in 1961 in Kroonstad gebore. Dit was ’n tyd toe buite-egtelike swangerskap as ’n skande beskou is. Sy reken haar moeder het ’n moeilike tyd deurgemaak aangesien sy as ’t ware vir die gemeenskap “weggesteek” is.
Uiteraard moes sy die kleinding vir aanneming beskikbaar stel. Jeannette vertel: “In daardie jare is daar nie juis aandag gegee aan die emosionele welstand van sulke jong meisies nie. Hulle moes voortgaan met hul lewe asof niks gebeur het nie.”
LEES OOK: KYK: ‘Glo daar is ’n God – want hiér is my ma,’ sê seun ná 40 jaar
Eers as volwassene, en nadat sy self ’n ma geword het, het Jeannette werklik die impak van moederskap begryp. “Jy gee jouself prys en jy offer jou drome op om jou kinders te versorg.”
Sy besef nou dat haar biologiese moeder waarskynlik ook skanse om haarself moes bou om te kon oorleef.
‘Ek is vir die tweede keer verwerp’
Jeannette het haar biologiese ma opgespoor, maar hulle het mekaar nooit ontmoet nie. Sy het wel ’n Facebook-foto van haar gevind.
Jeannette vertel: “Ek het die foto vergroot om na haar gelaatstrekke te kyk. Ek het na die wipneus gekyk, na die moesies, na die vorm van haar hande.”
Die verhouding tussen hulle het egter tot vier telefoongesprekke beperk gebly.
Tydens een van daardie gesprekke is Jeannette deur haar ma gewaarsku om nooit aan haar deur in Stellenbosch te kom klop nie. “Sy het gesê sy sal die polisie bel as ek daar opdaag.”
Hierdie dreigement was soos ’n klap in Jeannette se gesig, en die afstand wat daar reeds tussen hulle was, het verder vergroot.
’n Ander groot leemte is die identiteit van haar biologiese pa. Jeannette verwys na hom as die “x-faktor”. Sy vertel: “Ek weet hy het ’n lang, slap motor gery, en dat daar ’n ‘x’ in die registrasienommer was.”
Maar ondanks al haar pogings om inligting te verkry, bly haar vrae oor haar pa onbeantwoord.
‘My fantasieë het my getroos’
Soos baie aangenome kinders het Jeannette dikwels haar eie verhale geskep om die leemtes in haar verlede te vul. Sy vertel: “Ek het my verbeel dat my ma met my geboorte oorlede is en dat ek daarom vir aanneming beskikbaar gestel is. Ek het my selfs wysgemaak daar sal eendag ’n brief van ’n prokureur kom wat sê dat my biologiese vader my opgespoor het en my wil ontmoet.”
Hierdie fantasieë het troos gebied, maar Jeannette was bewus daarvan dat hulle nie op die werklikheid gegrond is nie. “Dis gevaarlik,” sê sy vandag, “want jy begin glo aan die dinge wat jy jouself vertel.”
Dan voeg sy by: “Dit klink dalk nie so nie, maar ek het haar lankal vergewe.” Sy reken wel dat 31 Oktober, haar verjaardag, ’n moeilike dag vir haar moeder is. “Ek glo sy is al 62 jaar lank van dié datum bewus. Daar kom sekerlik nagte wat sy wakker lê, en spyt is …”
Jeannette sê dat verwerping vir haar meer inhou as bloot die “stigma” om ’n aangenome kind te wees. “Ek is reeds in die baarmoeder verwerp,” sê sy. “Dit gaan nie net oor die kinders wat jou by die skool spot omdat jy ’n ‘optelkind’ is nie; dis ’n dieper seer van om nie aanvaar te word nie.”
Die belewenis van verwerping het haar lewenslank beïnvloed. Sy onthou hoe sy voortdurend haar ma se goedkeuring gesoek het, selfs al was dit net in haar verbeelding.
Jeannette se gesin het geleer om oor die situasie te lag, alhoewel daar ’n dieper waarheid onder die lag lê. “Hulle spot met my oor my stories,” sê sy, “want ek vertel dit dikwels asof dit die waarheid is. Dis heerlike ontvlugting, maar ek weet dis net drome.”
Alhoewel die reis na haar biologiese wortels nie was wat Jeannette gehoop het dit sou wees nie, is sy dankbaar vir die kennis wat sy wel opgedoen het. “Ek weet nou wat die feite is,” sê sy.
“Maar as ek die horlosie kon terugdraai, sou ek eerder wou bly wonder. Die tweede verwerping het my harder geslaan as die eerste.”
Ook die kinders word geraak
Hierdie situasie het nie net Jeannette se lewe beïnvloed nie, maar ook dié van haar twee dogters, Nelien en Imke.
Nelien vertel: “My ma se familiegeskiedenis het nie slegs ’n invloed op haar gehad nie, maar ook op my en my sussie. Verwerping is ’n ervaring wat oorgedra word na ’n mens se familie, veral na die dogters. Dit was vir lank iets waarteen ek moes veg.
“Soms steek die ‘verwerping-gogga’ steeds sy kop uit, veral as verhoudings vou. Én nadat ek vir my ‘ouma’ op Facebook ’n boodskap gestuur het – en sy my laat weet het dat ek haar nooit weer moet kontak nie omdat sy nie kleinkinders het nie.”
Nelien is egter dankbaar vir die voorbeeld wat Jeannette vir hulle stel. Sy sê: “My ma was daar vir alles. Sy het nooit iets gemis nie. Dit het my geleer dat generasie-siklusse gebreek kan word.”
‘Ek is trots op wie ek geword het, ten spyte van …’
Jeannette bly positief. Sy is dankbaar vir Piet en Nellie Geldenhuys wat haar as baba aangeneem en op die hande gedra het. Sy het besluit om haar lewe voort te sit, met of sonder haar biologiese moeder se aanvaarding. “Ek het vrede gemaak met die feit dat ons verhouding nooit dieper as enkele gesprekke sal wees nie,” sê sy. “Ek het besef dat my identiteit in my hemelse Pa gegrond is en nie in aardse bande nie. Ek bid dat sy op 84-jarige ouderdom ook vrede gevind het.”
Vir Jeannette gaan die lewe aan. Sy bly hoopvol oor die toekoms en sy fokus op haar kinders, en haar man Hendri Smit. “Ek kan nie langer probeer om iets uit die verlede te herstel wat nooit daar was nie,” sê sy. “Ek het ’n wonderlike kinderlewe gehad. Ek sal wel aanhou om my storie met ander te deel, want ek weet daar is mense wat ook hoopvol wag op die dag dat hulle hul biologiese moeder van aangesig tot aangesig sal sien.”
Sy glimlag, en voeg by: “Ek is trots op wie ek geword het, ten spyte van alles.”
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.