Die getuienis van Martha Louw, wie se seun haar ná 40 jaar opgespoor het, het LiG-lesers landwyd aangegryp. Ons het in ’n eksklusiewe onderhoud met hulle twee gesels oor die moeilike pad voor hulle herenig is.
DEUR CONETTE LE ROUX ; FOTO EN VIDEO: ROBERT CABLE
“‘Hoe lyk Ouma?’
“Só het my negejarige seuntjie gevra toe ons op OR Tambo-lughawe op my ma gestaan en wag het.
“‘Ek weet nie,’ het ek eerlik geantwoord.”
Wilhelm Louw was reeds 40 jaar oud toe hy sy biologiese ma vir die eerste keer ontmoet het. “Dit was ’n oorweldigende blydskap,” vertel hy by sy huis in Rustenburg, Noordwes. Hy is die groepbestuurder veiligheidsvoldoening by ’n myn buite dié dorp.
“Dit was nie asof jy die persoon al ooit gesien het nie. Sy was nooit daar nie. En dit is wat dit so spesiaal gemaak het. Dit was die blyste ontmoeting van my lewe.”
‘God leef!’
Styf langs hom sit sy ma, Martha Louw.
’n Bietjie meer as ’n jaar gelede het die bekommernis en verlange na haar eersgeborene steeds aan haar gevreet. In daardie stadium het Wilhelm reeds gehoop dat die soektog na sy ma byna verby is.
Kort ná haar en Wilhelm se ontmoeting het Martha haar aangrypende getuienis met LiG-lesers gedeel. Hier het sy vertel hoe dankbaar sy is dat haar seun haar opgespoor het. Sy het nou ook ’n skoondogter en ’n kleinseun bygekry.
Martha was 21 jaar oud en ongetroud en het op haar ouers se aandrang haar baba laat aanneem. Ná Wilhelm se aanneming is sy getroud en het nog twee seuns gehad. Sy vertel hoe eensaam haar lewensreis was omdat sy nie werklik met ander oor haar groot hartseer kon praat nie.
“My woestyn was droog. Maar ek het by die eindpunt uitgekom. Moet nooit ophou bid nie. God leef! Bly by sy voete. Die Here bepaal alles.”
’n Ontstellende waarheid
Intussen leer dié ma en seun mekaar beter ken deur gereeld saam te kuier. Dis juis tydens een van dié kosbare kuiers dat LiG met Wilhelm en Martha gesels het.
Wanneer jy Wilhelm uitvra oor hoe hy sy biologiese ma uiteindelik opgespoor het, begin hy sy verhaal by die skok en onsekerheid van ’n 11-jarige seuntjie wat pas ’n ontstellende waarheid moes aanhoor.
“My aangenome ouers het my op ’n dag gesê hulle wil my ’n storie vertel. Wanneer iemand jou op daardie ouderdom so iets sê, verwag jy ’n sprokiesverhaal. Maar toe vertel hulle my ek is aangeneem. ‘Ons is nie jou regte ouers nie, maar ons maak jou groot as ons eie.’
“Dit was ’n groot skok. Ek onthou ek wou net wegloop. Ek het gevoel: As hulle dan nie my familie is nie, wat soek ek hier?”
Net twee brokkies inligting
Uiteindelik het hy dit aanvaar en met sy lewe voortgegaan.
Maar ook die verdere paadjie was nie sonder duwweltjies nie. Daar was nóg verliese: Wilhelm se aanneem-ma is oorlede toe hy 16 was, en daarna het sy verhouding met sy aanneem-pa versuur.
Wilhelm vertel hoe hy besef het dat hy altyd die behoefte om berusting oor sy herkoms te kry in sy hart saamgedra het.
Dit was wel eers sowat vyf jaar gelede dat hy werklik na sy ma begin soek het. Eers slegs deur Facebook.
Maar twee jaar gelede het hy ’n professionele persoon gekry om hom met die soektog te help.
Hy het net twee brokkies inligting gehad: dat hy as Wilhelm Louw gebore is, en dat die geboorte in Bloemfontein plaasgevind het.
Sonder ’n geboortesertifikaat en met slegs dié twee feite het die soektog begin.
Ná 40 jaar – Kanaän
Twee jaar later, in ’n Oos-Kaapse dorp, lui Martha Louw se foon. Toe sy antwoord, groet haar seun haar.
Wilhelm vertel hoe swaar die jare was voor hy sy ma gevind het. Maar hy het nooit moed opgegee nie. “Dit maak nie saak hoe diep jy in die put is nie; die lig daarbo bly altyd skyn. Moet nooit hoop opgee nie. En glo daar is ’n God.
“Want hiér is my ma …”
Wanneer hy dit vertel, loop die trane uit die blou oë wat hy duidelik van haar gekry het.
“Daar was 40 jaar lank net woestyn – maar ek het toe wel Kanaän bereik.”
- Martha en Wilhelm Louw se video-onderhoud is vir die eerste keer tydens LiGter, LiG se aanlyn tydskrifprogram, op Saterdag 30 Oktober uitgesaai.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.