Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

‘Bestee’ jou lewe – moet hom nie ‘spaar’ nie

DEUR ESMARIE YSSEL

Ek lees onlangs ’n aanhaling – oe, en ek’s stout vir ’n mooi aanhaling! – wat lui: “Bestee jou lewe. Moet hom nie spaar nie.” En dít maak toe die gedagtes in my kop los.

Soms voel dit of ons net gebore is om elke maand die stapel rekeninge – wat saam met grootmenswees kom – te betaal en dood te gaan. Daar gebeur net té gereeld – tussen die eerste en laaste dag van ’n maand – té min om dít wat ons hier doen “lewe” te noem. Soms bestaan mens net. Want ja, die verantwoordelikhede vir ’n middelinkomstegroepmens om ’n huishouding op dreef te hou verg geld. En genoeg geld vir gemaklik leef is nie vir ons almal beskore nie.

LEES OOK: ‘Daar is werklik krag in gebed,’ sê Standerton se ‘miracle man’

Het jy toe jy jonger was groot drome gedroom en vir jouself doelwitte gestel wat in die gejaag van die lewe maar net agterweë gebly het? Ván ons studeer, ons begin ’n loopbaan, ván ons trou, ván ons kry kinders en iewers in die roesemoes van die lewe se verloop verloor ons onsself en vergeet skoon van ons drome.

Maar wat hou jou regtig terug? Is dit jou werk, is dit tyd, is dit geld, is dit verskonings, is dit dalk jou selfbeeld?

Dis nóú tyd vir introspeksie en om dié vrae indringend aan jouself te stel én dit te beantwoord.

Ondanks jou antwoord, móét daar eenvoudig ’n goue middeweg wees.

“Waar lê daai middeweg?” vra jy dalk nou. “Wys hom vir my en ek vat hom nóú! Weg van my roetine, weg van my gemaksone.”

Dis dalk nie maklik nie, maar dit is moontlik.

Die finansiële afrigter en motiveringspreker, Wilco Naumann, skryf: “Daai boek gaan homself nie skryf nie. Daai besigheid gaan homself nie begin nie. Verskonings is leuens wat van jou toekoms steel. Begin. Vanaand.”

Sou jou antwoord selfbeeldprobleme wees, moet asseblief nie jou selfbeeld op sosialemediaplatforms – waar jy moet uithaal en wys vir volgers – gaan probeer opbou deur middel van likes van onbekende mense nie.

Jy’s nie veronderstel om te leef of goed oor jouself te voel slegs van een tydelike mensgemaakte hoogtepunt tot die ander nie. Vreugde is diep gewortel. In God gewortel, in jouself gewortel.

Gaan eerder van al daai platforms af en bring meer tyd deur saam met mense wat alles van jou waardeer en bring meer gehaltetyd deur saam met die Vader en jouself. Jy sal dalk gouer as wat jy dink agterkom hoe kosbaar, uniek en onvervangbaar jy is.

Jou Skepper het nog altyd gedink jy’s genoeg.

LEES OOK: God se ekonomie van genoeg

Sou jou lewensrem tyd wees, neem jou tydsbestuur in heroënskou. Kyk wat regtig elke dag jou tyd opslurp, fokus die bietjie tyd wat jy het op dié dinge wat jou lewe gaan verryk en moet dit nie verkwis op onbenullighede nie. Onbenullighede is dié dinge, dié take, dié mense en dié gewoontes – soos sosialemediaskermtyd – wat die wysers van die horlosie vinniger laat tik, maar niks opbouends tot jou dag se 24 ure bydra nie. Kies waarmee jy jou dag wil vul. Let wel, ek sê nie jy moet nie rus prioritiseer nie. Jy kort dit netsoveel as produktiwiteit.

Die loopbaan en besigheidsafrigter, Murielle Marie, sê: “There’s nobody keeping you where you are right now but yourself. Being stuck is a feeling, not a fact. In most cases it’s not even you who’s doing it, but ideas and thoughts that you’ve internalise and that aren’t yours to begin with.”

Kom ek en jy vra vir onsself vandag die vraag af: Wat hou my terug? En ons werk daadwerklik daaraan om dít wat ons terughou uit ons lewe, psige en gedagtes te kry.

Kom ons bestee elke liewe sent van ons lewe!

  • Esmarie Yssel is joernalis, programregisseur en omroeper by Pretoria FM.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF