DEUR MARTJIE ROOS; FOTO’S SA RUGBY, ABRI KRUGER EN OUTSIDER MEDIA
“Toe ek op hoërskool in Bloemfontein was, het ek uit die koshuis geglip wanneer ek my huiswerk moes doen. Dan het die onderwysers geweet om my op die rugbyveld te gaan haal.” Só vertel Neil Powell, hoogs suksesvolle afrigter van die Blitsbokke, en een van die bekendste gesigte in die wêreld van sewesrugby. Rugby was van altyd af ’n passie, vertel dié boorling van Windhoek in Namibië. “Kleintyd het ek daarvan gedroom om vir die Springbokke te speel, maar dis toe nooit bewaarheid nie.”
Die Here se ander planne
Hy sou nooit kon dink dat hy ooit ’n afrigter op die hoogste vlak sou word nie. “Ek is te veel van ’n introvert,” sê Neil. “Ek het in my jonger dae gedink: Mense maak my moeg; ek hou meer van diere. Ek wou dus eerder gaan boer. “Maar die Here het ander planne vir my gehad. Hy het gou vir my gewys my planne is nie sy planne nie.” Nadat hy aan die Hoërskool Sentraal in Bloemfontein gematrikuleer het, het hy ’n graad in Menslike Bewegingskunde aan die Universiteit van die Vrystaat behaal en daarna sy honneursgraad in biokinetika verwerf. Daar het sy rugbyloopbaan goed op dreef gekom en hy het in 1998 vir die Shimlas en later ook vir die Cheetahs uitgedraf. Hy vertel: “Ek en my broer Jimmy het albei vir die Vrystaat gespeel, en ons was so soort van mededingers. Soms was ek in die span en hy op die reserwebank, en soms was dit andersom.” Sy loopbaan as speler het hom onder meer na die Sharks geneem, en Griekwas en die Blou Bulle. Toe, van 2007-2012, draf hy vir die Blitsbokke op die veld. En in 2013 word hy aangewys as afrigter van die Blitsbokke. Sedertdien het hy die span tot groot hoogtes gelei, waarvan die goue medalje by 2014 se Statebondspele in Glasgow ’n hoogtepunt was. En, heel onlangs, die goue medalje by die Statebondspele in Birmingham ná ’n triomfantelike oorwinning van 31-7 oor Fidji in die eindstryd.
LEES OOK: Gouemedaljewenner Anruné: ‘Ek eer God vir wat Hy in my en my pa se lewe gedoen het’
Die mentor
“In die laaste twee jaar wat ek vir die Blitsbokke gespeel het, was ek meer dikwels op die plaasvervangerbank. En dis waar die afrigting eintlik begin het. Ek het soms vir die jonger ouens wenke gegee terwyl ons oefen, en ek het agtergekom ek hou daarvan. “In daardie tyd het ek ook praatjies by skole gelewer.” Algaande het dit ’n passie by hom geword om jong rugbyspelers te mentor en goeie waardes en dissipline by hulle te kweek. En om ’n Christelike grondslag by hulle te lê. “Dit was vir my verrykend om in my tyd as afrigter te sien hoe die jong manne trou en kinders kry. Dit was goed om te beleef dat hulle hul Christenskap uitleef. “Dit het nie altyd vir my gegaan om hulle op die rugbyveld te laat presteer nie, maar ook om die suksesverhale weg van die veld te beleef. Dit het dit vir my die moeite werd gemaak om hulle af te rig.” Om ’n groep jong spelers uit verskillende tale, kulture en agtergronde in ’n span saam te snoer, is ’n reuse-uitdaging. Neil vertel: “Buitestanders mag dalk dink dis nie so moeilik nie. Maar wat in die Afrikaanse kultuur aanvaarbaar is, is dalk nie in die Engelse of Zoeloe- of Xhosakultuur nie. Die spelers leer egter gou dat sekere waardes ononderhandelbaar is. En dat daar ’n bepaalde manier is om dinge te doen, ongeag uit watter kultuur jy kom of watter taal jy praat. “Dieselfde geld geloof. Ons het ’n Christelike grondslag, maar ons respekteer mekaar se geloofsoortuigings. As daar ’n Moslem in die span of die bestuurspan is en hulle moet op ’n Vrydag gaan bid, mag hulle die bepaalde oefensessie misloop om hul geloof uit te leef.” Neil vertel graag watter rol die span se Christelike grondslag in die kultuur en die samehorigheid van die Blitsbokke speel. “Die meeste spelers is Christene, maar ons respekteer elkeen se geloof. “Ons praat van ’n ‘band of brothers’.”
Die gesinsman
Neil se vrou Tanya is ’n groot steunpilaar in sy lewe. Hy vertel: “Ek het Tanya in 2009 op Stellenbosch ontmoet toe ek my arm gebreek het. Tanya was ’n biokinetikus by Coetzenburg-rehabilitasiesentrum, en ek het haar raakgesien nog voor ons mekaar ontmoet het. “’n Gemeenskaplike vriend, Steph Nel, het voorgestel dat sy my rehabilitasieprogram behartig. Ons het mekaar toe beter leer ken, en verlief geraak. Ons is in 2010 getroud.” Hulle het twee seuns, Joshua (10) en Caleb (6). “Tanya het ná Joshua se geboorte ’n tuisbly-ma geword,” vertel Neil. “Ons het besluit ons wil ons kinders ons waardes leer, en omdat ek so dikwels en vir sulke lang tye oorsee getoer het, het ons gevoel dis goed dat een ouer by die huis is.” Joshua en Caleb kyk graag na die Blitsbokke se wedstryde. “Hulle huil saam wanneer ons verloor en hulle is bly wanneer ons wen.” Dis vir Neil moeilik om dikwels lank van die huis te wees wanneer die Blitsbokke speel. Daar is gereelde toernooie in onder meer Singapoer, Dubai, Engeland en die VSA. “Wanneer ek dan ná ’n toernooi tuis is, bring ek graag gehaltetyd saam met my gesin deur. Ons gaan dan gewoonlik so twee dae lank Hermanus of Robertson toe.” Nou het daar ’n nuwe fase in Neil se loopbaan aangebreek. In September verhuis die Powells Durban toe waar Neil die nuutaangestelde direkteur van rugby by die Sharks word. “Dis ’n wonderlike beroepsgeleentheid wat ek nie deur my vingers kon laat glip nie,” vertel Neil. “Daar is wel ook ’n hele klompie nuwe uitdagings, soos die kinders wat nou na Engelse skole moet gaan.” Rugby sal altyd Neil se eerste liefde bly. Maar, bieg hy, iewers in sy agterkop is daar steeds die droom van ’n plaas. Dit sal egter vir eers ’n droom moet bly …
- Dié artikel verskyn ook in die Lente-uitgawe van die gedrukte LiG wat nou op winkelrakke is.