DEUR JOHANNES DE VILLIERS
Hulle is oral om ons, die stukkende mense. Maar hoekom loop hulle dan nie knaend krom onder hul las nie? Waarom word hulle nie deur hul slagofferskap verswelg nie? Omdat daar iets met hulle gebeur het, iets onvoorsiens, wat hulle wyser en sterker gemaak het.
Ons was reeds meer as tien jaar lank vriende toe dr Ronell Bezuidenhout my op ’n dag vertel hoe sy haar been verloor het.
Ronell is ’n pastor in die Lutherse kerk en die skrywer van ’n klompie boeke. Sy hanteer ook ’n enorme aanlyn bediening.
En sy is ’n gestremde persoon.
Ronell maak nie ’n bohaai oor haar gestremdheid nie. Sy is trouens so gemaklik in haar lyf dat ’n mens ná jare se vriendskap skaars oplet sy het ’n kunsbeen.
Maar vandag vertel sy my, uiteindelik, hoe sy beseer is.
Dit was 1981, en sy was ’n 17-jarige van Welkom met ’n blink toekoms voor haar, vol hoop om ná skool in musiek te studeer.
Een Sondagmiddag het haar pa haar vir ’n rit op sy motorfiets op een van die Goudveld se deurpaaie geneem. ’n Bakkie het uit die bloute teen hulle vasgery. Toe Ronell tot haar sinne kom, was haar regterbeen morsaf. Soos haar pa s’n.
Tydens die weke wat sy in die hospitaal moes deurbring, het mense haar positiewe gesindheid geloof. Die dominee het opgemerk sy maak ’n preekstoel van haar siekbed.
Haar musiekdrome was daarmee heen. Jy kan immers nie juis orrel speel as jy slegs een been het nie. Maar sy was dapper. Hoe kon sy huil as haar pa in die hospitaalkamer langs hare lê en swaarkry?
En tog, al het sy so moedig gelyk, was haar gemoed stukkend. “Toe die verpleegpersoneel my op ’n dag in my bed op die stoep uitstoot, het ek my weerkaatsing in ’n venster gesien. Die kort beentjie het so in die lug gehang.”
Uiteindelik het haar trane begin vloei.
Stukkende mense om ons
Ronell is een van die mense met wie ek die afgelope klompie maande gesels het oor hoe die lewe hulle gebreek het. Dalk let jy hulle ook deesdae op, die stukkende mense.
Dalk is dit mense wat iets van hul lewe tydens Covid-19 verloor het. Of iemand wie se gemoed deur die daaglikse beurtkrag gebreek is of deur ’n onsekere toekoms geknak is.
En dalk het dit jou ook laat wonder: Hoe leef ’n mens as jy stukkend is? Dis tog haas onmoontlik om nie afgeknou te voel deur al die dinge wat die afgelope drie jaar gebeur het nie. En ons weet steeds nie wat die toekoms vr ons inhou nie.
Tog moet ons die lewe lééf. Aangaan. Kop bo water hou.
Maar hoe?
Die stukkende mense met wie ek gepraat het, vertel uiteenlopende verhale. Daar was ’n man van Bloemfontein wat sy loopbaan moes opgee ná ’n traumatiese breinbesering, en ’n vrou uit Stellenbosch wie se kind deur ’n haai doodgebyt is. Daar was ’n vrou wat die slagoffer van seksuele geweld was, en iemand wat die verwoesting van die Suidoos-Asiese tsoenami aanskou het. En Ronell.
Ek het verwag ek sou mense met hol oë en ’n gekromde rug aantref, bejammerenswaardige figure wat deur die lewe platgeslaan is.
Maar toe vind ek die absolute teendeel. Daardie mense wat soveel swaarkry beleef het, is van die mees inspirerende mense wat ek al ooit ontmoet het.
Die man wat sy loopbaan weens ’n breinbesering verloor het, moes opnuut oor sy prioriteite besin en gee nou meer aandag aan sy gesin. Die ma van ’n haaislagoffer doen skryfwerk en lewer praatjies om ander vroue wat ’n kind verloor het te bemoedig. Die vrou wat as kind verkrag is, is nou ’n lewensafrigter wat ander met hul pyn help. Die een met die tsoenami-ervaring het ’n doktorsgraad behaal wat deels handel oor wat sy daaruit geleer het.
En Ronell vertel sy het weldra ’n geestelike verdieping ondergaan.
Sy vertel dat die Bybelversies wat sy aanvanklik so maklik tydens haar siekbed aangehaal het, eintlik ’n skans was, ’n soort pleister vir haar seerkry. Daar het nog ’n lang worstelstryd vir haar voorgelê. En uit dié worsteling is haar belangstelling in ’n dieper, byna mistieke geloof gewek. Haar boeke en haar bediening is uit daardie groeiproses gebore.
“’n Mens leer om óm jou swaarkry te vou,” vertel sy. “Daar is nou geen kwaad meer in my nie.”
Dié stukkende mense deel minstens een belangrike gewaarwording: Nie een van hulle is dankbaar dat hulle pyn moes beleef nie. As hulle hul lewe kon oorhê, sou elkeen eerder die pyn gespaar wou gewees het. Hulle was ná die traumatiese terugslag kwaad, verward en seer.
Maar ná ’n ruk – twee, vyf of selfs tien jaar later – het hulle besef daar is ook groei in hul pyn. Hulle het wyser en selfs sterker uit die proses gekom.
Post-traumatiese groei
Dalk klink dit gek, maar tye soos dié wat ons tans beleef, waar ons finansieel, emosioneel en polities sukkel, kan ook tydperke van geestelike groei wees.
Terwyl post-traumatiese stres ’n welbekende verskynsel is, is sielkundiges lankal reeds bewus van ’n fenomeen genaamd post-traumatiese groei. Kortliks behels dit dat jou swaarkry jou wyser en sterker kan maak.
Let wel: Niemand beweer swaarkry is ’n goeie ding nie. Niemand sê jy moet swaarkry gaan soek nie. Enige redelike mens sou Covid-19, beurtkrag en politieke onstuimigheid wou vermy.
Maar dit is ’n werklikheid dat swaarkry iewers jou pad gaan kruis, ongeag wie jy is. En dikwels, sê die kenners, lei daardie swaarkry tot waarneembare emosionele groei.
Meestal duur dié soort groeiproses etlike jare. Maar wanneer dit wel ’n werklikheid word, neem dit dalk een van die volgende gestaltes aan:
- Soms leer swaarkry jou hoeveel innerlike krag jy het. ’n Vrou wat deur inbrekers in haar huis aangehou is, ontvoer is en ter elfder ure ontsnap het, vertel: “Hoewel dit ’n aaklige ervaring was, is ek nou minder bang vir die uitdagings wat die lewe inhou. As ek sterk genoeg was om dít te oorleef, dink net wat alles ek nóg kan trotseer.”
- Swaarkry herinner jou ook aan die krag buite jou wat jou ondersteun. Vir gelowiges lei dit dikwels tot ’n verdieping in hul verstaan van God. Ronell vertel hoe haar intense worsteling met haar hartseer haar geleer het dat God nie maklike antwoorde en oppervlakkige trooswoorde gee nie. Maar, het sy ook geleer, God is teenwoordig selfs as jy kwaad is en nie verstaan nie. Sy vind aanklank by die God van Job.
- Sommige mense vind ’n nuwe roeping in hul swaarkry – soos die ma van ’n haaislagoffer wat nou ander ouers bystaan wat ’n kind verloor het. Of die vrou wat as kind verkrag is en dit nou as haar roeping beskou om ander se pyn te help verlig.
- Verlies leer sommige mense om hulle in ’n nederiger, meer gestroopte lewe te berus – soos die man wat sy loopbaan ná ’n breinbesering moes laat vaar en nou meer tyd by sy gesin deurbring.
’n Oop, nuwe ruimte
Wat beteken dit alles vir ons, prakties gesproke, in ons virus- en beurtkragvoos samelewing?
Die verhale van mense wat reeds deur swaarkry is, herinner ons daaraan dat pyn nie die einde van jou verhaal is nie. Ja, jy gaan steier en, indien jy enigsins normaal is, seerkry oor wat jy alles verloor het of moes prysgee.
Maar daardie pyn kalwe dikwels ’n ruimte in jou oop waar iets nuuts kan groei.
Dink aan hoe ’n skoenlapper vorm aanneem: Die meeste mense dink ’n wurmpie klim bloot in ’n kokon, kry vlerkies, en breek dan weer uit om ’n vlinder te wees.
Maar dit is nie so nie; die waarheid is anders: Die wurm in ’n kokon smelt. Sy selle word letterlik slym. As jy ’n kokon oopbreek nadat die papie daarin toegespin is, sal jy net ’n jellierige gedoente aantref. Eers nadat die wurmpie heeltemal afgebreek is, word sy selle weer aanmekaar gesit, een vir een, om ’n skoenlapper te vorm.
Soms is ons ergste pyn ook ons transformasie.
As jy voel jy is stukkend en afgetakel, moenie moed verloor nie. Jou pyn is dikwels deel van ’n groeiproses wat jy eers later sal verstaan. Só sê die mense wat reeds daardeur is.
- Johannes de Villiers is ’n skrywer. Hy is ook ’n redaksielid by Huisgenoot. Sy jongste boek, Meer as jou seerkry, het in 2022 by Tafelberg verskyn.