Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Borskanker: ‘God gee my ’n tweede kans’

Kort nadat Chantal Swanepoel en haar gesin na Engeland geëmigreer het, is sy met borskanker gediagnoseer.  Hulle het nie juis vriende in hul nuwe omgewing gehad nie en hul seun was besig met sy matriekjaar in Suid-Afrika. Die uitdagings was groot. Maar God het voorsien. Vandag sê sy haar kanker-pad het geestelike groei meegebring. Hier is haar verhaal in haar eie woorde.

My man en ek en ons sesjarige dogtertjie Taylor het in Oktober 2022 na Engeland vertrek. Ons seun Jaylin moes by my ouers in Suid-Afrika agterbly ten einde sy matriekjaar in 2023 te voltooi. Hy sou hom ná sy eindeksamen by ons aansluit. 

Toe ek iewers in Julie 2023 steekpyne in my linkerbors kry, moes ek my noodgedwonge wend tot Engeland se veelbesproke nasionale gesondheidstelsel (oftewel NHS). Ek het reeds vroeër ’n knop gevoel en gereken dis ’n vetklier. 

Verskeie doktersafsprake het gevolg, ’n mammogram en ’n biopsie. Ek het besef iets is nie reg nie, maar ons het bly dink dis alles bloot roetine-ondersoeke.

LEES OOK: Mev SA-finalis ná borskankerstryd: ‘Mammogramme eers op 40 is bog’

Daardie gevreesde woorde

Ná die biopsie einde Julie 2023 moes ek die dokter alleen besoek. Ons het toe nog nie vriende gehad wat na Taylor kon omsien nie en my man Louis moes na haar kyk.

In die spreekkamer moes ek daardie gevreesde woorde aanhoor: “Dit is kanker.”

Ek kan nie onthou of ek gehuil het nie; die skok was te groot. Ek kon dit doodeenvoudig nie glo nie. My emosies was in ’n warboel.

Die woord “kanker” het soos ’n doodsvonnis oor my gehang en ek het myself onophoudelik afgevra: “Hoe lank gaan ek nog leef? Wat lê vir my voor?”

Intussen sou ek twee dae later Suid-Afrika toe vlieg vir Jaylin se matriekafskeid en ’n verrassingspartytjie vir my pa. Hy het 70 geword.

Die dokter het my aangeraai om eerder tuis te bly en dadelik met die behandeling te begin. Ek het getwyfel. Kies ek vir die samesyn en herinnerings maak met my geliefdes, of begin ek met die behandeling in ’n vreemde land?

Ek was steeds vol onsekerhede toe ek die volgende oggend vir ’n MRI-skandering en bloedtoetse aanmeld. Dit sou die begin van vele hospitaalbesoeke en etlike toetse wees. Terwyl ek daardie Saterdagoggend gewag het dat die skandering begin, het ek my onsekerhede oor die onmiddellike toekoms met die suster aan diens bespreek. Sy het gereken ek moes Suid-Afrika toe gaan. En ek het.

Ek wou niemand ontstel nie

Nie een van my mense in Suid-Afrika het van die diagnose geweet nie. Ek wou niemand ontstel nie. My moeder is met kanker gediagnoseer toe sy 41 was en sy sou slegs ses maande leef. Maar die Here het toe reeds vir ons gewys hoe sy wonderwerke lyk, want vandag, 24 jaar later, is sy steeds deel van ons lewe.

My grootste dilemma was of en hoe ek die nuus aan Jaylin moes oordra. Sy matriekeksamen was om die draai. Boonop is ’n jong onderwyseres wat hy geken het die vorige jaar aan borskanker oorlede.

Met verloop van tyd het ek ’n handjievol van my mense in my vertroue geneem. ’n Week voor ek weer Engeland toe moes vlieg, het ek my ouers vertel. Ons het ooreengekom dat Jaylin niks hiervan voor sy eindeksamen moes uitvind nie.

Deurentyd het ek bly worstel met die soort vrae en vrese wat ’n kankerdiagnose meebring.

Vreemdelinge as aardse engele

Ek was vroeg in Oktober weer in Engeland. Nog ’n MRI-skandering het gevolg, en nog bloedtoetse. En toe die chemoterapie.

Die vrae het sonder ophou gekom: Hoekom ek? Wat het ek gedoen om dit te verdien? Hoe gaan ek hierdeur kom? Gaan ek sterf? 

Die dag toe die dokters vir my ’n binneaarse toegangspoort (oftewel ’n “port”) inplant om die chemoterapie te vergemaklik, was ek weer eens alleen. En ek het gewéns vir ’n bekende gesig naby my.

Die Here het ook daarvoor gesorg. Toe ek reeds in die teater is, het ek besef die dokter kom van Suid-Afrika, en is boonop in dieselfde dorp as ek gebore.

Toe die prosedure begin, het ’n manlike assistent my hand gevat en dit deurentyd vasgehou. En dit was maar die begin van die Here se spesifieke sorg dat vreemdelinge as aardse engele op my kanker-pad sou verskyn.

Tydens elke prosedure en met elke afspraak het die Here iemand oor my pad gestuur: wildvreemdes wat ’n geselsie aanknoop en my aandag aflei. Op ’n dag, toe ek ’n skandering moes ondergaan en ’n soort vloeistof ingespuit is, moes ek ’n uur wag vir die vloeistof om sy werk te doen.

Ek het toe by ’n oorvol koffiewinkel ingestap. Daar was net een oop tafeltjie. Gou het ’n ouerige dame verbygeloop op soek na ’n sitplek. Ek het haar na my tafel toe gewink. Dit het geblyk dat ook sý een van die Here se gestuurdes was. Daardie uur lange wag het soos ’n paar minute gevoel!

Iets wonderbaarliks het gebeur

Voor my eerste chemoterapie-sessie het ek onthou hoe siek my ma daarvan geword het. Sou ek dieselfde pad stap?

Die verpleegpersoneel wat my bygestaan het, was baie ondersteunend. Hulle het my vir enigiets laat kans sien! Ek kon die eerste sessie in ’n gemakstoel aanpak, met ’n uitsig op ou klipgeboue en die mooiste hospitaaltuin denkbaar.

Maar die sessie het skaars begin toe ek die vreemdste pyn ervaar. Ek kon nie asem kry nie en het my bewussyn verloor. En iets wonderbaarliks het gebeur: Dit was kompleet asof ek buite in die tuin stap, met die mooi blomme om my. Ek het voor myself in die gemakstoel kom staan, en ek kon die Here se teenwoordigheid aanvoel.

Toe ek my oë oopmaak, was daar ’n horde verpleegsters en dokters by my, kompleet met ’n hartmonitor en suurstof-apparaat. Ek weet steeds nie wat gebeur het nie, maar ek weet vir seker die Here was daardie dag saam met my.

Die chemoterapie het my nooit regtig siek gemaak nie. Daar was wel minder goeie dae, maar tog ook goeies. Die moeilikste was om al die veranderings te probeer hanteer: my liggaam, my eetlus, my hare wat uitval. Ek het probeer sterk wees.

Alleen en in ’n vreemde land, maar …

Op my kanker-reis moes ek sterk wees ter wille van Taylor. Én ek moes die nuus vir Jaylin wegsteek. Tydens video-oproepe moes ek ’n hoed of ’n mussie dra omdat my lang hare verdwyn het.

Ek wou graag vir hom die waarheid vertel, ek wou hê hy moes weet. Maar dit was belangriker dat hy sy eksamen kommervry aflê.

Jaylin weet nou alles. Hy is hier by ons en hy weet sy ma is oukei.

Om alleen en in ’n vreemde land, en sonder jou familie en vriende, ’n reis soos dié te moes aflê, was bitter moeilik. Maar ons gesin het dit deurgesien. En al was my familie en vriende ook hoe ver, hulle was die beste ondersteunersgroep denkbaar. Hul gebede en boodskappe en video-oproepe het my gedra.

Vandag kan ek getuig dat ek my kanker-reis voltooi het. En dat wonderwerke inderdaad gebeur.

Die Here weet

Is kanker ’n doodsvonnis? Of is dit bloot ’n struikelblok wat jy moet oorkom sodat jou geloof sterker kan word en jy daaraan herinner word dat jy nooit die pad alleen stap nie?

Ja, dis wel ’n struikelblok, maar jy moet daarteen waak dat dit vir jou ’n doodsvonnis word. Die Here weet wat jy nodig het nog voordat jy dit van Hom vra.

Ek het die bekende woorde van Habakuk 3 se beryming telkemale vir myself opgesê en dit het my deur moeilike tye gehelp:

“Die Here my God gee vir my krag,

Hy maak my voete soos dié van ’n ribbok,

op hoë plekke laat Hy my veilig loop!”

Ek is ’n tweede kans gegun. En ek het, deur die almagtige God se genade, sterker aan die ander kant uitgekom. Hy het my kanker-pad tot aan die einde saam met my gestap.

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Projek 108

Ons wil ‘n dringende beroep op medegelowiges doen om ons te help om die Evangelie te versprei – voordat dit te laat is. Jou donasie kan iemand se storie herskryf – nou en hierna…

Hulle Wag

Ons kan die rede wees dat iemand vir die eerste keer vir Jesus leer ken…

Kinderpret-leesreeks

Beleef ‘n avontuurlike leesreis met ons Kinderpret-leesreeks! Vir jong lesers, elke boekie vol pret en leersame avonture…

Kinders van die Lig

Gee geloof en hoop aan kinders deur geloofsboeke in kinders se hande te plaas…

Laat ‘n Ligspoor

Help ons om die boodskap van lig uit te dra en verander kinders se lewens deur die krag van stories…

BybelBouBlokke

Bou saam aan ‘n geestelike toekoms deur die geloof van kinders, gesinne, en lidmate te versterk…

KinderKersKous

Gee ’n geskenk van hoop aan kinders deur hulle lees-met-begrip-vermoë te bevorder en hul geestelike ontwikkeling te ondersteun…

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF