Die moord van ds Liezel de Jager van Amanzimtoti in KwaZulu-Natal op 13 Oktober vanjaar het die hele land geskok. Eendag as Lané en Ila hulle mamma Liezel de Jager se naam google is dit ’n groep NG leraars se droom dat dié dogtertjies eerder iets mooi moet opspoor as net nare nuusberigte. Daarom, vertel ds Rethie van Niekerk, het sy en ds Anatha Nel Vrydag namens ’n groep leraars ’n video en brief aan Liezel se dogtertjies op sosiale media opgedra.
Die brief is saamgestel deur Anatha wat ’n goeie vriendin van Liezel was. Verskeie leraars van die NG Kerk het tot die brief (sien onder) bygedra.
Van Niekerk het ook vroueleraars op ’n Facebookgroep gevra om foto’s met boodskappe te stuur vir ’n video van 4 minute 40 sekondes. “Die video en die brief is vir Liezel se dogtertjies, maar is ook vir dogtertjies oor die algemeen. Hulle moet sien dat hulle waarde het en belangrik is,” sê Rethie.
Liefste dogters van God,
Ons, dominees – vriende en kollegas van julle mamma – skryf vir julle hierdie brief, omdat ons graag vir julle wil vertel hoe kosbaar julle mamma vir ons was. Ons wil graag hê julle moet haar altyd vir haar liefde onthou.
Julle mamma was vir baie van ons ’n geliefde kollega. Sommige van ons het haar reeds op universiteit al leer ken as iemand na wie ons kon opkyk. Sy was vir ons ’n mentor, ’n leier en ’n groot inspirasie.
LEES OOK: Dominee (38) ‘weggeruk in fleur van haar lewe’
Julle mamma – Liezel, soos wat ons haar genoem het – het iets verstaan van “begrip en fyn aanvoeling” vir ander. Mense kon met haar hulle diepste seer deel. Sy het so belanggestel in ander mense, na jou geluister asof dit wat jy sê die belangrikste ding ooit is. Sy het mense belangrik en gewaardeer laat voel. Mense het haar vertrou, want sy het dit maklik gemaak. Dit is wie sy was: eerlik, opreg.
Liezel, die pragtige dogter van God met die groot glimlag en uitspattige lag, wat ’n mens sommer van ver af gehoor het. Sy het ’n lus vir die lewe gehad en nie sommer toegelaat dat bekommernisse en hartseer haar onderkry nie. Sy kon uitbundig, uit haar maag uit, saam met jou lag, maar met net soveel empatie en deernis na jou stories luister. ’n Mens het onmiddellik by haar veilig gevoel, so asof julle mekaar al julle hele lewe lank ken.
Ons het nie net ’n vriendin en kollega verloor nie. Die NG Kerk het ook ’n besonderse predikant verloor. Haar omgee vir mense laat diep spore oral waar sy was. Sy was lief vir haar kerk! Predikant-wees was werklik vir haar ’n roeping en nie net ’n werk nie. Sy het geglo Jesus het ’n doel vir haar lewe en dít is hoekom sy ’n predikant geword het.
Julle, haar dogters, was haar alles. Sy was so trots daarop om julle mamma te wees. Sy het julle geniet en was baie lief vir julle.
As ons aan Liezel dink, dink ons aan Jesus se woorde as die skrifgeleerdes vra: “Wat is dan die grootste gebod?”
LIEFDE: vir God en my naaste soos myself.
Ons dink aan opregte liefde, soos beskryf in Romeine 12:9-12. Ons dink aan die liefde van 1 Korintiërs 13:4-13.
LEES OOK: KYK: ‘Glo daar is ’n God – want hiér is my ma,’ sê seun ná 40 jaar
Julle mamma was ’n besondere voorbeeld van hierdie liefde. Sy was die bewys in hierdie lewe, dat daardie liefde moontlik is, dat ook ons as mense daardie liefde van Christus kan ken en uitleef. Sy was Jesus se hande en voete hier op aarde.
Ons bid dat julle julle lewe lank hierdie liefde sal ken. Julle is kosbaar. Ons wil julle verseker dat julle nooit alleen is nie. Julle is dogters van die Allerhoogste.
Onthou altyd, jy is tot baie meer in staat is as wat jy kan dink of droom, want jy is geliefd. Dieselfde Here wat daar was toe jy jou eerste asem geneem het en wat ook daar was toe Liezel haar laaste asem uitgeblaas het, is by jou elke dag, maak nie saak wat nie.
As ons aan Liezel dink, dink ons aan die bekende lied:
Ubi caritas et amor, ubi caritas, Deus ibi est – Waar daar liefde is en deernis, waar daar liefde is, daar is God die Heer.
Mag God se liefde vir altyd en in alle omstandighede by julle wees. Ons bid dat julle Jesus se liefde sal ken en dat julle hart sal vol wees daarvan.
Julle is kosbaar. Julle is geliefd.
Met liefde
Dominees van die NG Kerk
#womentakeupspace #womensupportingwomen #jyhetwaarde #LetsEndFemicide
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.