Ek en my seuntjies doen inkopies by ’n groot kettingwinkel. Hulle sit in die trollie en ek fokus op die lysie in my hand. Ons loop tussen die rakke deur. Uit die hoek van my oog sien ek die een se skielike frons. En hy vra, kliphard: “Mamma, hoekom het daai oom net een been?”
Toe sien ek hom ook, die man met die kunsbeen wat in ons rigting op pad is. Hy moes alles gehoor het … Ek voel hoe warm word my gesig. Ek kry ’n “jammer!” uit en verkas so gou ek kan om die winkelrak se hoek, die trollie voor my uit.
LEES MEER: ‘Net een ware Swart Vrydag’
En ek troos my daaraan dat elke mamma so ’n storie kan vertel. Oor kinders wat ’n ander mens se liggaamsgebrek opmerk en luidkeels kommentaar lewer. Dis seker deel van grootword om verskille raak te sien, én op ’n verduideliking aan te dring, troos ek myself.
Die man wat blind gebore is
Ek lees later oor Jesus se dissipels wat ’n man sien wat van sy geboorte af blind is, en hoe hulle Hom vra: “Rabbi, deur wie se sonde is dit dat hierdie man blind gebore is: sy eie of sy ouers s’n?” (Joh 9:2). Hulle aanvaar sonder meer dat die man se gebrek iemand se skuld moet wees.
Dis so maklik om in hierdie strik te trap. Ons eerste reaksie is dikwels skuld uitdeel of oordeel vel. Dit word wel ingewikkelder wanneer slegte dinge met goeie mense gebeur, of goeie dinge met slegte mense. Die werklikheid is dat niks heeltemal reglynig verloop nie; die lewe is nie altyd regverdig nie en ons kan nie altyd alles logies verklaar nie. En jou goeie dade vrywaar jou nie van swaarkry en seerkry nie.
Jesus het sy dissipels só geantwoord: “Dit is nie deur sy eie sonde nie en ook nie deur sy ouers s’n nie, maar hy is blind sodat die werke wat God doen, in hom gesien sal kan word” (Joh 9:3).
Jesus se eenvoudige uitspraak leer sy dissipels dat die slegte dinge wat met ons gebeur nie aan ’n ander mens toegeskryf kan word nie. Dit is nie so dat ons sondes, of ons ouers se sondes, ons op ’n dag inhaal nie. In God se koninkryk is daar nie sprake van “boontjie kry sy loontjie” nie.
Jesus leer hulle, en ons, dat God enigiets kan gebruik om sy goedheid te wys. Dat Hy ook ons swaarkry kan gebruik om Hom aan die wêreld te openbaar. Vergelyk dit nou met die Fariseers wat ná die blinde man se genesing hom só toesnou: “Jy is van jou geboorte af die ene sonde, en wil jy ons staan en leer?” (Joh 9:34).
Hoor die hooghartigheid, die veroordeling. Daar is inderdaad niemand so blind soos dié wat nie wil sien nie.
Die vraag is: Is ons anders as die Fariseërs? Trap ons nie dikwels in dié strik nie? Want dis mos maklik om, wanneer ons of een van ons mense swaarkry, iemand of iets te soek om kwalik te neem of selfs te beskuldig. Ons oordeel gou. Onthou dan Jesus se boodskap: Wanneer jy swaarkry of seer het, is die vraag nie “hoekom?” of “wie se skuld is dit?” nie. Vra eerder: “Hoe kan ek, deur wat met my gebeur, God se goeie werk in my lewe wys?”
- Simone Gauche is ’n mamma met twee seuntjies, sy is ’n huweliksmaat en ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk.