Bykos is allesbehalwe ’n bysaak. Beplan jou ete volgende keer met ’n interessante bykos as fokus, en moet dan nie verbaas wees as almal vir nóg ’n skeppie vra nie.
Bykos – of “toekos” soos my een ouma daarna verwys het – het vele gedaantes. Dink dus ’n slag verder as die alom bekende rys en aartappels, of net nóg ’n slaai. Wees kreatief met wat die seisoen oplewer, en met natuurlike geurmiddels, en tower op dié manier iets spesiaals op.
Bykosse vir braai
Die meeste etes se beplanning begin met die vleis, en soms is ’n eenvoudige vleissnit of hoenderporsies of selfs braaivleis die perfekte beginpunt. Maar oorweeg gerus om dit volgende keer anders te doen: Begin met ’n geurige bygereg. Of besluit wat die interessante bygereg gaan wees, en kies dan die res om juis daarby te pas. Onthou, hou dit gesond en hou dit vining en maklik!
Gesonde bykosse vir braai #1
GEROOSTERDE AARTAPPELTJIES MET KAAS EN KRUIE
Smullekker! Dis ’n goeie beskrywing vir dié brosgeroosterde aartappeltjies. Dié groentesoort, in die een of ander vorm, is altyd gewild. Maar probeer gerus hierdie nuwe manier om ’n ou bekende in ’n japtrap voor te sit.
Lewer 4-6 porsies.
BESTANDDELE:
- 500-750 g baba-aartappeltjies in die skil
- 3 takkies vars roosmaryn
- Growwesout en peper
- 75-90 ml (5-6 e) olyfolie
- 30 ml (2 e) grofgekapte vars kruie, soos roosmaryn, tiemie, pietersielie, origanum, of ’n mengsel daarvan
- 125 ml (50 g) grofgerasperde, beleë wit cheddar- of pecorinokaas
METODE:
- Plaas die aartappels, roosmaryntakkies, ongeveer 250 ml water en ’n knippie sout in ’n kastrol en bring dit oor matige hitte tot kookpunt.
- Verlaag die hitte en laat prut die aartappels (met die deksel op die kastrol) 20 minute lank, of tot net sag. Dreineer dit deeglik en pak die aartappeltjies in ’n enkele laag in ’n vlak oondbak.
- Voorverhit die oond tot 200 °C. Druk elk aartappeltjie liggies met ’n vurk om dit net oop te breek.
- Meng die olie en kruie en giet dit oor die aartappels. Geur dit na smaak en strooi die kaas oor.
- Skakel die oondrooster-element aan en rooster die aartappels 8-10 minute lank, of tot goudbruin en bros. Sit dit dadelik voor.
Gesonde bykosse vir braai #2
GEROOSTERDE EIERVRUG MET ’N JOGURTSOUS
Eiervrug is een van daardie groentesoorte waaroor die menings uiteenloop: Daar is diegene, onder andere ek, wat dol is daaroor; ander mense eet dit glad nie. Daar is ook dié wat huiwer en wonder, bloot omdat hulle nie seker is hoe dit gaargemaak moet word nie. Eintlik is dit heel maklik. Om eiervrug te rooster, is trouens geen moeite nie. En die gekaramelliseerde smaak saam met die jogurt en suurlemoen en kruie waarmee dit voorgesit word, is besonders.
Lewer 4-6 porsies.
BESTANDDELE:
- 4 middelslag eiervrug, in dik wiggies gesny
- 60 ml (¼ k) olyfolie
- Sout en peper
- 250 ml (1 k) ongegeurde dubbelroomjogurt
- 30 ml (2 e) gekapte, vars kruisement
- 30 ml (2 e) gekapte, vars Italiaanse
- pietersielie
- 10 ml (2 t) fyngerasperde suurlemoenskil
- 1 skyf fetakaas, gekrummel
- ’n Groot handvol rooibosbessies (of granaatpitte wanneer dit die seisoen daarvoor is)
- Ekstra kruie om mee voor te sit
METODE:
- Voorverhit die oond tot 200 °C. Plaas die eiervrug in ’n groot mengbak en giet die olie oor. Geur dit na smaak en skud die bak om die eiervrug met die olie te bedek.
- Plaas die eiervrug op ’n groot bakplaat of in ’n vlak oondbak.
- Rooster dit 30 minute lank, of totdat die eiervrug goudbruin en gaar is. Of rooster dit ’n verdere 5-10 minute. Moet dit tog nie te lank rooster nie, want dan word dit pap en val uitmekaar.
- Geur intussen die jogurt met die kruie, suurlemoenskil en peper, en roer die fetakaas by.
- Garneer die eiervrug met die rooibosbessies en kruie. Sit dit warm of teen kamertemperatuur voor, saam met die jogurtsous. Dié gereg is perfek saam met geroosterde hoender of lamsvleis.
WENK:
Patats in die skil kan op dieselfde manier gerooster en voorgesit word.
Gesonde bykosse vir braai #3
MAROKKAANSE KOESKOES
Hier is ’n wonderlike ete: Marokkaanse geure in ’n koeskoesslaai met ’n geroosterde hoender en liggies-gestoomde broccoli of groenboontjies. Met ’n paar lepels vol geroosterde sesamsaadjies oorgesprinkel.
Resep aangepas uit Kos is op die tafel.
Lewer 6 porsies.
BESTANDDELE:
- 50 g gevlokte of gekapte amandels
- 1 groot ui, gehalveer en in dun wiggies gesny
- 500 g botterskorsie, in blokkies gesny
- 2,5-5 ml (½-1 t) komynsaad
- 90-100 ml olyfolie
- Sout en peper
- 500 ml (2 k) rou koeskoes
- 500 ml (2 k) kookwater
- 5 ml (1 t) gemaalde komyn
- 2,5 ml (½ t) gemaalde kaneel
- 10 ml (2 t) fyngerasperde suurlemoenskil
- Suurlemoensap na smaak
- 30-45 ml (2-3 e) grofgekapte kruisementblare
- 30 ml (2 e) grofgekapte koljanderblare
- 8-10 ekstra takkies koljanderblare vir garnering
METODE:
- Voorverhit die oond tot 200 °C. Plaas die amandels op ’n groot bakplaat en rooster dit ’n paar minute lank tot goudbruin. Sorg dat dit nie brand nie. Skep uit en hou dit eenkant.
- Meng die ui, botterskorsie en komynsaad met sowat 30 ml van die olie en geur dit na smaak. Skep dit op dieselfde bakplaat en rooster dit 30 minute lank, of tot net gaar maar nie pap nie. Skep uit en laat dit afkoel.
- Plaas intussen die koeskoes in ’n groot, plat mengbak. Giet die kookwater oor en laat dit, sonder om te roer, 5 minute lank staan. Meng dan die koeskoes met ’n groot vurk deur om die klonte, indien daar is, op te breek.
- Voeg die res van die bestanddele by, behalwe die amandels en takkies koljanderblare. Meng dit versigtig deur.
- Geur dit na smaak en sit dit warm of teen kamertemperatuur as bygereg voor, saam met die amandels en koljanderblare. Dis heerlik saam met hoender, vark, steak en selfs vis.
WENKE:
- Die koeskoes kan maklik vooraf berei word. Voeg die vars kruie, amandels en koljanderblare by net voordat dit voorgesit word.
- Dukkah-koeskoes: Berei die koeskoes soos dit in Stap 3 hierbo uiteengesit is, en roer ’n bietjie olyfolie, 50 ml dukkah en 45 ml gekapte vars kruisement of Italiaanse pietersielie by. Geur dit na smaak. Sit dit voor soos beskryf.
Gesonde bykosse vir braai #4
BROCCOLI-SLAAI MET GEKARAMELLISEERDE UIE EN BLOUKAAS
Hierdie kleurvolle slaai is die antwoord vir mense wat nie oor ’n tipiese groenslaai opgewonde raak nie. Die effens ongewone kombinasie bestanddele is ’n geurige verrassing. Almal wil altyd ’n tweede keer skep.
Resep aangepas uit Kos is op die tafel.
Lewer 6 porsies.
BESTANDDELE:
- 15 ml (1 e) olyfolie
- 3 uie, gehalveer en in dun skyfies gesny
- 15 ml (1 e) sagte bruinsuiker
- 30 ml (2 e) balsamiese asyn
- Sout en peper
- 30 ml (2 e) vars tiemieblare
- 300 g broccoli, in blommetjies gesny
- 2-3 hande vol babaspinasie of ander gemengde slaaiblare wat jy verkies
- 200 g kersietamaties, gehalveer
- 100 g bloukaas of 1-2 skywe fetakaas, grofgekrummel
METODE:
- Verhit die olyfolie oor matige hitte in ’n groot braaipan en soteer die uie totdat dit heeltemal sag is. Voeg die suiker en asyn by en geur dit na smaak. Verlaag die hitte effens en roer af en toe terwyl die uie karamelliseer; dit duur so 10-15 minute, sonder die braaipan se deksel. Roer die tiemie by. Skep uit en laat dit eenkant afkoel.
- Plaas intussen die broccoli in ’n vlak bak en bedek dit met kookwater. Laat dit 10-12 minute staan, of tot net gaar maar steeds bros. Herhaal die kookwater-proses indien nodig.
- Dompel die broccoli in koue water sodat dit nie verder gaar word nie en dreineer dit dadelik. Druk dit liggiesdroog met kombuispapier. (Die broccoli kan ook ’n paar minute lank gestoom of in ’n kastrol geblansjeer word.)
- Pak die slaaibestanddele op ’n slaaibord en sit dit as ’n bygereg teen kamertemperatuur voor.
WENKE:
- Gekaramelliseerde uie is verbasend veelsydig. Gebruik dit in enige ander slaai, of roer dit saam met ’n groot handvol koljander- of basiliekruidblare en geroosterde neute by koeskoes in. Dis ’n heerlike bygereg.
- Vervang die tiemie in die gekaramelliseerde uie met komyn vir ’n ander geurprofiel.
- Sit al die elemente in aparte bakkies voor en laat elke gas haar of sy eie slaai bou. Voeg ’n proteïen soos spek, gaar hoender of repies steak by. Dis perfek vir ’n ligte maaltyd.
Heleen Meyer is ’n koskonsultant met ’n filosofie van lekker, gesond en maklik. Sy is dol daarop om in die natuur te wees. Tyd saam met haar gesin is vir haar baie kosbaar. Haar hoop is ’n wêreld waar elke mens erken en gerespekteer word. Kuier saam met Heleen by www.heleenmeyer.co.za, of @heleenmeyerfood op Instagram.
Loer gerus ook na hierdie maklike en smaaklike maalvleisresepte.
Saamgestel deur Heleen Meyer; foto’s deur Adel Ferreira.