Baie van ons het tans ’n behoefte daaraan om ons stories te vertel. Om moeilike, intense ervarings op ’n veilige plek uit te pak. Om te ontlaai en groter duidelikheid vir onsself te verkry. Beraders beleef in dié dae dat baie meer mense as voorheen by hulle kom aanklop.
DEUR JACQUELINE LEUVENNINK
Volgens Melissa de Klerk (59), ’n maatskaplike werker by ’n privaat praktyk in Durbanville, Kaapstad, kom soek mense wat nog nooit met geestesgesondheid gesukkel het nie deesdae hulp. Hulle ervaar hoë angsvlakke, depressie en verhoudingsprobleme. Die onsekerheid wat hulle beleef, lei tot allerlei stresverwante gesondheidkwessies.
Sy vertel: “Baie kliënte sê dat hulle bloot ’n behoefte daaraan het om ‘kop skoon te maak’. Daar is soveel gedagtes, gevoelens en belewenisse wat hulle probeer verwerk.”
Wat sien jy veral?
“Aanvanklik het ons die inperking met ’n goeie skoot kreatiwiteit en moed aangepak, maar nou word ons moeg. Ons word moedeloos met ons eie en ander se swak hanteringsmeganismes wat sake soos selfversorging en die stel van grense betref. Baie ly aan uitbranding, onverwerkte rousmart en posttraumatiese stres. Dit het ’n uitwerking op hul produktiwiteit by die werkplek, hul ouerskap, hul verhoudings en hul algemene funksionering.
LEES OOK: ’n Muur van vuur om Kleinmond-dominee
“Ons almal ly aan ’n soort kollektiewe smart – verlies aan geliefdes, finansies, werk en die bekende. Die gebrek aan fisieke en emosionele veiligheid, sekuriteit, verbintenisse en vryhede maak ons kwesbaar, dit maak ons bewus van hoe broos alles is.
“Simptome wat lei tot die inroep van ’n berader sluit in: veranderende slaappatrone, angstigheid, hoë frustrasievlakke, ’n gevoel van leegheid. Ook skuldgevoelens, wipplank-emosies en negatiewe gedagtes wat hulle aan jou opdring. En ’n gedurige vrees vir die ergste. Die pandemie is boonop ’n sneller om ou emosionele wonde en traumatiese ervarings opnuut bloot te lê.”
Wat is die noodkrete van veral gesinne?
“Veral enkelouers sukkel met hul verskillende rolle. ’n Heeltydse werknemer en broodwinner moet nou dalk ook ’n huishouding alleen bestuur, tuisskoolonderrig gee en terapeut wees.
“Kinders en veral adolessente verpas kritiese sosiale ontwikkelingsgeleenthede. Hulle mis hul maats, sport en die skoolroetine. Baie trek hulle in hul kamer terug, met ’n slimfoon as enigste geselskap.
“Mense voel eensaam. Ons behoefte om iewers te behoort en in ’n verbintenis met ander te wees, is onder beleg. Baie van die spontane sosiale kontak wat voorheen ’n gegewe was, het verkrummel. Dit laat ons voel asof alles besig is om uit te rafel.
“Covid-19 het nie net verhoudings verbreek nie; dit verander dit ook. Sommige verhoudings het sterker geword – met meer tyd, liefde en waardering vir mekaar. Juis omdat baie mense van hul gesinslede en dalk ’n lewensmaat in hierdie tyd verloor, motiveer dit ander mense om dit wat hulle het, te koester en die lewe nie as ’n vanselfsprekendheid te beskou nie.
LEES OOK: ‘Dit voel asof ek my een been en my een arm verloor het,’ sê Covid-weduwee oor haar ‘Oukie’
“Ander verhoudings verkeer weer in ’n oorlewingstryd. Daar is baie konflik of passiewe-aggressiewe gedrag. Daar is dalk minder tyd en geleentheid om weer bande te bou, moeilike gesprekke te voer en bloot saam te ontspan. Hoë werksdruk, min kontak met kollegas, die een aanlyn vergadering ná die ander – dit alles skep verdere risiko’s vir uitbranding. Dié dinge raak veral die verhoudings op die tuisfront negatief, omdat almal onder druk is.
“Ons moet ook verhoed dat ons té selfkrities word. Moenie onrealistiese verwagtings van jouself koester nie. Dit laat jou uiteindelik met ’n permanente gevoel dat jy nie goed genoeg is nie.
“Hierdie dinge ontketen ’n bestaanskrisis. Mense vra: Wat is die sin van die lewe? En wat gaan van my en my kinders se lewensdrome, doelwitte en ideale word?”
Watter uitwerking het dit alles op jou as berader?
“Ek is opgelei en ervare, maar ek is ook net ’n mens. ’n Mens wat soms oorweldig word deur al die hartseerverhale. Maar ons stap die pad tree vir tree saam. En ek word verras en bemoedig deur die veerkragtigheid wat ek steeds opmerk.
“Al wat ons kan beheer, is ons denke en ons reaksies. En, soos die Spreukedigter sê, om bo alles ons hart te bewaar.
“Maar ons moet ook aanvaar dat dit oukei is om nié oukei te wees nie. Ons moet probeer om minder op die toekoms te fokus. Om die ‘hier en nou’ te hanteer. Doen laasgenoemde deur betekenisvolle rituele en roetines te skep. En geniet daardie koppie tee in die son bewustelik en dankbaar. Vier elke klein oorwinning en skep vir jouself veilige emosionele ruimtes.
En van wat geloof?
“Sommige mense probeer om net te oorleef. En dis vir hulle moeilik om te midde van soveel verlies God se wil te verstaan.
“Ander mense tree meer dikwels met God in gesprek om te probeer sin maak uit wat om hulle gebeur. Hulle beleef hul geloof as ’n anker, as iets wat hulle help om God se genade in klein besonderhede raak te sien.
“As terapeut is ek baie meer bewus van hoe afhanklik ek van sy genesende krag is in die komplekse situasies wat bo my menslike vuurmaakplek is.”
*Melissa kan by melissadeklerk62@gmail.com gekontak word, of by 082 901 0741.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.