Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Covid-19-skeiding: Slim planne vir grootouers

Gesondheidskenners is dit met mekaar eens dat ouer mense kwesbaar is wanneer die koronavirus toeslaan, en dat hulle daarom ekstra voorsorg moet tref. Hierdie waarskuwing beteken egter ook dat oupas en oumas hul kinders en kleinkinders nou “oor ’n afstand” moet liefhê. Dit het tyd geword vir ’n nuwe soort kuier.

DEUR SUSAN GOOSEN

Christelle du Plessis, ’n opvoedkundige sielkundige in Johannesburg, bevestig dat die unieke verhouding tussen grootouers en kleinkinders vir almal van groot waarde is.

“Oupas en oumas kan hul kleinkinders se lewe op talle maniere verryk,” sê sy. “Hul onvoorwaardelike liefde, aanvaarding en ondersteuning bied ’n veilige hawe aan jong kinders. Grootouers het dikwels ook meer tyd tot hul beskikking, en dié ekstra aandag laat die kleinkinders gemaklik en geborge voel.

“Die kleinkinders bring op hul beurt ’n nuwe dimensie in die lewe van hul grootouers. Wanneer hulle om die een of ander rede dan nie by mekaar kan kuier nie, is dit belangrik dat hulle op ander maniere sal kontak maak. En wanneer fisieke kontak nie moontlik is nie, is emosionele kontak en ondersteuning van onskatbare waarde.”

Vrae en verduidelikings

Ouers en grootouers weet nie altyd hoe hulle die jongspan se vrae en onsekerhede rakende hierdie soort gedwonge skeiding moet hanteer nie. Hier is raad:
• Wees eerlik. Verduidelik in kindervriendelike taal dat die virus potensieel groter gevare vir ouer mense inhou en dat dit makliker versprei wanneer baie mense in dieselfde plek saam is. Sê dinge soos: “Ons gee om vir mekaar, en daarom kuier ons nie saam nie.”
• Verduidelik dat dit tydelik is. Ons sal vir ’n tyd lank ander planne moet maak, maar wanneer die verspreiding afneem, sal ons weer by mekaar kan wees.
• Erken die kinders se gevoelens. Hulle mag maar kwaad, teleurgesteld of hartseer wees, én verlang. Verduidelik aan hulle dat jy dieselfde emosies ervaar, en vertel hulle hoe jy dit hanteer. Maak ’n plan dat hulle Oupa en Ouma in ’n kaartjie of via ’n WhatsApp-video kan laat weet dat hulle verlang.
• Maak ander planne om te kommunikeer en om deur middel van tegnologie saam tyd deur te bring. Gesels gereeld met mekaar. Maak ’n gewoonte daarvan om mekaar op die hoogte van jul doen en late te hou.

Slim planne

Christelle sê: “Baie kinders is gespanne oor al die veranderings en is bekommerd oor hul grootouers. Die een of ander vorm van kontak is belangrik om hierdie kinders rustig en kalm te hou. Besluit dus op ’n soort kontak wat vir jul familie en omstandighede sal werk.

“Probeer ook om ’n ritueel te skep – soos ’n gereelde internetkuier op ’n Vrydagmiddag.

“Die grootouers kan gerus die vele internetplatforms leer ken sodat hulle op verskillende maniere met hul kleinkinders kan kommunikeer. Daar is verskillende programme en toepassings wat dit moontlik maak om deur middel van video’s te gesels en selfs speletjies te speel.

“Hou egter altyd in gedagte dat kinders se aandagspan kort is, en dat ’n internetkuier daarom nie uitgerekte gesprekke kan inhou nie. As daar boonop klein kindertjies betrokke is, sal die pa en ma dalk die kleinding moet vashou en self die meeste van die praatwerk doen.

“Laat jou kinders ’n troeteldier of hul gunstelingspeelding vir Oupa en Ouma wys, of ’n prentjie of ander kunswerk. Skoolgaande kinders is gewoond aan ‘wys en vertel’ en kan self iets kies waaroor hulle graag wil gesels. Dit kan ’n boek wees wat hulle geniet het, iets wat hulle gebou het, of selfs ’n resep wat hulle probeer het.”

Kind met slimfoonNog wenke:

Speel raaispeletjies

• Raai wat hou ek agter my rug vas? Aan watter dier dink ek?
• Gee leidrade, of laat die kinders self vrae vra. Ouer kinders kan byvoorbeeld vrae vra waarop jy net “ja” of “nee” kan antwoord. Of hulle kry net 20 vrae, waarna hulle moet reg raai.
• Sê: “Soek vir my iets wat rooi is. Soek vir my iets wat met ’n B begin.”

Hou ’n bak- of kooksessie
• Laat Ouma deur ’n video-oproep of stemboodskap verduidelik hoe sy haar lensiesop, plaatkoekies of beskuit bak, en laat die kinders die resep navolg. Op dié manier kan julle selfs ’n internetteepartytjie hou!

’n Virtuele bord- of kaartspeletjie
• Skaakgeesdriftiges kan ’n bord opstel, en soos die spel verloop elke keer ’n foto van die nuwe skuif neem en dit aanstuur.

Kies ’n fliek wat almal op ’n afgespreekte tyd by hul eie huis kan kyk.
• Of ’n boek wat elkeen kan lees en later kan bespreek.
• Luister Sondae na dieselfde preek oor die internet.

Lees vir jou kleinkinders ’n storie voor deur middel van ’n video-oproep of stemboodskap.
• Oupa of Ouma kan vir die ouer kleinkinders ’n langer storie of dikker boek kies, en elke aand ’n hoofstuk voorlees.

Ruil grappies uit, en interessante nuusbrokkies of foto’s van dié dinge waarmee elkeen tuis besig is.

Maak die grootouers deel van jul uitstappie deur middel van ’n video-oproep. Wys hulle wat julle sien en geniet.

Stuur ’n bederfpakkie. Stuur aan jou kleinkinders ’n handgemaakte speelding, of van die lekker koekies waaroor hulle so gaande is.
• Kleinkinders kan weer aan Oupa en Ouma briewe, kaartjies of kunswerke stuur.
• Stel jou kleinkinders bekend aan die outydse bederf van ’n handgeskrewe brief. Ontwerp jou eie geheime kode, en laat die kleinkinders dié briewe ontsyfer.

Saamdoen-wenke

Met ’n bietjie beplanning kan gesinne en families heerlike kuiersessies geniet. Toepassings soos Zoom maak dit vir groter groepe moontlik om gelyktydig kontak te hê. Oorweeg die volgende vir ’n virtuele familiekuier:
• Hou ’n familie-ete. Stuur aan almal dieselfde spyskaart en resepte, en later die foto’s van jul onderskeie kosmaakpogings, tafelversierings en etes.
• Hou ’n konsert. Laat die kinders in die onderskeie gesinne hul talente ten toon stel. Laat hulle sing, musiek maak of
grappies vertel.
• Hou ’n vasvrakompetisie. Laat die kinders navorsing doen oor ’n voorgeskrewe onderwerp, en dan vrae opstel wat die ander familielede moet beantwoord. Oorweeg ook vrae oor prettige onderwerpe soos: “Familievakansies by die see”; “Ons familie-geskiedenis”; “Onthou jy nog …?” Vra: “Watter nefie het in die moeilikheid gekom omdat hy telkens koekies van die Kersboom af gesteel het?” Of: “Wat is oom Pieter se gunsteling-sêding?”
• Hou ’n skattejag. Elke gesin bring vyf verskillende opdragte vir die res van die familie, byvoorbeeld: “Gaan soek ’n stukkende sokkie, ’n totaal nuttelose stuk kombuisgereedskap, of ’n voorwerp uit die jaar toet.”

Spesiale dae

Dis baie sleg om in hierdie tyd spesiale dae soos verjaardae, herdenkings of ander vieringe te moet misloop. Gebruik tegnologie om steeds in die pret te deel.
• Maak ’n verjaardag-banier. Versier jou huis met ballonne, en stuur ’n foto daarvan saam met jou gelukwensing.
• Sing ’n verjaardaglied oor die telefoon, en bak ’n koek met kersies wat jul kleinkind kammakastig kan doodblaas.
• Oorweeg ’n virtuele partytjie waar almal ’n rukkie saam kan kuier om die spesiale geleentheid te vier.


Kontak ons kenner
Christelle du Plessis is ’n opvoedkundige sielkundige by Resilient Family in Sandton, Johannesburg. Kyk by www.resilientfamily.co.za vir
meer inligting.

Projek 108

Ons wil ‘n dringende beroep op medegelowiges doen om ons te help om die Evangelie te versprei – voordat dit te laat is. Jou donasie kan iemand se storie herskryf – nou en hierna…

Hulle Wag

Ons kan die rede wees dat iemand vir die eerste keer vir Jesus leer ken…

Kinderpret-leesreeks

Beleef ‘n avontuurlike leesreis met ons Kinderpret-leesreeks! Vir jong lesers, elke boekie vol pret en leersame avonture…

Kinders van die Lig

Gee geloof en hoop aan kinders deur geloofsboeke in kinders se hande te plaas…

Laat ‘n Ligspoor

Help ons om die boodskap van lig uit te dra en verander kinders se lewens deur die krag van stories…

BybelBouBlokke

Bou saam aan ‘n geestelike toekoms deur die geloof van kinders, gesinne, en lidmate te versterk…

KinderKersKous

Gee ’n geskenk van hoop aan kinders deur hulle lees-met-begrip-vermoë te bevorder en hul geestelike ontwikkeling te ondersteun…

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF