Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Covid-planmaker: Kameraman laat nou die wiele rol

16 Maart 2021


Die inperkingsmaatreëls het verskeie Suid-Afrikaners tot buitengewone kreatiwiteit geïnspireer. Een so ’n planmaker het sy kamera vir ’n oop enjinkap verruil.

“Die shows waar ek gewoonlik my brood en botter verdien, het eensklaps nie meer plaasgevind nie. My vrou Leila is ’n huismamma vir ons drie kinders. Ons moes dus ’n plan maak, en vinnig.”

’n Unieke besigheid, wat net na die inperkingsmaatreëls in 2020 op die been gebring is, help dié gesin om ’n lewe te maak. Hier is Hanru saam met sy vrou Leila en hulle kinders Lillia (7), Ruben (5) en Gideon (1). Foto verskaf

Só vertel Hanru Reyneke, ’n kameraman in Pretoria.

Die plan? Die geboorte van Car Inspection. Dis ’n onderneming wat ’n gekwalifiseerde motorwerktuigkundige uitstuur om ’n gebruikte motor vir ’n voornemende koper na te sien.

Hanru vertel verder: “Ek het op ’n keer amper ’n lelike stel afgetrap. Ons wou ’n voertuig aanskaf wat by ons groeiende gesin pas. Ek het ’n advertensie vir ’n gebruikte VW Tiguan gesien en die verkoper in Witbank gekontak om die motor te gaan toetsbestuur.

“Ek het my nie juis as ’n kenner beskou nie. As ’n mens wat heelwat tegniese kennis het, was ek egter vol vertroue dat ek die regte besluit sou neem as ek iets soos ’n gebruikte voertuig koop.

Volgens Hanru is hulle veral trots daarop dat hulle baie enkellopende vroue help om die regte besluit te neem wanneer hulle ’n gebruikte motor koop. Foto verskaf

“Ons het die inspeksie voltooi en ek was daarvan oortuig dat dit ’n goeie kopie is. Ewe opgewonde het ons teruggery Pretoria toe, met die vaste voorneme om die motor te koop sodra ek die geld beskikbaar het. Daardie aand het ek die verkoper gebel om alles te bevestig.

“Hy het gehuiwer, en toe gesê dat ons ’n lieflike gesin is en dat sy gewete hom pla. Toe het hy verduidelik dat die voertuig voorheen in ’n ernstige ongeluk betrokke was. Dat hy jammer is dat hy nie hierdie inligting aan my bekend gemaak het nie.

“Wat ek nie geweet het nie, is dat die man se vrou lekker met my driejarige dogtertjie gespeel het terwyl ons die voertuig bekyk het. Ek reken steeds dat daardie vrou hom oortuig het om eerder oop kaarte met ons te speel.”

’n Reputasie

Nie almal is so gelukkig nie.

LEES OOK: KYK: ’n Groep Kaapse huisgesinne kook vir hongeres

Hanru sê dat volledige en eerlike inligting oor ’n gebruikte voertuig nie altyd geredelik beskikbaar is nie. “Dié deel van die motormark het nogal ’n reputasie …

“Daar is honderde stories van mense wat ’n gebruikte voertuig gekoop en eers later agtergekom het daar is groot fout. Die verkoper het niks daaroor gesê nie.”

Volgens Hanru is Car Inspection veral trots daarop dat hulle baie enkellopende dames help. “Daar is sommige verkoopsmense wat dink vroue is ’n maklike teiken.”

En wat gaan gebeur wanneer Hanru weer op ’n dag sy kamera kan opstel?

Hy glimlag. “Die wonderlike ding van Car Inspection is dat my vrou Leila die onderneming kan bestuur wanneer ek aan projekte werk.”

  • Car Inspection is tans in Gauteng en die Wes-Kaap bedrywig. Hul diens sluit ’n tegniese verslag sowel as ’n voertuigverifikasie-verslag in. Dit kos sowat R1 400.

Besoek https://carinspect.co.za/ vir meer inligting.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.