DEUR AMY-LEIGH McCARTHY
Ek dink ek praat namens almal as ek sê dat Covid-19 ons lewe verander het.
As ek uit mý perspektief kan praat, sal ek sê Covid het my goed én sleg hanteer. Alles het mos sy ups and downs.
LEES OOK: #covidkinders: ‘My Bybelstudiegroep gee my hoop om elke dag aan te pak’
Voor Covid het ek in ’n kinderhuis gebly, skool toe gegaan en ’n verkeerde idee van Christenskap gehad. Almal het daarvan gepraat, maar ek kon dit nie verstaan nie. Ek was emosioneel nie op die regte plek nie. Met my verlede wat krap en onsekerheid wat uitdop, het ek myself stadig maar seker verloor.
Toe slaan Covid-19 toe …
Onmiddellik is ons heeltemal afgesny van die wêreld daarbuite, wat glad nie ’n goeie uitwerking op enige kinderhuiskind of enige iemand gehad het nie. Ek was gefrustreerd en bekommerd omdat ek nie my vakansiefamilie kon sien nie. Maar so was elke ander kind ook. Gaan ons hulle ooit weer sien met die dodelike siekte wat in die lug hang?
Ek persoonlik het baie foute gemaak en al hoe meer wegbeweeg van die Here af. Op daardie stadium was ek in die proses om by my vakansiefamilie in pleegsorg te gaan bly, en ek het so baie daarna uitgesien. Dit het my hoop gegee om te veg en aan te gaan.
Alhoewel mense probeer het om dinge by die kinderhuis beter en lekker te maak, was almal nog steeds bang dat hulle nooit weer hulle familie sou sien nie. Party van die kinders het familie en vriende verloor, wat die vrees nóg erger gemaak het.
Vir die personeel was dit ook moeilik, want hulle moes so baie kinders beskerm en rustig hou terwyl hulle na hulle eie families moes omsien. So het almal op een of ander manier moeg en gefrustreerd geraak as gevolg van die koronavirus.
Die lekker ding van Covid is die ontspanning. Maar as ’n groot ekstrovert, is dit nie lank nie, dan raak ek weer verveeld. Om heeldag op my foon te wees is nie juis my idee van lekker nie. My idee van lekker is om met vriende te lag en gesels. My passie is diere, wat dit dan baie lekker maak by my vakansiefamilie, want hulle het diere.
Toe my papiere uiteindelik gefinaliseer is vir my om permanent uitgeplaas te word, het ons nog nuus gekry wat ons onkant gevang het. Maar my vakansiefamilie het my ontsettend baie bemoedig om aan te gaan en in die Here te glo om alles beter te maak.
Op 12 Desember 2020 is ek, na ses jaar van lag, huil en ’n klomp ander gevoelens, uiteindelik uitgeplaas na my vakansiefamilie. Nou is hulle my régte familie. Iets waarna ek nog my hele lewe lank gesmag het.
LEES OOK: #covidkinders: ‘Daar is baie maniere om jou seëninge te tel’
Van toe af het my lewe ’n drastiese draai geneem. ’n Baie goeie een. Met ’n pastoor-pa en skoonheidsterapeut-ma, het ek baie vinnig gemaklik geraak in die midde van ’n lieflike familie. Ek word elke dag herinner aan hoe lief hulle my het en hulle omring my met ondersteuning.
Ek het toe die Here begin vind, en kan nou met trots sê, ten spyte van alles wat in my verlede gebeur het is ek super dankbaar vir die mens wat Hy my gemaak het. Dat ek nou God in beheer van my lewe kan vertrou in plaas daarvan om op ander se gevoelens en geluk staat te maak.
So, my ervaring van Covid is nie alles net sleg nie. Ek is eintlik baie dankbaar vir wat dit emosioneel aan my gedoen het. Ek kry almal jammer wat iemand verloor het as gevolg van Covid. Families wat uitmekaar geskeur is en pyn wat veroorsaak is.
Ek is ook baie bly vir al die families wat nader aan mekaar geskuif het. Almal se perspektief oor Covid is nie dieselfde nie, maar ek bid dat dit beter gaan raak vir dié wat swaarkry.
- Amy-Leigh McCarthy is ’n 17-jarige tiener van Wellington.
LiG vier #Jeugmaand deur leerders te nooi om bydraes te lewer vir ons #covidkinders-rubriek.