DEUR MIA JONCK
Ek is ’n normale tiener en ek geniet baie dinge. Om naweke laat te slaap en net pleinweg in die bed te kan lê, is vir my die heerlikste ding denkbaar. Ek is ’n groot Netflix-kyker. Ek hou van flieks, maar reekse is boaan my lysie voorkeure. My gunstelingreekse is F.R.I.E.N.D.S (ek het ál tien seisoene seker al 14 keer gekyk) en Brooklyn 99.
LEES OOK: #covidkinders: ‘Daar is baie maniere om jou seëninge te tel’
Die rede vir die Netflix-aanhang is dat dit my die vermoë gee om hierdie Covid-besmette wêreld agter my te laat. Al die spanning en bekommernisse verdwyn sommer.
Maar ek is nie bang vir Covid-19 nie.
LEES OOK: #covidkinders: ‘My Bybelstudiegroep gee my hoop om elke dag aan te pak’
Ek is ongeveer met netbal getroud – en die pandemie het dinge ook hier baie ingewikkeld gemaak. Ek speel reeds 12 jaar lank, sonder dat ek ooit gedwing is om dit te doen. Netbal het my dissipline geleer, en die waarde van spanwerk. Asook respek teenoor ander spelers. Danksy my afrigters by Hugenote Hoërskool in Wellington het ek Cape Winelands se finale proefspanne gehaal.
LEES OOK: #covidkinders: ‘Ek kry iets waarna ek my hele lewe smag – ’n regte familie’
Kyk, Covid-19 ís ’n pes wat op die verkeerde tyd hier opgedaag het. Ja, dit was lekker om ’n ekstra twee weke vakansie te kon hê. Maar ek het beslis nie gevra vir ’n hele jaar in my kamer nie.
Die pandemie het ’n groot invloed op die meeste leerders se akademiese program gehad. Ek het self nie baie probleme in dié verband gehad nie; daar is wel diegene wie se omstandighede anders as myne is.
LEES OOK: #covidkinders: ‘Vandag is jou enigste kans’
Uiteindelik het Covid-19 sóveel van my hoërskooldrome gesteel. Al die danse waarna almal so uitgesien het wat eensklaps net wég is. En, die ergste, die matriekafskeid en interskole wat gekanselleer is. Met alles wat afgestel is, het baie van die skool se gees verlore gegaan.
Ek kan my ook nie indink hoe verlede jaar se matrieks moes voel nie. Hul laaste jaar op skool is so erg ontwrig …
LEES OOK: #covidkinders: ‘Ek gaan die toekoms goudgeel inkleur’
In dié tyd is dit baie moeilik om soggens op te staan en skool toe te gaan. Ek het dikwels nie die krag en moed om dit te doen nie. Dis ook ongemaklik om elke dag ses ure lank ’n masker te moet dra. Dit voel asof ek deur my eie asem versmoor word. Daarom kyk ek elke oggend op my foon om te sien of ek wel moet skool toe gaan. Deesdae word die skooldag afgestel as gevolg van een kind wat Covid-19-positief is.
LEES OOK: #covidkinders: ‘Vertrou volkome op die Here’
Maar ek is nie vir Covid-19 bang nie. Wat maak my dan bang?
Ek is bang om groot te word. Ek, tans in graad 11, moet tog nou reeds ’n idee hê watter loopbaan ek wil volg. Sodat ek kan weet waar en wat ek moet gaan studeer. Dit maak my uit my sokkies uit bang, want ek weet nie wat ek eendag wil word nie. En as ek dit nie weet nie, kan ek nie begin om aansoekvorms in te vul nie.
LEES OOK: #covidkinders: Die hoop op ’n nuwe môre
Ek is ook bang om eendag alleen te bly, om huur vir ’n eie woonstel te moet betaal. Om al die ander onkoste self te moet dra. Om dié blyplek te moet beveilig. Ek weet nie hoe ek dit gaan regkry nie. Boonop moet ek geld hê om te kan eet.
Daarom: Wat my eintlik die bangste van alles maak, is om eendag nie meer my ouers te hê wat na my omsien nie.
LEES OOK: #covidkinders: ’n Virus het my herinneringe kom steel
Te midde van al die negatiewe dinge wat die pandemie meegebring het, is die Here my vernaamste bron van hoop en bemoediging. Hy, my familie en my vriende. En my ouers.
- Mia Jonck is ’n 17-jarige leerder aan Hugenote Hoërskool in Wellington.
LiG vier #Jeugmaand deur leerders te nooi om bydraes vir ons #covidkinders-rubriek te lewer.