Daar het byna tien jaar verloop sedert die “Modimolle-monster” en sy drie handlangers Ina Bonnette wreed gemartel, geskend en verkrag het. Net daarna het haar vervreemde man haar 19-jarige seun koelbloedig doodgeskiet. Ná alles het sy gekies om op te staan. Om te lewe. Hier is die storie van haar keuses.
DEUR INA BONNETTE; HOOFFOTO: LOZANNE PIENAAR
Om ’n kind te verloor, is vir seker die ergste ding wat enige ouer kan oorkom. Conrad was die eerste kleinseun wat die familienaam gedra het en hy is van ons weggeneem. Die stamboom het by hom geëindig. Ons moes die wegskeur van ’n kind, ’n enigste boetie en ’n kleinkind hanteer en verwerk.
Dan kom die vrae. Dinge soos: “Ina, waar staan jy met vergifnis teenoor Kotzé?”
My antwoord sal altyd dieselfde wees: “Vergifnis is ’n saak tussen my en die Here.”
Die Woord sê ons moet vergewe, maar die Woord is nie gekoppel aan tyd nie. Dit is ook nie my plek om dit bekend te maak nie. Ek hoef dit nie teenoor Kotzé te erken of na hom te gaan nie. Ek hoef nie met hom te praat nie. Dit is ’n saak tussen my en die Here alleen. Die Here het my vrygespreek, want ek het lewe gekies, en ek leef elke dag voluit.
‘Ek vorder tree vir tree’
Tydens die aanranding is my liggaam gruwelik geskend. Die J88-verslag bevat al die besonderhede en die hof dra kennis van elke stukkie detail. Ek vra telkens aan myself: Hoe kan enige mens sulke ondraaglike en onmenslike dinge aan ’n ander een doen?
My liggaam is ’n tempel van die Here. Wie gee enigiemand die reg om dit skade aan te doen? As ek vandag terugkyk en onthou hoeveel operasies ek moes ondergaan om net my leefwyse weer naastenby te kry soos wat dit voor die aanranding was, besef ek weer die wonder van die Here wat sy hand oor my gehou het en dit steeds doen.
LEES OOK: KYK: ‘Glo daar is ’n God – want hiér is my ma,’ sê seun ná 40 jaar
Daar is sigbare letsels oral op my liggaam, maar ek troos my daaraan dat dit oorwinningsletsels is. Soms is my voete onuithoudbaar seer, maar ek stap elke dag. En so, tree vir tree, vorder ek op die pad na volkome herstel, liggaamlik én geestelik. Alle eer kom ons hemelse Vader toe vir sy genade en liefde wat my elke dag steeds staande hou en sterk maak.
Ek en jy staan voor ’n daaglikse keuse. Dít was trouens die grootste uitdaging in my lewe, en dit was die keuse wat ek moes maak. Ná dit waardeur ek moes gaan, sal enige mens vuil voel. Besmet.
Hoe kom ’n mens deur so ’n traumatiese ervaring? Jou hele menswees is vernietig.
Tog het ek my keuse gemaak: Ek wil en ek gaan opstaan. Ek en Conrad het nie dit wat gebeur het verdien nie. Ja, ek is erg verneder, maar ek is nie skaam nie.
My keuse was om op te staan, my keuse was om te veg vir geregtigheid ter wille van my kind. Dit was my keuse om nie as “slagoffer van die Modimolle-monster” bekend te staan nie, maar as “oorwinnaar oor die Modimolle-monster”.
Ek kan getuig dat my keuse om op te staan die beste een is wat ek ooit gemaak het. Die Here gebruik my as sy instrument om uit te reik na ander wat in soortgelyke strikke vasgevang is. Sodoende wil ek hulle help om ’n keuse uit te oefen waarin hulle eerstens teenoor hulleself kan erken wat dit is wat hulle gevange hou, en om dan reg te kies.
My verhaal word die instrument wat mense aanraak wat deur ’n verhouding vernietig word of reeds vernietig is. Mense wat nooit die gevaartekens raaksien of raakgesien het nie.
’n Beter môre
Hoop is vir my soos ’n voertuig se voorruit. Hoop lê nie in die truspieël nie. As jy in jou voertuig sit en daar is ’n struikelblok in die pad, sal die truspieël jou nêrens kan neem waar daar nuwe lewe of vrede is nie. Wees gefokus op die groot voorruit waardeur jy duideliker kan sien, en dan ’n groter en baie beter keuse kan maak.
Vir erkenning is daar hoop, vir hoop is daar vrede, en vir vrede is daar oorwinning!
Daar is ’n beter môre as ’n slegte gister. Kyk terug oor jou eie lewe en vra jou dié vrae af:
* Het ek al by my doel uitgekom?
* Het ek alles bereik wat ek my ten doel gestel het?
Ek het baie groot doelwitte vir myself gestel, maar die duiwel het ingestorm en my drome van my weggeskeur. Die troos agter alles is: Al het ek iewers in my lewe gefaal, is dit deel van ’n gister. Dis ’n gister wat ek nie kan verander nie. As ek as slagoffer erken ek het die verkeerdste moontlike keuse gemaak om Johan Kotzé in my lewe toe te laat – en ek staan dán op, is daar hoop. Dan is daar genesing en oorwinning.
Elke dag bring ’n groot uitdaging om op te staan en met my lewe aan te gaan. Daar kom dae waarin ek onuithoudbare pyn ervaar, maar die besef en die erkenning dat ons hemelse Vader my sterk gehou het en dit steeds doen, maak die pyn draaglik. Dit herinner my elke dag daaraan dat ek nie sal stagneer nie, dat ek myself nie sal toelaat om te gaan lê nie.
Ek staan elke dag op en sê dankie aan die Here vir nog ’n nuwe dag in my lewe waarin ek voluit kan leef: vir my dogter Angelique, vir my ma en vir myself.
Ja, daar is baie krakies in my, maar my troos is dat ek weet dis waardeur Jesus se lig wat binne-in my is na buite skyn.
Met beter keuses en met God wat in beheer van my lewe is, is daar vir seker ’n beter more.
‘Dit gaan goed’
Ek woon steeds in Modimolle, dit is waar my loopbaan as finansiële adviseur begin het. Waar jy ook al gaan, neem jy die dinge wat met jou gebeur het saam met jou, en daarom het ek hier aangebly.
Dit gaan vandag goed met Ina, dankie. My loopbaan as finansiële adviseur floreer en ek is dankbaar om my ma en my dogter Angelique aan my sy te kan hê. Ek is baie trots op Angelique, op hoe sy haar lewe aanpak en voluit lewe.
- Dié getuienis is saamgestel uit die boek wat Ina in 2014 begin skryf het*, asook Ina se eie vertellings.
* INA – ’n Verhaal van genade en genesing word deur LUCA, ’n druknaam van Penguin Random House, uitgegee. Bestel die boek aanlyn hier of koop by boekwinkels.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.