DEUR SIMONE GAUCHE
Weeksdae in ons huis ontaard gewoonlik in ’n gejaag, soos vermoedelik in die meeste huishoudings. Die kinders moet by die skool kom – en dit is maar die begin van al die verpligtinge daaraan verbonde. Hul talle bedrywighede, sport en ander buitemuurse aktiwiteite, en hul maatjies en sosialisering, eis baie van hul ouers. Laasgenoemde is haastig, want hulle moet die pot aan die kook en ’n huishouding aan die gang hou.
As alles oplaas afgehandel is, lê die dag op sy rug. En môre … begin dit van voor af.
Al dié dinge maak dit besonder ingewikkeld om tyd in te ruim om sommer te gesels, om bloot mekaar se teenwoordigheid te geniet. “Ek is (te) besig” het die mantra van ons tyd geword.
En, nee, dit is toe nie bloot ledigheid wat die duiwel se oorkussing is nie; ons besig wees het een van die Bose se handigste instrumente geword. Want ons is besig met dinge, nie met mense nie. Ons werk en werk en werk; ons kyk televisie en speel rekenaarspeletjies; ons maak huis skoon en skottelgoed vuil. Ons is besig, besig, besig. Ons is te besig om met mekaar te praat.
In die Bybel leer ons egter ’n ander leefwyse ken. Hier maak mense tyd vir mekaar. Hier is gesprekke belangrik, waartydens daar ook oor God en sy gebod gepraat word. Hoor die Here se ou, ou voorskrif: “Hierdie gebooie wat ek jou vandag gegee het, moet in jou gedagtes bly. Jy moet dit inskerp by jou kinders en met hulle daaroor praat as jy in jou huis is en as jy op pad is, as jy gaan slaap en as jy opstaan” (Deut 6:5-9).
#leefLiGter die volgende 40 dae: ‘Ander se getuienisse help ons om verby vrees en verdriet te kyk’
Dit is tydens gesprekke waar die wonderwerke in ’n huisgesin plaasvind. En op enige moontlike plek – om ’n etenstafel, in ’n motor. In die bed, wanneer ons soggens wakker word voordat ons begin regmaak vir die dag wat voorlê. Of wanneer ons saans saam uit die Bybel lees en saam bid voordat ons gaan slaap.
Dit is wanneer ons op hierdie manier ons tyd saam deurbring en met mekaar gesels dat ons dankbaarheid in ons gesin kweek. Dan ontdek ons waar die Here ons in die loop van die dag ontmoet en geseën het. Ons word bewus van sy leiding. Hy word deel van ons gesin se bewustelike, daaglikse ritme.
Ons bevind ons as ’t ware op heilige grond wanneer ons dit doen, wanneer ons sy teenwoordigheid beleef en met mekaar daaroor praat. Dit is in hierdie tyd dat ons ons verbintenis aan mekaar hegter smee. Daarby word gesonde waardes gekweek. Ons praat oor wat reg en verkeerd is. Ons beredeneer standpunte en opvattings en oortuigings. Ons leer om van plan te verander. Ons leer by mekaar, en ons leer uit mekaar se foute.
Hoor die opdrag aan die ou woestyntrekkers: “Daar in die teenwoordigheid van die Here julle God moet julle en julle families saam eet en bly wees oor alles wat julle reggekry het deurdat die Here julle God julle voorspoedig gemaak het” (Deut 12:7).
Dis maklik om in die lewe se alledaagse gang en die sleur daarvan vasgevang te word. Dan droog die geselsies op. Dis jammer, want hoe meer – en hoe meer dikwels – ons met mekaar praat, hoe nader groei ons aan mekaar.
Mag jy hierdie week ál meer oortuig word van hoe belangrik dit is om geselstyd te hê. Mag jy gedring word om desnoods sulke tyd in jou besige dag te skep. En mag jy ons hemelse Vader se teenwoordigheid en sy liefde ervaar in sulke geselstye met jou geliefdes.
- Simone Gauche is ’n mamma met twee seuntjies, en ’n mediese dokter wat in die staatshospitaal op Mosselbaai werk.