Op 24 Oktober 2019 om presies 06:46 het my lewe handomkeer verander.
Dit was ’n maand voor my 27ste verjaarsdag, en ek was oudergewoonte besig om gereed te maak vir werk. Ek is badkamer toe, maar met my terugkeer na die kamer om aan te trek, het ek gevoel iets is drasties fout. My regterarm was besig om stelselmatig lam te raak. Ek het op die bed gaan sit om my man te bel.
My man het later vir my gesê dat ek in daardie stadium reeds nie in staat was om te praat nie. Ek het blykbaar kreungeluide gemaak asof ek in pyn was. Hy het dadelik huis toe gejaag en my op die bed aangetref. Hy kon sien iets is ernstig fout en hy het ’n vriend gebel om hom te kom help om my in die motor te kry en dokter toe te neem. Dit het hom 12 minute geneem om van sy werk af te ry en my by die dokter te besorg.
Ek onthou geen van hierdie gebeure nie. Ek het eers ’n week na die aanval begin registreer wat werklik om my aangaan en wat met my gebeur het. Ek weet nou ek is na ons huisdokter gehaas, waar hy my gestabiliseer het en ’n ambulans gebel het om my na die Lapa Munnik-hospitaal te neem. Toetse is uitgevoer, en ek is dieselfde oggend oorgeplaas na Paarl-hospitaal vir verdere toetse. Hier is dit bevestig dat ek ’n baie ernstige beroerte gehad het. Die dokter het aan my man die slegte nuus oorgedra dat ek óf gaan sterf óf in ’n rolstoel gaan beland.
Die eerste drie dae ná my aanval het ek niemand om my herken nie en ek was basies in ’n koma. Gedurende hierdie dae het ek deur my neus buisvoeding ontvang. Ek kon nie self sluk nie en ek kon ook nie praat nie. Die regterkant van my lyf was geheel en al verlam. Na ’n week kon ek my tone begin beweeg, en op 2 November, tydens die Wêreldbeker-rugbyeindstryd, het ek vir die eerste keer geloop sonder om aan iets vas te hou – al was dit sleepvoet.
Toe ek weer van een tot tien kon tel …
Ons is so dankbaar vir die dokters en veral die verpleegpersoneel wat uit hul pad gegaan het om my met alles te help. Die een verpleegster het my selfs gehelp om die woorde, “Ek is lief vir jou, Frikkie (’n troetelnaam),” neer te skryf in ’n poging om met my man te kommunikeer – terwyl ek nie die woorde kon sê nie. Ek is na twee weke uit die hospitaal ontslaan en reëlings is getref dat ek na die Western Cape Rehab Centre (WCRC) in Mitchell’s Plain sou gaan. Ek moes ’n week wag voor ek opgeneem kon word en in daardie week het ek begin met spraak-, fisio- en arbeidsterapie. Met my eerste sessie by die spraakterapeut (Kim Marsh), kon ek vir die eerste keer ’n woord of twee praat. Ek het (met hulp) van 1 tot 10 getel en die dae van die week opgesê. Dit was ’n baie emosionele oomblik en ’n reuse-oorwinning.
Die eerste besoek aan Kim en hierdie mylpaal het my veggees behoorlik laat inskop: as ek dít kon regkry met my eerste sessie, dink net wat ek met harde werk en geloof verder sou kon vermag!
Die eerste dag toe my man my by die WCRC-sentrum afgelaai en ingeteken het, was ek baie hartseer en mismoedig. Ek het so alleen en verlore gevoel en ek kon my trane nie keer toe hy daar wegry nie. Tog het ek geweet dit is vir my eie beswil, want hier sou ek elke dag die regte behandeling kry.
Ek is van 14 November 2019 tot 27 Februarie 2020 hier behandel waar ek intensiewe spraak-, fisio- en arbeidsterapie ontvang het. Ek kan net met lof en deernis van hierdie toegewyde personeel praat. Ek het gou deel gevoel van hierdie familie van mense. Hulle het ’n passie vir hul werk en opregte omgee vir die pasiënte wat hier kom aansterk. Ek kon skaars praat en ek het sleepvoet geloop toe ek hier aangeland het. Ek was in staat om my regterarm effens op te lig, maar met my hand self kon ek niks uitrig nie. Die engele wat hier werk, stuit egter vir niks nie en met hulle hulp kon ek teen die einde van my behandeling ’n bietjie lees, stadig praat en selfs ’n entjie draf.
Dis nie van God nie
As so iets met ’n mens gebeur, vra jy vrae. Jy wonder hoekom dit gebeur het en waarom met jóú. ’n Oom het eendag vir my uit die Bybel gelees – die oom se naam en die teksvers kan ek nie onthou nie. Wat ek wel besef het, is dat dít wat met my gebeur het, van die vyand is – nie van God nie. Ek het besluit om te veg – ek wóú beter word, en ek het. My geloof het saam met my gesondheid gegroei. Die Here het vir my ’n tweede kans gegee. Ek wil voluit leef en vir mense vertel: Kyk, ek is nog hier! Ek leef met alles in my!
Op my 28ste verjaarsdag, (22 November) het ek vir die eerste keer vir ’n naweek huis toe gegaan. Ek was effens skrikkerig omdat ek ten tyde van die aanval alleen by die huis was en ek nie heeltemal geweet het hoe om dit te hanteer nie. Uiteindelik was dit egter so lekker om tuis te wees en alles het normaal gevoel. My pa was die een wat my by die WCRC kom haal het. Daardie aand het ek en hy ge-two-step op die liedjie, Tulsa Time, van Don Williams. Dit was ’n reusemylpaal vir my en ek het my belofte wat ek aan my pa gemaak het in die Paarl-hospitaal – dat ek met hom sou dans op my verjaarsdag – nagekom!
Die mense wat ek deur my ervaring ontmoet het en die vriende wat ek gemaak het, maak my lewe tot vandag toe nog ryker. My spraakterapeut, Celeste Edwards, was my rots en my go-to-persoon. Sy het selfs gereël dat ek twee weke ekstra kon aanbly vir verdere behandeling. Hier het ek ook mense ontmoet wat veel erger as ek daaraan toe was – mense wat nie kon loop, praat, oefen of enigiets vir hulleself doen nie. Ek het geleer dat daar só baie is om voor dankbaar te wees, en dit het my motto geword.
’n Teksvers wat ek in my hart dra en vir my baie spesiaal is, is die volgende: “Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ’n toekoms gee, ’n verwagting!” (Jeremia 29:11).
- Karin Coetzee (32) is ’n gekwalifiseerde sjef wat deesdae, na ’n tweede, ligter beroerte, ’n tuis-entrepreneur is, terwyl haar man, Martin (35) ook sy eie onderneming bedryf. Hulle woon op Porterville in die Wes-Kaap en is aktiewe lidmate van die House of Fellowship-gemeente.
- Dié getuienis is op 27 Mei 2024 aangepas.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.