‘Sedert my beroerte kan ek glad nie hoor wat ek sê nie. En my stem is onlosmaaklik deel van my roeping. Tog kry ek die krag om steeds as internasionale spreker te werk.’
DEUR MARIETTE SNYMAN
Toe Cherona Dannhauser (45) van Richardsbaai een oggend in Mei 2022 wakker word, het sy geweet daar is groot fout. “Ek het geweldige pyn en druk aan die onderkant van my linkeroor ervaar. As ek praat, kon ek net plof- en sleepgeluide hoor. Maar my man Duane het gesê ek klink normaal. Ek het gehoop dis slegs ’n oorinfeksie.”
Twee dae later was daar steeds geen beterskap nie, en Cherona is na ’n oor-, neus- en keelspesialis. “Volgens hom was daar drie moontlike oorsake: ’n beroerte, ’n gewas, of ’n infeksie in albei ore.
“‘Dit kan onmoontlik ’n beroerte wees,’ het ek nog gesê. Omdat ek reeds jare lank velkankerseisoene beleef, het die dokter ’n MRI-skandering aangevra en my na my onkoloog gestuur.
“Dit wás toe ’n beroerte, ’n sogenaamde ‘vetro fibrovascular isometric stroke’. Ek het geen idee gehad wat dit beteken nie. Vir my was ’n beroerte iets wat jou spraakvermoë en seker motoriese funksies aantas, nie jou gehoor nie.
“Maar hier het die bloedklont, in plaas van na my brein, in die rigting van my linkeroor geskiet. Ek het die gehoor in my linkeroor verloor en slegs beperkte gehoor in my regteroor behou. Die ergste was dat ek nie meer my eie spraak kon ontsyfer nie.
“Ek het bly vra: ‘Wanneer sal ek weer kan hoor wat ek sê?’
“Die antwoord was: ‘Nooit, want die betrokke neuropaadjie is vernietig.’ Indien die koglea ‘ontkoppel’ sou word, kon dit moontlik die eggo’s en vreemde geluide wat ek hoor terwyl ek praat, verminder.
“’n Week ná hierdie ingrypende gebeure was dit weer tyd vir die velkanker-bestraling. Daar was nie kans om enigsins die trauma van die oor-beroerte, die fisieke gevolge of die emosionele impak te voel en te verwerk nie.
“Ná die bestraling het my wêreld behoorlik tot stilstand gekom. Ek het opgehou om kliënte te spreek, en ek het ’n paar weke opsy gesit om alles te prosesseer en om te bepaal hoe my lewe moes voortgaan. Ek weet my roeping is om as afrigter en praktisyn na mense te luister, en as professionele spreker waarde tot ander se lewe toe te voeg. Nou kon ek nie my eie spraak ontsyfer nie … Hoe kon ek vertrou dat ek die regte dinge sê?
“Wanneer ek met kliënte werk, verduidelik ek dat enige uitdagende reis opdraandes en afdraandes insluit, wat soms verg dat ons halt roep. Ek was nou op so ’n plek.”
‘Die enigste oplossing’
“Ek moes ’n besluit neem: Moet ek my loopbaan aanpas, of moet ek ’n ander rigting inslaan? Moet ek my roeping en waardes herevalueer?
“’n Maand lank het ek baie min gepraat. Ek was kwaad, hartseer. En in ontkenning. Soms het ek ’n hele spektrum emosies in een dag ervaar, en myself toegelaat om elkeen te vóél.
“Ek is oneindig dankbaar vir my ervaring van kognitiewe gedragsterapie, neurolinguistiek en ander prosesse wat ek al jare lank met kliënte toepas; dit het baie gehelp. Ek het my begin afvra hoeveel van die emosies wat ek ervaar het, wérklik was.
“Op die dae wat ek die hartseerste gevoel het, het ek ’n paragraaf uit een van my gunstelingboeke hardop gelees en dit met my selfoon opgeneem. Wanneer ek daarna geluister het, het ek my ‘ou’ stem gehoor.
“Daar was dus twee werklikhede: die plof- en sleepgeluide wat ek hoor terwyl ek praat, en al die emosies wat dit ontketen het, en my normale stem en woorde wat ander hoor.
“My emosies was geldig, maar die waarheid was dat die mense wat ek met toewyding en oorgawe dien, steeds my stem kon hoor soos ek dit beplan het.
“Die enigste oplossing was om my tong, spiergeheue en brein te vertrou. Niks was binne my beheer nie, behalwe my reaksie.
“Nou het ’n daaglikse leerproses begin, juis in die tyd toe ek by talle jaareindfunksies moes optree. Die eerste keer toe ek my stem oor ’n luidspreker hoor, was ek byna dood: daardie plof- en sleepklanke teen vol sterkte!
“Ek moes my daaraan herinner dat dit die emosie van mý werklikheid was en nie die waarheid vir ander nie. Wat ’n bisarre situasie!”
Perspektief: paspoort of tronk
“Omdat ek soms daaraan getwyfel het of al my varkies nog op hok was, het ek besef dat geestesgesondheid ’n integrale deel van enige liggaamlike herstelproses vorm. Ek wou nie in ’n oppervlakkige genesingsproses vasgevang word nie. My doel was om nuwe neuropaadjies in my brein te skep sodat ek my verlies kon aanvaar en dit met grasie hanteer. Ek wou daaroor praat op ’n manier wat ook vir ander waarde sou hê.
“Ek het voorheen ’n groot verlies met behulp van BrainWorking® Recursive Therapy verwerk – dit is ’n nuwe vorm van psigoterapie, wat op die neurowetenskap gegrond is. Dit skep nuwe neuropaadjies, met die gewenste emosionele reaksie, op die problematiese stimulus. En die verandering is blywend. ’n Klompie sessies met ’n kliniese sielkundige in my omgewing het ’n reuseverskil gemaak.
“Perspektief is vir my lewensbelangrik. Ek het geleer: ‘Perspective can be your passport or your prison.’ Wanneer ons in ’n bepaalde situasie vasval, is dit bloot omdat ons nie verder groei nie. Sodra ons visie verbreed en ons meer moontlikhede begin raaksien, besef ons dat ons wel keuses het.
“Soms moet iemand ons help om ons perspektief aan te pas. Omstandighede het my geleer hoe belangrik dit is om hulp te vra. Die trauma van die beroerte was nie my eerste pynlike verlies nie; my pa het in ’n plaasaanval gesterf, en ons een seun het Tourette-sindroom.
“Trauma is werklik, dit raak ons ten diepste. Wanneer die las te swaar word of ons nie vorentoe kan beweeg nie, is dit tyd om uit te reik. Ek wil nooit in een seisoen bly vassteek omdat ek soos ’n slagoffer voel nie.”
’n Wonderwerk
In Desember 2022, etlike weke ná ons gesprek, moes Cherona ’n knievervanging ondergaan. Dit was suksesvol – maar nadat sy ontslaan is, was daar ernstige komplikasies: Twee bloedklonte in haar been het haar lewe in gevaar gestel.
“Toe die dokter die bloedklonte op die skerm sien, het Duane agter hom gestaan. My man steur hom selde aan sy selfoon, maar om die een of ander rede het hy ’n foto van die skerm geneem.
“Die kommer op Duane se gesig, en die dokter s’n, het my laat besef dis ernstig. En ek het die Heilige Gees hoor sê: ‘Roep jou weermag op om vir jou te bid.’
“Ek vra nie maklik vir gebed op sosiale platforms nie; ek het wel ’n klein kring gebedsvegters. Tot vandag toe onthou ek nie dat ek my foon opgetel en die versoek getik het nie, maar dis steeds daar, saam met die foto van die bloedklonte. Die boodskap lui: ‘I know this is life threatening, but I’m declaring healing. Right now I am bone tired, and simply can’t do this alone. Today I call on His army.’
“Dae later het die skerm gewys die klonte is weg. Die dokters en radioloë het verward daar gestaan, en was bereid om dit as ’n ‘foutiewe diagnose’ af te skryf. Ons het Duane se foto van die skerm vir hulle gewys en gesê: ‘Hier is die bewys.’
“Op daardie oomblik het ek geweet dat as my gebedsversoek slegs een hart van die krag van gebed oortuig het, dit die moeite werd was. Ons is één asemteug, één geloofstree weg van ’n wonderwerk.
“Elke dag is ’n geleentheid vir die alledaagse én die grootse om in ons lewe na vore te kom, en ’n getuienis te wees.”
- Cherona Dannhauser woon in Richardsbaai en werk onder die naam “Cherona D”. Sy is ’n skrywer, ’n internasionale spreker, NLP-praktisyn en korporatiewe fasiliteerder.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.