Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide

‘Daar was niks van my drome oor nie, maar God is genadig,’ vertel tweeling se alleenpa

DEUR ILETTE COETZER

Byna drie jaar gelede, net ná haar tweelingseuntjies se geboorte, is Esmarie Schreuder oorlede. Haar dood het mense landwyd diep geraak. Die tweeling, Janru en Hendré, was maar enkele dae oud toe hul ma ’n beroerte gekry het. Sy het op 2 Augustus 2020 aan bloeding op die brein gesterf.

Volgens Johandré was dit hom en Esmarie se droom om eers bietjie te toer voor hulle met \’n gesin begin het. Dié foto is geneem net voor hulle na Namibië in 2019 getoer het. Foto verskaf

Haar man Johandré verwoord sy emosies só: “My lewe was aan skerwe. Daar was niks van my drome oor nie.”

Dan voeg hy by: “Maar God is genadig. Ek het nooit gedink dat ek ná soveel hartseer weer geluk en liefde sou vind nie.” 

‘Dit was nag!’

Die eerste drie maande ná sy vrou se dood het Johandré en die tweeling by sy skoonouers in Kimberley gebly. “Dit was nag! Janru was ’n bietjie sterker as sy boetie en het elke vier ure gedrink. Maar Hendré was elke twee uur wakker.”

Die een is skaars neergelê, dan het die volgende een se voeding begin. “Ons het in skofte gewerk – ek, my skoonouers, my skoonsus, ’n niggie en vriende. Sonder hulle sou ek dit nie kon regkry nie.”

Johandré en Bianca is op 8 April vanjaar getroud. Foto verskaf

Johandré vertel hy het soggens 05:30 opgestaan om Douglas toe te ry. Om 17:00, net ná werk, is hy terug Kimberley toe om die tweeling te bad en in die bed te sit. Maklik was dit nie. Vir Johandré was dit trouens oorweldigend. Hy moes pa én ma wees.

’n Jong meisie het destyds gevoel die Heilige Gees lei haar om na die tweeling as au pair om te sien. Sy is sak en pak Kimberley toe en het by die Schreuder-huishouding vir ’n jaar lank ingeval. 

’n Lang afskeid

Tussen al die trane, hartseer, min slaap en die versorging van pasgebore baba’s deur, het die huurkontrak van hul woonhuis op Douglas verval. Daar was egter soveel hartseer herinneringe in daardie huis dat Johandré besluit het om ’n nuwe begin in ’n nuwe huis te maak.

As hy vandag daarop terugdink, besef hy hoe belangrik daardie stap in sy genesingsproses was. Hy het self alles ingepak en die huis opgeruim. En dit het hom die geleentheid gegee om van Esmarie afskeid te neem. Met elke boks wat hy gepak het, is ’n stukkie seer verwerk.

“In die proses het ek gereeld gehuil. Soms het ek, tussen al die trane deur, Esmarie so ’n bietjie verwyt omdat sy my gelos het. Maar ek weet dit was nie haar skuld nie. Ek het destyds net nie opgewasse gevoel vir die taak wat voorgelê het nie.”

Die volgende groot draaipunt in Johandré se lewe was ’n familienaweek in Clarens in September 2021. Johandré het dikwels alleen gaan stap. En daar het hy van Esmarie afskeid geneem deur haar as in die Vrystaatse sandsteenberge te strooi.

“Ek het teruggekom en die lewe in die oë gekyk,” vertel hy. “Ek het besef dat ek nou my kop moet optel en vir my twee kinders ’n nuwe lewe skep.

Johandré sê elke mens hanteer verlies op ’n eiesoortige manier. “Ek sou dit egter nie sonder my geloof kon regkry nie. Sommige mense word kwaad en kom in opstand.”

Johandré het egter met sy hele wese aan God vasgehou. Op Esmarie se roudiens het hul pastoor uit Prediker 9:11-12 gelees en onder meer gesê: “Slegte dinge gebeur met goeie mense. Die Here neem jou soms deur ’n woestyn om uiteindelik by die beloofde land uit te kom. Dis hier in die woestyn waar jy gevorm word.”

’n Nuwe begin

Johandré se beloofde land was ’n nuwe begin in ’n nuwe huis. Op Douglas.

Intussen het Johandré en ’n ou skoolvriendin Bianca met mekaar kontak gemaak. Sy het in daardie stadium ’n dagsorgsentrum op Douglas bedryf en het met die tweeling begin help. Hulle het diep in haar hart gekruip.

Bianca het af en toe by Johandré gaan inloer om seker te maak hy hou kop bo water. Haar opregtheid en haar liefde vir kinders en ander mense het Johandré onmiddellik geraak. Ook haar liefde vir die Here.

Hulle het gou hul vriendskapsbande hernu. En nie lank daarna nie het hulle besef dat hul vriendskap meer as dit geword het.

Johandré sê hy het nooit gedink hy sou ’n tweede kans op liefde kry nie. “Dis nie sommer enige iemand wat kans sien om ’n ander vrou se kinders groot te maak nie. My grootste vrees was dat Janru en Hendré in ’n huis sonder ’n struktuur sou grootword; kinders het ’n pa én ’n ma nodig.”

Maar die Here het voorsien. Johandré en Bianca is op 8 April vanjaar getroud.

Bianca het haar hart vir die twee seuntjies oopgemaak en sy praat van die twee as haar eie. Johandré vertel: “Alles het nou uitgewerk. Nou die oggend, toe ons al vier in die bed lê, sê ek vir Bianca: ‘Hiérdie is nou reg!’”

Die Here is by jou

Johandré se raad aan mense wat ’n groot verlies gely het?

Gaan soek hulp op die regte plekke. Die Here is by jou.

Johandré se kerk op Douglas was sy ondersteuningsnetwerk. Sonder die kerkmense se betrokkenheid, berading en ondersteuning, sou hy nie kop bo water kon hou nie.

Hy en Bianca droom nou saam oor die twee seuntjies. “Ons wil vir hulle ’n goeie huis gee. Ek wil graag my seuns opvoed om eendag priester van hul huis te wees. Sterk manne met ruggraat.”

En, wie weet, dalk is daar binnekort ’n boetie of sussie op pad …

* Gaan kyk gerus na die tweeling se Facebookblad.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.