Ek en my man Christiaan het op 13 Oktober 2007 ewige trou aan mekaar beloof. Tot die dood ons skei. Min het ek geweet wat ons pad saam sou inhou.
Twee pragtige kinders is uit ons verbintenis gebore, Jano (2009) en Tiane (2011).
Iewers in April 2013 het Jano, soos enige ander bedrywige vierjarige, by die kleuterskool geval. Daar was blou kolle – maar dis tog normaal as ’n mens hard geval het …
’n Paar dae later kon ek egter sien dat dié blou kolle nie normaal lyk nie en ek het hom na ons huisdokter toe geneem. In dié stadium het sy neus ook soms gebloei. Die dokter het ’n volbloedtelling aangevra. Vroeg die volgende oggend het ’n pediater gebel en ons aangesê om Jano te bring, en om ’n tassie vir hom te pak.
LEES OOK SANÉL SE ANDER GETUIENIS: Dapper vrou se stryd: ‘Hoe kón my man dit doen?’
In sy spreekkamer het die pediater verduidelik dat Jano se witbloedtelling abnormaal hoog is. En dat, gepaard met die blou kolle, wat toe ál meer soos bloedkolle begin lyk het, dit op bloedkanker (oftewel leukemie) kan dui. Hy wou hê Jano moes opgeneem word vir verdere bloedtoetse.
Tydens my kind se opname het ek so gesit en huil dat ek skaars die ontvangsdame se vrae kon beantwoord. Dit was so onwerklik, so onmoontlik. Hoe kón dit met my vierjarige gebeur?
Die “goeie” of die “slegte” soort?
Jano sou, ná ’n verdere bloed treksessie, teater toe moes gaan vir ’n lumbale punksie om beenmurg te onttrek. Maar toe kom sê die pediater dat ’n besoek aan die teater onnodig is; die kanker is so opsigtelik in sy bloed teenwoordig dat verdere toetse oorbodig was.
Dit was slegs ’n vraag of dit die “slegte” of die “goeie” soort leukemie was. By die “goeie” soort is daar nie ’n beenmurgoorplanting nodig nie, hoewel die chemoterapie langer duur. By die “slegte” soort is ’n beenmurgoorplanting wel nodig. Die chemoterapie duur nie so lank nie, maar die risiko is veel groter.
Ek onthou dat ek daardie nag langs Jano op sy hospitaalbed gelê het, helder wakker, en dat ek onophoudelik gebid het. Ek het die Here gesmeek om my kind se lewe te spaar. My ouers het in die vroeë oggendure by die hospitaal opgedaag nadat hulle baie ver gery het om ons te kom ondersteun.
Maande se chemoterapie
Dit was toe die “goeie” soort leukemie. En so het Jano se pad met die chemoterapie begin. Ná baie pille, naalde en lumbale punksies, en etlike hospitale, is bevind dat die kanker na sy milt en lewer versprei het. Die onkoloog het vir ons gesê as die kanker binne die eerste ses weke in remissie gaan, dit ’n teken was dat sy liggaam goed op die chemoterapie reageer.
Genadiglik was dit toe so.
Ná ’n hele paar maande se chemoterapie moes Jano elke week opgeneem word om die chemiese middels direk in die beenmurg te spuit. Hy moes doodstil lê daarvoor. Die onkoloog het toe besluit om dit eerder in die teater te doen aangesien Jano in daardie stadium nie meer so goed op lokale verdowing gereageer het nie.
Die engel in die gange
Op ’n dag in die Brooklyn-daghospitaal, tydens een van die vele kere wat Jano opgeneem is, het ek die man gesien: Hy het in die gange rondgeloop, en ek het stilweg gewonder na wie hy op soek was.
Toe Jano uit die teater terugkeer, het die einste man by die saal ingeloop en gevra waarom ons daar is. Hy het ook gevra of hy vir Jano mag bid. Toe het hy my seuntjie opgetel, en ek onthou hoe Jano soos ’n apie aan die vreemde man vasgeklou het.
Hy het op en af in die kamer geloop en bid. Toe hy klaar was, het hy na my toe gekom en gesê: “Die Here vra jou hart, en jou man s’n. En jou kind is genees.”
Hy het gevra of hy my kan help om Jano kar toe te dra. Ek het die deur vir hom oopgemaak en hy het Jano agter in die karstoeltjie vasgemaak. Ek het gebuk en my handsak op die voorste sitplek gesit. Maar toe ek omdraai om te groet en dankie te sê, was hy skoonveld.
Ek was verslae. Dit was ’n oop parkeerterrein en jy kan ver sien. Maar daar was niemand.
Dit was ’n engel, het ek toe geweet. En ek het onthou hoe kalm ek was terwyl hy by ons was, hoeveel vrede ek ervaar het, hoe beskerm ek gevoel het.
Dis byna 11 jaar later. My kind is steeds gesond. Wanneer die duiwel my kom wysmaak iets is fout, onthou ek die engel se woorde: “Jou kind is genees.”
*Sanél Allerston doen administratiewe werk by ’n versekeringsmaatskappy. Sy en haar twee kinders, Jano (14) en Tiane (12), woon in Komatipoort.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.