Op 7 Januarie 2011 – aan die begin van sy matriekjaar – het my seun, Ricus Smith, se lewe onherroeplik verander.
Ricus was ’n gesonde seun en goeie sportman. By Hoërskool Grens in Oos-Londen het hy krieket, rugby en swem gedoen. Dit was skoolvakansie en hy het met ’n klomp vriende gekuier, en gery om nog ’n vriend te gaan oplaai.
LEES OOK: ‘Sien jou later, Poppie …’
Net na middernag op 8 Januarie ontvang ek ’n oproep: My seun was in ’n motorongeluk en is bewusteloos. Ek het dadelik klere in ’n tas gegooi en gery vanaf Elliot na Oos Londen.
Omtrent drie ure later kom ek by Beacon Bay Life-hospitaal aan waar dokters my inwag. Hulle neem my na Ricus in die hoësorgeenheid – gekoppel aan masjiene wat sy asemhaling aanhelp en die drukking op sy brein monitor. Omdat ek nie die omvang van sy beserings verstaan het nie, het dit gelyk of hy net slaap.
Die breinspesialis het my die slegste nuus van my lewe meegedeel: Ricus het ’n baie erge breinbesering opgedoen en die hoop vir herstel was baie skraal – inteendeel, hulle kon niks vir hom doen nie. Ons moes net wag.
Ek was verpletter en magteloos. My jongste, gesonde kind! Die nuus het so finaal gevoel, maar ek het ook geweet ek kan nie met woede, haat en verwyte in my hart die Here smeek om in te gryp nie. Ek moes op Hom vertrou vir ’n wonderwerk, want dis al waar daar hoop was.
Ek was elke dag langs Ricus se bed met my Bybel. Op ’n dag lees ek in Psalm 41:3: “Die Here sal hom bewaar en hom in die lewe hou.” Net daar begin ek die Here loof en ek weet Hy het Ricus se lewe in sy hande. Ek het geglo my kind gaan leef!
Ricus het ná drie weke uit die koma gekom. Hy het ’n hemelse ervaring gehad wat hy met almal wou deel, maar met die pype in sy keel kon hy nie praat nie. Met groot moeite het hy dit vir ons gefluister: “Die Here het my geseën. Ek het gekniel voor Hom. Met sy spierwit klere en goue gordel het Hy vir my gesê: ‘Gaan vertel vir die mense hulle moet My dien!’”
In dié tyd het ek baie ondersteuning gekry. Ons het nie mediese fonds gehad nie en ek het nie geweet hoe ek al die rekeninge gaan betaal nie, maar die nuus oor die ongeluk het vinnig versprei. Mense in die gemeenskap en selfs ’n paar van oorsee het begin bydraes maak vir Ricus se behandeling. Sy vriende het ’n fondsinsamelingskonsert en ‘Stap vir Ricus’ gereël om te help geld bymekaarmaak. Almal het gehelp bid – in gebedsgroepe en tydens besoeke.
Dié bydraes het dit moontlik gemaak vir Ricus om in ’n privaathospitaal te bly tot hy na ’n rehabilitasiekliniek moes skuif vir terapie. Hy moes van vooraf leer loop, praat, eet, en sy kop regop hou. Dit het lank geneem, maar die Here het hom gehelp. Ná drie jaar het hy wonderbaarlik begin sterker word.
Later in sy herstelpad het Ricus vreeslike woede-uitbarstings gekry. Ek het nie geweet hoe om hom te hanteer nie, maar die terapeute en sielkundige het vir ons verduidelik hy is besig om te besef dat hy verander het. Ricus se hele lewe het drasties verander – en myne ook – maar die Here is goed vir ons.
Vandag het Ricus ongelukkig steeds ’n “trembling” in sy regterarm en -been. Medikasie en oefeninge kon tot dusver nie help nie, maar sy lewe is gespaar – loof die Here! Ons sal vir altyd ’n dankbare hart hê vir almal se hulp en bydraes.
Ek is die Here ewig dankbaar vir Ricus se wonderbaarlike herstel en dat hy geen letsels op sy liggaam het nie. Dat hy leef, is ’n wonderwerk.
- Riekie Smith (66) en Ricus woon in die Kaap waar sy hom versorg. Hulle doen alles saam en geniet dit veral om saam gim toe te gaan. Ricus help ook met take in die huis en tuin. Riekie sê haar kinders en stiefkinders is hul grootste steunplare.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.