Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Deel van jou, maar nie jý nie

Onvrugbaarheid kan jou raadop en radeloos laat. Ek het herhaaldelik gesien hoe mense hulle geloof as gevolg daarvan verloor. Dit is tyd om daaroor te praat. Babatee is byvoorbeeld baie moeilik.

Ek dink nie onvrugbaarheid gaan ooit weg nie. Hetsy jy onlangs ontdek het dat dit ʼn kwessie kan wees, al vir jare daaraan ly of selfs al het jy kinders. As so iets met jou gebeur is dit moeilik om daarvan te vergeet. Dit kan inteendeel elke aspek van jou lewe beïnvloed. Van jou huwelik, jou verhoudinge en sosiale lewe tot jou selfkonsep, selfvertroue en identiteit. Maar dit hoef jou nie sodanig te definieer dat jy heeltemal vergeet wie jy is nie.

DEUR JACKIE VAN WYK

Ek gesels onlangs met ʼn wildvreemde persoon by ʼn troue. Voor ek my weer kom kry, deel ek ons getuienis: “Na ses jaar van onvrugbaarheid, het die Here ons gebed verhoor! Te midde van ʼn IVF-siklus, het ek natuurlik swanger geraak! Twee profesieë wat oor ons lewe uitgespreek is, het eensklaps tot vervulling gekom!” Die vrou het aandagtig geluister, al die regte gesigsuitdrukkings gemaak en geduldig gewag tot ek klaar is met my verhaal.

“Ek is baie bly dat dit vir julle uitgewerk het,” sê sy effens sarkasties. “Vir my het dit toe nooit gebeur nie. Ek is nou in my vyftigs. My eerste huwelik het verbrokkel as gevolg van onvrugbaarheid. En ek het dit nou al soortvan aanvaar, maar ek het nog steeds baie vrae vir die Here.” Ek kon hoor dat sy diep seergemaak en effens bitter is. Sy voel eensaam in haar wêreld waar almal om haar kinders het. Sy het vertel hoe dikwels sy soos ʼn buitestaander voel. Hoe sy uit verskeie kringe onttrek het omdat mense eenvoudig nie verstaan nie. Dit was byna al waaroor sy kon praat.

Eensame vrou in veld
Foto deur Edu Grande

Ek het haar geensins veroordeel nie. Ek kan geheel en al insien hoe onvrugbaarheid so ʼn groot deel kan word van wie jy is. Dat dit later uitdagend kan wees om jouself op enige ander manier te beskou. Selfs nou dat ons wel ʼn baba het, beïnvloed dit wat met ons gebeur het my steeds. Ek moet myself gedurig herinner dat ek terselfdertyd “Jackie-met-ʼn-baba” en ook “Jackie-wat-lank-gesukkel-het-om-swanger-te-raak” is.

Die vrese wat onvrugbaarheid meegebring het, slaan steeds op verskeie maniere deur. Selfs al is daar geen rede daarvoor nie, voel ek steeds angstig as ek babatees bywoon. Alhoewel ek nooit ʼn miskraam gevrees het tydens my swangerskap nie, het daardie vrees vir verlies my na Isak se geboorte getref. Toe ons sy bedjie uit ons kamer skuif na sy eie kamer, het ek ʼn diep hartseer beleef. Ek het na ons kamer gekyk – dit het weer gelyk soos voorheen met geen tekens van ʼn baba nie. Ek het gewonder of dit alles ʼn droom was. Het dit regtig gebeur? Ek moes tien keer in sy kamer gaan kyk voordat ek begin rustig word het. Selfs met hom in my arms, het ek hartkloppings gekry as ek in ons kamer ingekom het en gesien het dat die bedjie weg is.

Daar is dalk diegene wat voel dat sodra iemand wel swanger raak en ʼn baba het, is hulle “uit”. Asof hulle nie meer lid is van jou eksklusiewe klub nie en nou nie meer gaan verstaan nie. Ek het gereeld so gevoel. Ek het gevoel hulle verraai my en laat my alleen agter. En ja, nou dat ek wel ʼn ma is, voel ek soms skuldig. Ek wens ek kon beter verstaan, meer mense help en dat almal wat graag kinders wil hê kinders kan kry. Ek het nie die geheime resep nie, maar ek het beslis langs die pad baie geleer wat ek voel van waarde kan wees vir ander.

As ek terugdink aan wie en hoe ek was voor onvrugbaarheid, is ek effens hartseer omdat ek weet dat daardie persoon vir jare lank verdwyn het. Ek was altyd positief en vol hoop. Toe word ek ʼn neerslagtige persoon wat gesukkel het om enige vreugde in die lewe te vind. As ek kon teruggaan, sou ek myself wou herinner dat ek meer was as bloot “nie ʼn ma nie.” Ek sou myself meer daaraan wou herinner het dat ek in die eerste plek ʼn kind van God is. En dat ek bloot vir daardie rede die Here onvoorwaardelik kon lief hê. Ek sou beter na myself omgesien het en harder probeer het om te onthou wie ek was voor onvrugbaarheid. Ek wens dit het nie my hele lewe oorgeneem nie.

Ons stryd met onvrugbaarheid sal altyd deel van my wees. Miskien is dit nou makliker vir my om dit as ʼn kleiner deel van my lewe te ag as wat dit was, maar my hoop is dat dit nie jou hele identiteit sal wees nie. Al kwes, verander en omsingel dit jou, mag die Here jou herinner dat jy hier is vir ʼn rede en dat jy meer is as wat jy nie is nie.

 

Waaroor sou jy graag meer wou lees of hoor rakende onvrugbaarheid? Stuur gerus vir ons \’n e-pos.

Hierdie is deel van \’n reeks oor onvrugbaarheid.

Ander artikels in die reeks:

Onvrugbaar? Jy is nie alleen nie

Hoekom antwoord God my nie?

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF