Celri Rudman, ’n sakevrou in Klerksdorp, het vier keer probeer om haar eie lewe te neem. Sy is daarvan oortuig daar is ’n rede waarom God besluit het dat sy steeds moet leef.
Sy was 16 toe sy gereken het dat sy die liefde van haar lewe ontmoet het. Maar jong liefde kan gevaarlik wees …
Celri se verhouding met haar kêrel het haar voorgestel aan ’n wêreld van dwelms, drank en verkeerde vriende. Sy vertel: “Ek was só verlief! Ek het gedink dat ek uiteindelik die aanvaarding en liefde ontvang het waarna ek jare lank gesmag het. Dié leefwyse het vir my normaal geword, en ek het dit beskou as ’n tyd waarin enigiets toelaatbaar was.”
LEES OOK: Gospelsanger drie keer van die doodsengel gered
Alles loop skeef
Op 6 Maart 2015 het Celri besluit om by die skool weg te glip sodat sy die naweek saam met haar kêrel kon deurbring. Alles het egter skeefgeloop.
“’n Onderwyser het my by die hek sien uitsluip en my pa gebel. Ek het net by my kêrel aangekom toe my pa bel en sê hy weet ek is nie by die skool nie. En dat ek twintig minute het om by die apteek op Jan Kempdorp te kom. Een van die plaasmense sal my daar kom oplaai.”
Celri het besef dat sy in groot moeilikheid is en sy het ’n slaappil gedrink toe sy by die huis kom. “Ek het vieruur daardie middag wakker geword, en daar was ’n hewige argument met my ouers. Hulle het toe reeds besluit hoe dinge voortaan sou verloop.” ’n Onderwyser sou haar soggens by die skool ontvang en haar van klas tot klas begelei. Sy sou pouses alleen deurbring.
“Ek was ongelukkig, en verward. Ek het nie rasioneel gedink nie. Alles was net te veel en ek wou nie meer lewe nie. Ek het na my kamer toe gegaan en begin skryf.”
Celri het vir haar ma, haar pa en haar broer elkeen ’n afskeidsbrief geskryf. Sy was vas van plan om ’n einde aan haar lewe te maak.
Toe het sy ’n bottel strignienpoeier, rottegif, in die kluis gaan haal en dit met ’n glas aanmaakkoeldrank gemeng.
‘Nee! Nee! Nee!’
“Ek het vir oulaas in die tuin gaan stap, ek het my pa in die kraal sien werk. Toe het ek die galbitter mengsel afgesluk terwyl die trane teen my wange afgeloop het. Die smaak was oorweldigend.
“Ek het al gehoor mense praat van die onmiddellike spytwat hulle ervaar wanneer hulle hul lewe wil neem. Dis regtig so. Ek was dadelik spyt nadat ek die gif gedrink het; daar was egter nie meer omdraaikans nie.
“Ek het gevoel hoe my lyf knak, asof ek wou val. Ek kon nie meer behoorlik sien nie. Dit was asof ek alles deur ’n waas waargeneem het. Ek het na my pa se bed gestrompel en daar gaan lê.
“My pa het my vertel dat hy deurentyd gevoel het hy wou kamer toe gaan, al het hy niks daar nodig gehad nie. So het hy op my afgekom. Hy het net geskree: ‘Nee! Nee! Nee!’”
Met die hulp van die plaasvoorman is Celri inderhaas in die motor gelaai. Sy het wakker geword en kon hoor hoe iemand skree: “Ry vinniger!” Die voorman het probeer verhoed dat sy versmoor deur die skuim wat die gif gemaak het uit haar bors te druk.
‘Jy weet wat gif doen …’
Die hospitaal op die dorp was nie behoorlik toegerus vir so ’n noodgeval nie.
“Daar was egter ’n engel, ’n hospitaalsuster, wat God oor ons pad gestuur het. Sy het geweet wat om te doen.”
Intussen het Celri se ouma, wat by hulle gebly het, op die glas afgekom waaruit sy gedrink het en haar pa het huis toe gejaag om te gaan kyk watter soort gif dit was.
Maar op pad terug het die motor onklaar geraak. Celri vertel: “Net toe het ons bure verby my pa gery en gesien wat aangaan. Hulle het met hom hospitaal toe gejaag. Dit was nóg ’n bestiering.”
Celri is oorgeplaas na ’n hospitaal in Kimberley, 100 kilometer verder. Daar aangekom, het haar hart gaan staan. Sy is bygebring en aan ’n ventilator gekoppel. In ’n stadium het sy wakker geword en haar broer hoor vra hoe dit met haar gaan. Waarop haar pa net geantwoord het: “Carlo, jy weet wat gif doen …”
Ondertussen het Celri se ma, ’n skoolhoof, ’n gebedsgroep byeengeroep en almal het begin bid.
‘Ek verstaan dit nie’
Toe Celri uiteindelik heeltemal wakker was, het sy in die intensiewesorgeenheid gelê. Haar sig was steeds swak, haar bene lam en haar spiere seer. Boonop is haar borsbeen gebreek vanweë al die pogings om haar te resussiteer. Die dokters was baie bekommerd oor haar lewer en haar niere.
Maar ’n week-en-’n-half later het sy uit die hospitaal gestap – sonder enige nagevolge of skade.
Celri vertel: “Niemand kon dit verklaar nie. Ook nie die dokter nie. Ek weet net hy het reguit na my gekyk en gesê: ‘Ek verstaan dit nie, maar jy makeer niks nie.’”
Celri het besef dat haar werk vir God op hierdie aarde nog nie klaar was nie.
Maar tog het sy, op ’n dag, weer moed verloor. Sy vertel: “Ek het daarna nie minder nie as drie keer probeer om my lewe te neem. Ek was nog nie volkome bevry van die verkeerde vriende en hul invloed op my nie. En tog het ek telkens ongeskonde daarvan afgekom …”
Sy onthou dit het vir haar gevoel asof daar ’n groot gat in haar hart was. “Ek wou liefde en waardering hê. Ek het ook geweet dat ek baie meer met my lewe wou doen. Ek het begin bid dat die Here iemand stuur wat vir my opreg lief sal wees en my op die regte pad sal kry.”
‘Hy het my alles gegee’
Toe daag hy op. Sy het hom in 2016 by die skool se opedag ontmoet. “Ek het Matthew raakgesien en net na hom toe gegaan en gevra of ons kan gesels. Op dié manier het ons vriende geword. Hy het my moed ingepraat en my alles gegee wat ek nodig gehad het om my te help genees. Ons verhouding het gegroei en ons het begin om saam kerk toe te gaan.”
Hulle is in 2019 getroud en is later met ’n seuntjie geseën. Hulle noem hom Luvandre, wat “walk up righteous” beteken.
Celri is vroeër vanjaar gedoop. Sy het haar lewe ten volle aan Jesus Christus oorgegee. Sy en haar man het ’n organisasie sonder winsbejag op die been gebring, met die naam Elke Sokkie Tel*. Dit vorm deel van hul familieonderneming Meal Mitts.
Hulle woeker met kospakkies vir minderbevoorregte mense, en hul droom is om elke jaar vyfduisend gesinne te kan help.
‘Jy kan kies’
Het Celri raad vir ouers en tieners?
“Ouers moet hul oë oophou. Hulle moet beskikbaar wees. Maar die belangrikste is dat hulle sal luister. Let op na gevaartekens. Reik uit na jou kind. Moet nooit só besig wees dat jy nie tyd het om saam met jou kind deur te bring nie. As kinders geliefd voel by hul huis, is die stryd gewonne.”
Aan tieners sê sy: “Dit voel soos die einde van die wêreld as iets skeefloop. Onthou dat daar ’n groter en beter wêreld is as die wêreldjie waarin die skool die middelpunt is. Praat met iemand na aan jou voordat jou hartseer te ver gaan. Die gedagte aan selfdood is ’n saadjie wat deur die duiwel geplant word. Jy kan kies: Óf jy laat dit ontkiem, óf jy laat dit doodgaan.”
*Kyk op Facebook vir meer inligting oor die projek: Soek na Meal Mitts Pantry https://www.facebook.com/mealmittspantry?mibextid=LQQJ4d
Of kontak hulle by 072 774 0251.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.