DEUR SIMONE GAUCHE
Dis ’n ysige wintersaand. Die lofprysing tydens ons Pinksterdiens is volstoom aan die gang. Ons sit met ons kinders in die moederskamer, oftewel die “vistenk”. Die kinders speel by ons voete. Die getinte glasvenster sorg dat hulle nie die ander kerkgangers steur nie.
LEES OOK: Jou krake maak jou mooi
Die venster stel my ook in staat om na die mense in die kerk te kyk. Ek kan feitlik almal sien van waar ons sit; hulle kan my nie sien nie.
Dan is dit daar: ’n paar kaal voete wat by die kerk inkom. ’n Man. Hy gaan sit in die verste hoekie. Koponderstebo. Hy sorg dat hy na niemand hoef te kyk nie.
Dit lyk asof hy in sy middeljare is, maar dis moeilik om te skat. Jy kan die sonskade op sy gesig sien.
Ná die diens is hy by die soptafel. Ek sien sy opsigtelike dankbaarheid, en ek wonder hoe gereeld hy iets warms kry om te eet. Hy sien ek kyk, en ons glimlag vir mekaar. Sy tande verklap iets van sy verlede.
Die volgende aand gebeur dieselfde. Ons sing aan ons derde liedjie toe hy weer inskuifel. Hy gaan sit op dieselfde plek. Maar dié keer het hy twee makkers by hom. Hulle gaan sit op ’n ander bank. Heel agter.
Dit word ’n patroon: Elke aand kom daar nog vreemdelinge by, wat in die agterste banke gaan sit. Altyd laat, terwyl die gemeente al besig is om te sing. Mense wat hulleself so onopvallend moontlik probeer maak.
Die nuwelinge word aand ná aand meer, hulle sit later selfs op die galery. Ou mense, jong mense, mans, vroue. Hulle almal deel die ongemaklike trek op die gesig. Die skramse loer of iemand dalk omkyk, na hulle kant toe kyk.
Ek sit en wonder: Wat moet verander dat hulle ook, soos die res van die gemeente, selfversekerd by die kerk kan instap? Is dit iets wat by hulle, die vreemdelinge, moet gebeur?
Of is dit iets wat reeds gebeur het, by ons, die kerkmense? Iets soos ’n skewe kyk, dalk ’n gefluisterde belediging, selfs ’n skelwoord?
Eensklaps is daar ’n klomp dinge wat deur my kop begin maal, en ek hoor opnuut Jesus se verbysterende woorde: “Ek het ook ander skape wat nie van hierdie kraal is nie. Hulle moet Ek ook lei, en hulle sal na my stem luister, en daar sal een kudde wees, en een herder” (Joh 10:16).
En ek onthou die Afrikaanse gesegde oor “ons dam se ganse”. Of dit nou ’n dam of ’n kraal is, ons hou van “ons eie mense”. Ook by die kerk.
Maar ek weet Jesus se mense is die randfigure, die ongewilde keuses, die verstotenes. In dié tyd onthou ek ook Jesus se laaste opdrag aan sy dissipels: “Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels. Doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld” (Matt 28:18-20).
Ek word ook herinner aan Jesus se opdrag aan Petrus: “Laat my lammers wei. Pas my skape op. Laat my skape wei.”
Ek weet nou Hy het bedoel “al my skape”.
- Simone Gauche is ’n mamma met twee seuntjies, sy is ’n huweliksmaat en ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk.