3 Maart 2021
DEUR SIMONE GAUCHE
Prediker 3 het nog altyd vir my baie beteken, as ’n ma én as ’n dokter. “Daar is ’n tyd om gebore te word, ’n tyd om te sterwe. ’n Tyd om ’n lewe te neem, ’n tyd om ’n lewe te red.”
Almal het slegs een asem. Dit herinner my daaraan dat God besluit wie lewe en wie sterf. Dit is die Here wat gee en die Here wat neem. Al wat ek moet doen, is alles wat ek kán doen. Die res is nie binne my beheer nie.
LEES OOK: ’n ‘Skewe potjie’ vind haar deksel
Dit alles help my om die druk en die skuldgevoelens te verwerk wat met my werk gepaard gaan.
Prediker 3 het selfs in die pandemie-tyd ’n boodskap: “Daar is ’n tyd om te omhels, ’n tyd om weg te bly van omhelsing af.” ’n Mens sou seker ook kon sê daar is ’n tyd om te sosialiseer en ’n tyd om sosiale afstand te handhaaf …
Verlede jaar het dit gevoel asof die dood ál nader kruip. Aanvanklik was dit ver. Bloot ’n gerug wat van China oorgewaai het en toe in Italië uitgeslaan het.
Daarna was dit iemand wat iemand anders geken het wat jý ken. Toe dalk in jou straat, by jou werk. Jou familie.
Eensklaps het ons dit oral gesien, oral daarvan gehoor. Dit was op die voorblaaie, die radio, die TV. En oral was die opdrag: Hou asseblief jou afstand!
Onbepaalde tyd
Prediker 3 herinner my ook gereeld daaraan om bewus te wees van wat ek met my tyd doen. Ravi Zacharias het gesê: “Tyd is die verfkwas van God waarmee Hy sy meesterstuk op die hart van die mensdom verf.”
God het aan ons in die tyd wat ons lewe verskillende take gegee om af te handel. En dit is goed so. Daar is egter ook ’n onbepaalde tyd. Ons werk, ons verpligtinge, moenie tot gevolg hê dat die tyd om vrolik te wees en om die lewe te geniet by ons verbygaan nie.
LEES OOK: VIDEO: Vermoorde Charl Munnik se suster gesels oor sy nalatenskap
Die waarheid oor die onbepaalde tyd help my deurentyd om my prioriteite te ondersoek en te orden. Om met my kinders te speel, om in elke oomblik teenwoordig te wees, is hoog op my prioriteitslys. Wanneer ek op dié manier tyd saam met my kinders deurbring, weet ek waarom Jesus gesê het dat die kindertjies na Hom toe moet kom en dat niemand hulle moet verhinder nie.
Ek het so ’n bietjie gedink oor wat die bepaalde tyd juis vir mammas kan beteken, en dié geskryf:
Die bepaalde tyd vir mammas
Elke ding het sy vaste tyd:
Daar is ’n tyd om skottelgoed te was
en ’n tyd om ’n fort uit lakens te bou.
’n Tyd om wasgoed te was
en ’n tyd om op die gras bollemakiesie te slaan.
Daar is ’n tyd om kos te kook
en ’n tyd om karretjies te speel, of pop.
Daar is ’n tyd om e-pos te lees en te beantwoord
en ’n tyd om feëverhale en sprokies te lees.
Daar is ’n tyd om aan te jaag
en ’n tyd om stadig te verken.
Daar is ’n tyd om vas te hou
en ’n tyd om aan te moedig om te gaan.
Daar is ’n tyd om te skaterlag en grappies te maak
en ’n tyd om ernstig te praat en te dissiplineer.
Daar is ’n tyd om te bad
en ’n tyd om in die modder te speel.
Daar is ’n tyd om te huil
en ’n tyd om te huppel en te dans.
Daar is ’n tyd om betyds in die bed te wees
en ’n tyd om op jou rug te lê en die sterre te bewonder.
God het vir mammas baie take gegee om hulle mee besig te hou.
Hy het elke ding gemaak dat dit pas in ’n bepaalde tyd,
maar Hy het ook vir mammas ’n besef gegee van die onbepaalde tyd.
Tog kan mammas nie die werk van God van die begin tot die einde begryp nie.
Ons faal, ons verdwaal, ons vergeet en ons raak besig.
Hy maak ons bewus daarvan dat om die goeie in die lewe te geniet ook ’n gawe van God is,
en Hy lei ons om te besef wanneer die tyd reg is
en wanneer nie.
- Simone Gauche is ’n mamma, eggenote en ’n mediese dokter wat in die staatshospitaal in Mosselbaai werk. Sy het ’n passie vir vrouegesondheid en wil graag ’n gesonde liggaam, verstand en gees bevorder. Sy reken dat dié drie nie van mekaar geskei kan word nie. Sy stel ook in vroeëkinderontwikkeling belang, veral nadat haar twee seuns in onderskeidelik 2018 en 2020 gebore is. Sy is daarvan oortuig dat ’n gesonde, gelukkige mamma die bousteen vorm vir gesonde, gelukkige kinders en ’n gesonde, gelukkige gesin.