Mignon du Preez hou die rekord vir die meeste eendagwedstryde vir ‘n vroulike krieketspeler agter haar naam, maar sy ken ook teleurstelling en vernedering. Elke wedstryd was, is en sal altyd ’n geleentheid vir haar wees om God te prys en te aanbid, vertel sy.
*Mignon se getuienis hieronder is ’n uittreksel uit Luister – God se stem in my lewe.
Mignon du Preez het haarself op die kantlyn bevind. ’n Plek waaraan sy nie gewoond was nie. ’n Plek waarvan sy niks gehou het nie. Sy het Suid-Afrika meer as tien jaar lank verteenwoordig, het meer as 100 wedstryde in die groen en goud gespeel en was een van die mees gevierde kapteins met ’n string toekennings en rekords agter haar naam. Maar steeds was sy nie goed genoeg nie.
LEES OOK: ‘Ons moet die mooi en uniekheid in mekaar sien,’ sê gouemedaljewenner Anruné
In daardie oomblik het Mignon se wêreld inmekaargetuimel. Teleurstelling het haar mantel geword, haar spel was nie op peil nie en sy was dus nie goed genoeg om vir die span gekies te word nie. Nooit het sy gedink dat hierdie ervaring haar só laat in haar loopbaan sou tref nie. Elke spanvergadering het ’n persoonlike marteling van vrae en selfvertwyfeling ingehou. “Elke keer het die twyfel by my opgekom: Is ek nog goed genoeg? Gaan ek ooit weer speel? Behoort ek nog hier te wees?”
As kind is Mignon se talent vir krieket toevallig een middag ontdek. Sy was maar net vier jaar oud toe die geleentheid hom voordoen, maar sy was slaggereed, amper asof sy altyd geweet het dat ’n spesiale oomblik enige tyd kon opduik. Haar liefde vir die sport het toe vlamgevat en wanneer sy op die krieketveld uitgestap het, was dit altyd met ’n verwagting in haar hart dat iets groots en wonderlik gaan gebeur. Dit was haar geskenk van God af en wat sy daarmee gedoen het, was haar geskenk terug aan Hom. Maar êrens langs die pad het Mignon haar eerste liefde vir die sport verloor en haarself met meer vrae as antwoorde by ’n sportsielkundige bevind. “Ek moes sekere vrae vir myself beantwoord en twee hinderende aspekte hanteer:
1. Ek het misluk daarin om uit te leef waarin ek al die jare geglo het. “My talent is ’n geskenk van God aan my en wat ek daarmee doen, is my geskenk terug aan Hom.” My eie leuse in die lewe het verdwyn. Ek het geglo dat ek ’n swak geskenk teruggee.
2. Ek was in ’n gevaarsone; ek het besef dat my selfwaarde aan sportprestasies gekoppel was, aan die kriekettelbord en nie aan God nie.”
Met ’n pen en papier in hand het groot Minx ’n persoonlike brief aan klein Minx geskryf om om verskoning te vra. “Daar is ’n gesegde onder ons sportmense wat die sportsielkundiges by ons indril: ‘Agter elke suksesvolle sportvrou is daar ’n dogtertjie wat verlief geraak het op die sport. Speel vir háár en nie vir die pawiljoen nie.’” Mignon het skuldig gevoel dat sy toegelaat het dat die professionele era haar geluk – en die eintlike rede waarom sy begin krieket speel het – gesteel het. Die snoeiproses het behels dat sy haarself moes vergewe. “Die voorreg om vir jou land te speel, die liefde vir die sport, die voorreg om God se lig op ’n sportveld te laat skyn en die verliefdheid moet altyd behoue bly.”
Min het Mignon die noodsaaklikheid en werklike waarde van hierdie ervaring besef, want COVID-19 en die algehele inperking het kort op hierdie leerproses se hakke gevolg. “COVID het die vrees in my gedagtes wakker gemaak dat ek my sportloopbaan gaan verloor en op ’n lae noot gaan afsluit. My uittrede was om die draai en ek was besig om tyd te verloor! COVID het dag vir dag my tyd gesteel!” Sy was nie aan die verloorkant nie, inteendeel, Mignon het eintlik tyd gewen – jare en maande se verlore tyd saam met haar gesin is teruggewin. Sy kon tyd inhaal en opmaak vir die groot vieringe wat sy misgeloop het weens jare se toernooie weg van die huis af. So kon sy haar prioriteite herevalueer en aanpassings maak. Mignon was reg vir die laaste fase van haar 15 jare lange loopbaan.
Die twaalfde ICC Wêreldbeker-kriekettoernooi vir vroue in Nieu-Seeland in 2022 sou Mignon se 150ste wedstryd vir Suid-Afrika insluit. As die vrouekrieketspeler met die meeste eendagwedstryde agter haar naam, was Mignon se kop gerat vir die wedstryd. Dit moes die feëverhaaleinde wees met ’n heldin wat die wedstryd vir haar span wen of nog ’n rekordgetal lopies behaal, maar op dié dag kon Mignon net een lopie vir haar span aanteken. “Dinge het glad nie verloop soos wat ek verwag het nie … soveel so dat ek ná al die jare in my eie vermoëns begin twyfel het. Ek was kwaad en moedeloos. Waarom het God my net alleen gelos; toegelaat dat ek op my groot dag verneder word?” Hulle sou as span haar groot wedstryd vier, maar in plaas van die geklap van sjampanjeproppe was dit ’n aand van trane afvee. “Ek wou my kolf neerlê en die afrigters aanmoedig om iemand anders in my plek te kies. Ek was verneder …”
Dit was die raad, gebede en hande van haar ondersteuningsisteem wat Mignon daardie week staande gehou het. Sy moes haar mond snoer en tyd saam met die Here deurbring. Sy moes Jeremia 29:11 oor haar loopbaan verklaar, laat gaan en God toelaat om in te gryp. Suid-Afrika se sprokiesverhaal het gelei tot ’n finale groepwedstryd teen ’n sterk Indiese span – die een land wat krieket eet, slaap en leef. Suid-Afrika het gekwalifiseer vir die semifinaal, maar vir Indië was alles op die spel. Wen hulle, sou hulle ook vir die semifinaal kwalifiseer, maar verloor hulle, sou hulle huis toe gaan. Dié wedstryd sou ook bepaal in watter semifinaalwedstryd die Protea-span sou speel en of hulle teen Engeland of Australië in die semifinaal gaan meeding. Suid-Afrika wou graag teen Indië wen, want dan sou hulle teen Engeland in die semifinaal speel, eerder as teen Australië. (Australië was verreweg die gunstelingspan om die toernooi te wen, daarom wou Suid-Afrika eerder eers in die finaal teen hulle te staan kom.)
Mignon onthou die wedstryd as “die dag toe God ingegryp het”. Dit was ’n titaniese stryd wat haar die platform gegee het om daardie dag sý lig te laat skyn en nie haar eie nie. Met haar hande gevou in ’n bekende greep op die kolf waarvoor sy so lief is, het Mignon die wenlopies teen die gevreesde Indië-span geslaan en die wedstryd vir haar span en Suid-Afrika gewen. “In my televisieonderhoud het ek God gedank vir sy getrouheid, net om later via Twitter boodskappe te ontvang wat sê: ‘Jou God was so besig om krieket te kyk dat Hy vergeet het van die oorlog in die Oekraïne!’” Maar Mignon het haar nie daaraan gesteur nie, sy was groter as die spel en God was groter as haar eie wil. In haar geestesoog kon sy Hom sien juig met die woorde: “Sien jy, Ek hou jou vas en Ek is trots op jou.”
In 2022 kondig Mignon haar uittrede uit toets- en eendagkrieket asook T20I’s aan, maar bevestig haar volgehoue beskikbaarheid vir internasionaleT20-ligas. Wanneer sy haar kopskerm opsit, haar handskoene aantrek en haar kolf optel, voel dit vir haar asof sy haar met die wapenrusting wat God haar gegee het, toerus. “Elke keer, net voordat ek op die veld stap, gaan ek op my knieë met die woorde: ‘Jesus, U het vir my gesterf en nou kry ek die geleentheid om vir U te speel.’” Elke wedstryd was, is en sal altyd ’n geleentheid vir haar wees om God te prys en te aanbid. “Ek gee God al die eer, want Hy het my die guns en geleentheid gegee om te kan doen waarvoor ek so lief is.”
Koop Luister – God se stem in my lewe, waarin Mignon en ander sportlui se getuienisse verskyn, hier.