DEUR SIMONE GAUCHE
Die afgelope Sondag was Palmsondag. Op dié dag lees ek weer, soos ons gebruik is, saam met my gesin die storie van Jesus se intog in Jerusalem.
Palmsondag lui die begin van die heilige week in, wat op Goeie Vrydag afstuur. My lewensritme verander tydens hierdie week: Ek word stil.
LEES OOK: ‘’Ek het my Hillbrow-ma en Duitse pa vergewe,” sê aangenome student
In dié dae wonder ek wat Jesus gedoen het om sy binneste stil te maak. Hy het tog presies geweet wat op Hom wag. Hy het geweet waarheen die pad lei wat Hom deur Jerusalem sou neem. Hoe het Hy vrede gemaak met die stemme in sy kop? Hoe het Hy die twyfel en vrees stil gekry?
Ons lees boonop dat toe Hy naby die stad gekom het, Hy begin huil het. Hy het Jerusalem as ’t ware aangespreek en gesê: “As jy maar op hierdie dag dié dinge besef het wat vir jou vrede kan bring! Maar nou is dit vir jou oë verberg. Want daar sal dae vir jou aanbreek wanneer jou vyande skanse teen jou oprig, jou omsingel en jou van alle kante af beleër. Hulle sal jou en jou kinders met die grond gelyk maak. Hulle sal nie een klip in jou op die ander laat bly staan nie, omdat jy nie hierdie beslissende tyd toe God jou besoek het, herken het nie” (Luk 19:41-44).
En dit tref my telkens tot in my diepste wese: Jesus ry op ’n geleende donkie die stad binne en Hy huil oor Jerusalem. Hy huil omdat die stad nie die waarheid kan of wil sien nie. Hy huil omdat Hy sy bes probeer het om Jerusalem te oortuig. Omdat Hy geweet het hoe gelukkig en geseënd Jerusalem kon wees, as die stad en sy inwoners bloot die waarheid wou glo.
Jesus huil oor Jerusalem omdat Hy weet hoeveel pyn en lyding vir die stad voorlê. Hy huil oor hardkoppigheid en eiewysheid.
Nee, Hy huil nie oor die pyn en lyding wat op Hóm wag nie. Hy huil nie omdat Hy nie die pad wil volg wat na die kruis lei nie. Hy huil nie oor die onreg wat Hom aangedoen word, of omdat Hy verlate voel, of omdat diegene wat die naaste aan Hom is Hom in die steek sal laat nie. Hy huil oor Jerusalem.
En dit is net hier waar ek besef dat Jesus dit wel kon regkry om stil te word in daardie dae van sy lydenstyd. Hy het vrede gemaak met wat op Hom wag. Hy was gereed om te doen wat nodig was om sy volgelinge te red, omdat Hy nie aan Homself gedink het nie.
Hy huil oor Jerusalem omdat die stad ’n keuse gehad het, en verkeerd gekies het.
Só lyk die stilte wat oor my neerdaal in hierdie heilige week. Ek is ook hartseer, omdat Jerusalem oral om ons is. En in ons. Omdat ons so gereeld verkeerd kies. Omdat al die verkeerde keuses ons nie ontstel nie.
Ons enigste troos is dat ons verkeerde keuses, en almal om ons s’n, Jesus ontstel het. Dat Hy oor ons huil soos Hy oor Jerusalem gehuil het.
As dít ons nie in hierdie lydenstyd laat stil word nie, sal niks dit regkry nie. Dan sal ons steeds saam met die skare uitroep: “Hosanna!” En ’n kort rukkie later weer die verkeerde keuse maak en skreeu: “Kruisig hom!”
Dit kan so anders wees.
Goddank, ons kan in hierdie tyd glo in ’n Jesus wat alles kom anders maak het. En daar sal ’n nuwe tyd kom, dit kan ons ook maar glo, wanneer Hy al die trane sal afvee omdat die Nuwe Jerusalem sy verskyning sal maak (vgl. Op 21:1-7).
Dalk ken jy die treffende gospellied “Jerusalema” van Master KG:
Jerusalema ikhaya lami
Ngilondoloze
Uhambe nami
Zungangishiyi lana
Ndawo yami ayikho lana
Mbuso wami awukho lana
Jerusalem, my home
Save me
Join me
Don’t leave me here
My place is not here
My kingdom is not here
Save me
Come with me
- Simone Gauche is ’n mamma met twee seuntjies, sy is ’n huweliksmaat en ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk.