Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

‘Die dokters het geen hoop vir Janri gehad nie; ons bly vashou aan die Woord’

Thea du Plessis is ’n ma wat nie moed opgee nie, al het die dokters geen hoop vir haar seun gehad nie. Haar onwrikbare geloof en leeuemoed het haar deur die krisisse gedra.

DEUR DEONETTE DE KOCK

“Sy grootste begeerte was om te bly leef.”

Só vertel Thea du Plessis (60) oor haar seun wat agt jaar gelede by die dood omgedraai het ná ’n baie ernstige motorongeluk in die VSA.

Thea is ’n diep gelowige ma van Bethlehem wat alles in die stryd gewerp het om haar kind by te staan. Sy het vas geglo dat die Here getrou is. Dat Hy haar jongste seun, Janri (nou 30), gesond sou maak.

Volgens Thea, ook die ma van Carli (38) en DS (36), was Janri van kleintyd af baie na aan die Here en het hy God se Woord probeer uitleef.

‘Ek is ’n alkoholis, maar die Here het ’n saak met my,’ sê Jaaco Rademeyer

Ná matriek (al drie die kinders is tuis onderrig) het Janri ’n Diensjaar vir Christus by Spirit Word in Stilfontein voltooi en op uitreike gegaan. Hierna is hy na Orsmond Aviation in sy tuisdorp, waarna hy by die Mega Aero Training Academy (MATA) geleer het om vliegtuie te herstel. Janri, toe 23, wou verder gaan studeer en is na Kansas in die VSA om kontrakwerk te doen en geld bymekaar te maak.

‘Asof hulle van iemand anders praat’

Maar 30 Augustus 2015 is ’n dag wat altyd in Thea en haar man Dawie se geheue sal bly. Dit was die dag toe ’n motor, met Janri as een insittende, teen ’n telefoonpaal gebots en Janri 30 meter ver deur die lug getrek het. Binne vyf minute was ’n helikopter daar om die beseerdes na die hospitaal te haas.

Janri het inwendige beserings opgedoen: sy niere, sy byniere. Al sy rugwerwels was gekraak, sy heup en pelvis was vergruis, al twee die bene is sy regtervoorarm was gebreek, asook ’n skouerbeen en sy linkerenkel. Daarby het hy erge harsingskudding opgedoen; van die breinlobbe het effens van mekaar getrek. Daar was ook twee gate voor in sy brein, en ’n gat aan die linkerkant.

“Toe ons oor die aard van sy beserings ingelig word, was dit asof hulle van iemand anders praat,” onthou Thea.

Die Here het op ’n wonderlike wyse voorsien sodat sy en haar man Dawie binne vier uur hul onderskeie visums vir die VSA ontvang het. Drie dae later kon hulle langs hul kind se hospitaalbed in die hoësorgeenheid staan.

“Toe ek by sy bed kom, het ek hom oral gesoen en hom vertel hoe lief ons hom het. Ek het my nie enige emosie toegelaat nie. Maar onwillekeurig het my liggaam gereageer – met erge pyn in my baarmoeder, al het ek ’n histerektomie ondergaan.

“Dawie het sy hand op die bewustelose Janri gesit en vir hom gesê: ‘Janri, dieselfde Gees wat Jesus uit die dood opgewek het, woon in jou en jy sal volmaak genees wees.’ Ons het ’n bonatuurlike rustigheid en krag van die Here ervaar.”

Die dokters het, helaas, geen hoop vir hul kind gehad nie.

‘Toe hy my die eerste keer daar sien …’

Dawie is ná twee weke terug Suid-Afrika toe, en Thea is einde September ook terug huis toe nadat sy elke dag 12 uur lank by Janri gesit het. Sy was emosioneel gedreineer.

Elke dag daarna het twee vroue by Janri gesit, en hulle het daagliks met Thea geskype. “Só is ons oor Janri se toestand ingelig, en só het Janri ons hoor praat.”

Ná ses weke in Suid-Afrika het Thea besluit om terug te gaan na haar kind toe. Die hospitaal het vir haar ’n bed langs Janri s’n ingerig. Daar het sy twee weke lank gebly.

Janri was altesaam drie maande lank in ’n koma. Toe word hy wakker. “Sy reaksie toe hy my die eerste keer daar sien, was iets verskrikliks. Sy ruimtelike oriëntasie was heeltemal daarmee heen. Hy kon boonop nie praat, eet, loop of self sit nie, en hy het ’n doek gedra.

“Voor Janri en ek terug Suid-Afrika toe is, het die internis aan ons gesê hy kan nie verstaan dat Janri nog lewe nie; hy is reeds vyf keer dood verklaar.”

Huis toe, en ’n ma en pa se sorg

Ná vier maande is Janri uiteindelik huis toe, in ’n klein private straler. Saam met hom was sy ma, die dokter en ’n assistent, en vier aflosvlieëniers. “Ek glo dit was die Here wat dit alles voorsien het.”

Die geld wat die Bethlehemse mense vir hulle ingesamel het, is vir terapeute gebruik, en vir die veranderings aan die badkamer om Janri in sy rolstoel te akkommodeer.

Ná ’n week by die huis het hulle Janri na Witrand-rehabilitasiesentrum geneem. In daardie stadium het hy doeke gedra. “Maar ek kon hom versorg. ’n Maand later was hy terug by ons. Die dokters hier het egter ook geen hoop gehad dat hy sou herstel nie.

“Ek hou net vas aan die Woord. Die spraakterapeut, sielkundige en arbeidsterapeut het Janri elke week tuis kom besoek, en ons het ’n versorger by Hospice gekry om hom tuis te help versorg.

Thea het die dokter gevra om die pypie uit Janri se maag te haal sodat sy hom kon leer om self te eet. Aanvanklik het Thea en Dawie hul kind gewas en sy doeke geruil. “Oplaas het ons besluit om Janri te leer loop.”

Met verloop van tyd het Janri al die doemprofete verkeerd bewys: Ná ses maande kon hy regop staan, en kon hy begin loop. Hy kon toe reeds self eet, hy het begin praat en lees. Sedert 2017 gebruik hy ook nie meer doeke  nie.

Thea sê: “Ek vertrou die Here volkome: dat Hy Janri se lewe sal herstel soos wat dit was toe Hy hom geskape het; dat hy ’n vol lewe sal lei. Die Here het my nog nooit begewe of verlaat nie.

“Janri woon steeds by ons. Ek sou dit nie anders wou hê nie. Daar was nooit sprake daarvan dat ons hom in ’n versorgingsoord sou plaas nie. Bloot die gedagte daaraan laat my en Dawie huil – want wie gaan die nagmaal aan hom bedien? Wie gaan elke aand saam met hom bid? Wie gaan sy gees versterk?”

Janri doen deesdae los werkies in die gemeenskap. Hy geniet dit baie.

‘Ek is tot alles in staat’

Hy ondergaan ook ’n spesiale soort perde-terapie: Hy gaan sit op die perd, en word dan gehelp om die ongeluk en die gevolge daarvan te hanteer. Om van die trauma ontslae te raak. Om die verlies van sy vriende te oorkom.

“Want een van die ergste dinge is dat Janri met verloop van tyd al sy vriende verloor het. Hulle weet nie hoe en wat om met hom te gesels nie. Daarom bly hulle weg. Dit breek ons hart in stukke.

“’n Rede hiervoor is dat Janri nou nie meer so terughoudend soos vroeër is nie. Hy praat stadiger, en soms te hard. Daar is nie meer filters nie …

“Hy sukkel ook met sy korttermyngeheue, met sy konsentrasie en sy redenasievermoë. Drie jaar gelede het hy epileptiese aanvalle begin kry. Hy gebruik medikasie daarvoor.

“Maar Janri se herstel tot op hede is verstommend. Hy leef na aan die Here; hy is regtig ’n vreugde. Ek is die Here so dankbaar. Ek skryf alles neer wat die Here vir my doen. Ons leef met die waarheid van hoop, geloof en liefde vir Janri en ons toekoms. En ons hou vas aan dié vers uit Filippense 4: ‘Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.’”

  • Stuur jóú getuienis (sowat 800 woorde plus foto’s ter illustrasie) na conette@tydskrifte.co.za
Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF