WAARSKUWING: Die artikel bevat ’n foto wat sensitiewe lesers kan ontstel.
“Mevrou, sit net by jou kind. Dis nie vir ons die moeite werd om nou daarheen te vlieg nie.”
Vandag is Marlu de Jager oneindig dankbaar dat sy en haar man Snyman daardie dag, 22 April 2022, geweier het om dié verdoemende woorde te glo. Langs hulle, op ’n pad buite Ficksburg in die Oos-Vrystaat, het hul 17-jarige seun gelê. Sy toestand was kritiek nadat hy kop eerste van ’n bakkie geval het toe die bestuurder vir ’n slaggat uitgeswaai het.
Marlu vertel: “Met die paramedici se aankoms was Heinrich se bloeddruk 52/37. Hy het erge kopbeserings opgedoen. Die breinvog het by sy ore uitgeloop. Die paramedici én twee dokters het gereken dat daar minstens twee skedelfrakture was, en moontlik ook nek- en rugfrakture.
LEES OOK: ‘Sien jou later, Poppie …’
“Intussen het die ambulanspersoneel geweier om hom te vervoer en voorgestel dat ek ’n lugambulans ontbied.”
Maar die lugambulans se koördineerder het ’n video van Heinrich se beserings gesien en geweier om ’n reddingspoging te aktiveer. Marlu sê: “Ek het ná die tyd vasgestel dat die serebrale vloeistof wat by sy ore uitgeloop het ’n teken van ’n vergruisde skedel was, en dat dit onder meer die rede vir die weiering was. Daar is gereken dat hy, selfs met behulp van ’n lugambulans, nie lewend by ’n hospitaal sou kom nie.”
Redding met vlerke
Gelukkig het Snyman vriende in die lugvaartbedryf en hy het dié gebel om te kom help. Op ’n wonderbaarlike manier het hierdie mense die De Jagers se mediese fonds oorreed om vir ’n lugambulans te betaal.
Heinrich moes uiteindelik ’n volle ses ure wag voordat die lugambulans opgedaag het. “Hy het twee ure lank op die pad gelê, waarna hy na die provinsiale hospitaal op Ficksburg vervoer is. Hier het hy vier ure op die helikopter gewag, wat hom toe na ’n spesiale trauma-eenheid in Alberton geneem het. Met sy aankoms daar het sy hart gaan staan en hy moes geresussiteer word.”
Nadat sy toestand gestabiliseer het, is hy in ’n geïnduseerde koma geplaas en aan ’n ventilator gekoppel.
Goeie Vrydag, inderdaad
Eers die volgende oggend kon die nodige skanderings uitgevoer word om die omvang van sy beserings te bepaal. Marlu onthou: “Terwyl ek gewag het dat Heinrich van die radiologie-afdeling terugkom, het my sussie vir my gesê: ‘Jy sal sien hy sal geen beenbreuke hê nie, want vandag is Goeie Vrydag.’”
Dit was toe inderdaad so. Daar was wel erge breinswelling en geweldige breindruk. En twee hematomas, dit is erge kneusplekke met bloed onder die vel.
Heinrich was altesaam 32 dae in die hospitaal, waarvan 18 dae in ’n koma en 26 in die hoësorgeenheid.
Hierna moes hy weer leer om te sit, te staan, te loop en te eet. Maar hy het dit reggekry. Op 1 Augustus 2022 is Heinrich terug skool toe. Hy het die rekordeksamen geslaag, en later die eindeksamen met universiteitsvrystelling.
‘’n Wandelende wonderwerk’
En vandag, vertel sy dankbare ma, is Heinrich ’n wandelende wonderwerk. “Die neuroloog wat hom behandel het, weet nie hoe dit moontlik is dat hy dit hoegenaamd oorleef het nie, dat hy boonop kan loop en kan praat. Ons kind het wonderbaarlik herstel.”
Heinrich se groot droom was om ’n vlieënier te word, maar as gevolg van die breintrauma mag hy nooit vlieg nie. Hy het wel vir ’n kursus in lugvaartkunde ingeskryf, waarmee hy tans besig is.
Marlu, wat voorheen ’n musiek-akademie bedryf het, vertel dat Heinrich uitstekend vaar. En dat hy, nadat hy sy kursus voltooi het, as ’n vliegtuigtegnikus by ’n lugredery wil werk.
‘’n Brandende braambos op ons pad’
Wanneer Marlu op alles terugkyk, besef sy hoe diep Heinrich se ongeluk en sy herstel elk van die gesinslede geraak het. Benewens Heinrich is daar drie De Jager-seuns – Louis, wat Heinrich se tweelingboetie is, Neil (17) en Snyman (11).
“Die ongeluk was soos ’n brandende braambos op ons pad. Ons kyk met nuwe oë na die lewe. Ons vier dit elke dag.
“Heinrich kan feitlik niks van die ongeluk onthou nie. Maar nadat hy uit die koma ontwaak het, het hy slegs Engels gepraat. Hy het vertel daar was ’n wese langs hom in die pad – ‘a being, and it was not human’. Hy het met die wese gepraat. Toe ek hom vra wat hy vir dié gesê het, was sy antwoord: ‘I am dying, I am dying.’ Waarop die wese geantwoord het: ‘Not yet.’
“Heinrich is daarvan oortuig dat hierdie ‘Ligwesens’ om ons is, maar ons oë weet nie hoe om die Lig te sien nie. En dat hy, in ’n oomblik van doodsangs, dit wel raakgesien het.
“Ons almal het ’n onbeskryflike geloofsverdieping ervaar.”
Wat het hulle tydens die moeilike hersteltyd gedra?
“Die gebede en die geloof van die Ficksburg-gemeenskap,” antwoord Marlu. “En die gebede van mense regoor die wêreld. Dit het ons oneindig bemoedig.” Ook die bystand van familie en vriende. Marlu vertel hoe haar skoonsus verlof geneem het om by die seuns op die plaas te bly terwyl Marlu en Snyman by Heinrich in Alberton was.
“Een van my oudmusiekleerlinge is ’n dokter in Ierland. Sy het my ná die ongeluk gebel, my voorberei op wat in die intensiewesorgeenheid op ons sou wag, en sy het elke dag mediese vakterme vir ons vertaal. Vriende in Gauteng het verblyf verskaf. Mense van Henley Air het daardie eerste week vir ons verblyf op die Randse lughawe gereël. Daar is soveel mense wat ons ondersteun het …
“En die wete dat God by Heinrich was, en by ons, het ons elke dag hoop gegee.”
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.