Deur Susann Moolman
Toe ek op die sonnige oggend van 17 Januarie 2012 opstaan, was daar geen aanduiding dat ek daardie dag sou begin om die eerste wankelrige treë op ’n baie lang en uitdagende pad te gee nie. Dit was ’n dag soos enige ander – totdat ek op my kind se liggaam in sy slaapkamer afgekom het.

Die skok wat tot in my siel vibreer het, het elke aspek van my lewe, soos wat ek dit tot op daardie dag geken het, verander. Die emosionele en fisieke pyn het soos ’n warm lem deur liggaam en siel gesny. Die gesig wat uit die spieël na my gestaar het, was onbekend.
My seun Theuns is op 20-jarige ouderdom dood weens wurging. Dis min of meer dieselfde as hang, maar sy voete was steeds op die grond.
Die stigma en misverstande
“Selfdood” is ’n onderwerp wat ons nooit bespreek het nie, wat nooit eens op ons radar geflikker het nie. Dis steeds ’n ongemaklike tema waaroor niemand wil praat nie. Maar geen mens is daarvan gevrywaar nie. Jou bankbalans, ouderdom, geslag, familie, ras, gewoontes, kennis – en selfs jou geloof – bied geen waarborg dat dit nie ook deel van jou lewensverhaal word nie.
Dan was daar die ellende wat daarop gevolg het. Die trauma, die onbeskryflike, bodemlose put vol smart. Dis ’n verlies wat niemand verstaan wat dit nie self beleef het nie. Dis in elk geval wêrelde verwyder van die hartseer ná my ouers se afsterwe.
Die stigma en misverstande wat aan selfdood kleef, is vandag steeds so werklik soos wat dit dekades gelede was. Wanneer jy byvoorbeeld ’n herinnering aan jou kind in ’n geselskap deel, skok dit almal tot oombliklike stilte. Mense begin jou vermy, oogkontak is hoogstens skrams, en niemand waag dit om te vra hoe dit met jou gaan nie. Álmal voer ’n soort eierdans uit …
En al het ek na ander uitgereik wat moontlik sou verstaan, het ek gou besef dat boekekennis van rousmart nie noodwendig beteken dat al die betrokkenes dieselfde taal praat nie.
“Ek het gesukkel …”
Dit het ook my oë oopgemaak vir die gebrek aan goeie ondersteuning. Selfs geleerde mense wou my daarvan oortuig dat my depressie en posttraumatiese stres my verbeelding was. Dat ek bloot ’n “bietjie blou” gevoel het. My raadgewers wou nie daarvan hoor dat my nagmerries en terugflitse ’n diep vrees vir slaap by my laat ontstaan het nie. En dat selfdoodgedagtes die daaropvolgende twee jaar ’n bekende metgesel geword het nie.
Op die een of ander manier was ek deurlopend besig om my hartseer te verdedig. Dit alles het nie net skokgolwe deur my lewe gestuur nie, maar ook my geloof beïnvloed. Alles wat ek geleer het, het eensklaps vreemd en onvanpas geklink.
Ek wou ook nie hoor dat “ouers nooit oor die dood van hul kind kom nie”. Ek was onwillig om deel van ’n “klub” te wees waaraan niemand wil behoort nie. Ek wou nie hê mense moes my probeer “regruk” nie. Ek het gevind dat daar min mense is wat oor die vermoë beskik om bloot in stilte ’n ruimte vir jou hartseer te skep.
Ek het gesukkel om in te pas by ander se idees oor hoe my lewe voortaan sou lyk. En dit het my kwaad gemaak dat elke ander ongelukkigheid wat ek beleef het direk aan die dood van my kind gekoppel is, so asof ek nie meer gewone uitdagings soos enige ander mens kon ervaar nie.
LEES OOK: ‘My Bibi se stilgeboorte bring nou hoop vir ander’
Wat ek wel nodig gehad het, was om te hoor dat elkeen (verál ouers) die een of ander tyd deur die verlies en hartseer kan werk sodat dit nie meer daardie donker krater in jou lewe is nie. Daar was tog sekerlik, so het ek gereken, ander wat hierdie pad gestap en as ’n heel mens anderkant uitgekom het.
My intuïsie het ook vir my gesê dat onverwerkte emosies nie stilletjies verdwyn nie; dat dit jou tree-vir-tree agtervolg, totdat jy daaraan aandag gee. Tyd maak niks reg nie, dit verander niks aan ons emosionele wonde nie. Tensy ons daardie tyd gebruik om doelbewus daardeur te werk.
Ongelukkig kan smart ’n gemaksone word, een waaruit ’n mens nie sonder moeite ontsnap nie. Woorde soos “nooit” en “altyd” bring jou nêrens, want dit word dikwels niks meer nie as ’n verskoning om nie die harde werk ná ’n verlies aan te pak nie.
As ek my ooit op ’n spirituele pad bevind het, was dit juis tóé.
Om deur die rousmart te werk
Maar my soektog na mede-selfdoodnaasbestaandes (oftewel “suicide loss survivors”) het op niks uitgeloop nie. Ek weet wel daar is ’n steeds stygende krisis in Suid-Afrika in dié verband, met ongeveer 23 selfdoodgevalle per dag. Hierdie syfer styg elke jaar – maar die naasbestaandes is skynbaar nêrens te vinde nie.
Uiteindelik sou ek ’n kursus as verliesterapeut (“bereavement therapist”) voltooi, in die hoop om ander te help wat hulle in dieselfde bootjie bevind. Ek wil nie hê dat enige mens ’n leeftyd sonder hoop en vertroosting moet deurmaak nie. En soms het ’n mens leiding nodig om te leer dat ons nie oor verlies kom nie, maar dat ons vir seker daar deur kan kom.
Om deur die rousmart te werk, beteken ook nie dat jy jou kind vergeet of hom iewers in die verlede agterlaat nie; die liefdesband word immers nooit verbreek nie.
Om deel te wees van ’n groep wat spesifiek gerig is op die familie van selfdoodslagoffers, het die laaste drade van rousmart laat wegsmelt. Dit help om die isolasie uit rousmart te neem, en jy leer ook daar hoe ander deur húl uitdagings werk. Ons vergeet maklik dat ons almal leermeester sowel as student is, en dat ander altyd na ons kyk en ons doen en late beoordeel.
Later het ek ’n boek, Op Vlerke van Hoop, Verwerking van Rousmart, hieroor geskryf.
Ons moet meer oor dié dinge praat. En nie slegs oor selfdood nie, maar ook oor hoe dit diegene beïnvloed wat agterbly. Jy slaak ’n sug van verligting wanneer jy begin voel dat jou uitdagings en trauma werklik verstaan word.
En wanneer jy die skaamte kan afskud wat met selfdood gepaard gaan, sal die stigma ook begin verdwyn.
Die dood van ’n kind is nie ’n lewenslange vonnis nie; die lewe kan weer mooi en sinvol word. Daar het uiteindelik ’n diep dankbaarheid in my gegroei – ek was dankbaar vir die ondervinding daarvan. Alhoewel ek so iets nooit vir énigiemand sal toewens nie, het ’n mens soms nodig om uit jou diep slaap wakker geskud te word sodat jy die groter prentjie waarlik kan verstaan.
- Kontak Susann by hooptydensrousmart@gmail.com indien jy by haar wil aanklop vir hulp.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.