Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Die eerste maerword-pil wat werk. Regtig!

Jubel en juig, want dié maerword-pil is hier! In die komende dekade gaan jy nog báie van GLP-1-agoniste hoor. Hier is wat jy moet weet.

Jubel en juig, want dié maerword-pil is hier! Al is dit peperduur, en al is daar reeds ’n tekort aan voorraad … 

In die komende dekade gaan jy nog báie van GLP-1-agoniste hoor. Trouens, as jy erg oorgewig is, is die kanse goed dat jy dit self sal gebruik. Of ten minste wil uittoets. As jy ’n diabeet is, gaan jou dokter dit waarskynlik voorskryf. 

Daar is wel twee vrae: Sal jy dit kan be-kostig? En sal jou apteek oor voorraad beskik? 

Die maerword-pil is régtig ’n wonder-pil 

Ons, wat lewenslank met ons gewig sukkel, is by voorbaat skepties. Wie onthou dan nie die eetlusonderdrukkers en, veral, die fenfluramine/phentermine (oftewel fen-phen) van die 1990’s nie? 

En in die afgelope twee dekades was daar Orlistat en Duramine, en antidepressante met eetlusdemping as newe-effek. En wat van die berugte HCG-inspuiting? Om nie te praat van die honderde aanvullers en annerlike doepas wat jy sonder voorskrif kon koop nie! 

O, en noem die woord “banting” – en baie mense bloos. Of die Grain Brain-dieet. Daar was ook wonderoefeninge en hipnose en allerlei “skudmasjiene” en … 

Al bogenoemde was ewe suksesvol, of dan ewe ónsuksesvol, want net een uit elke honderd mense was ná ’n jaar steeds skraal. Sommige van die kitsplanne was niks meer as boereverneukery nie, of doodgewone leë beloftes. 

Ander het op ’n manier gewerk, maar as jy dit om die een of ander rede nie kon volhou nie, het die vetjies met mening teruggekom. Of luiters teruggekruip soos jou liggaam aan die nuwe situasie gewoond geraak het. 

Maar hiérdie een werk regtig. Die dokters met wie ons gepraat het, is gaande daaroor. Dr Magda Marais, wat in Kaapstad praktiseer, sê dis die een dieetmedikasie wat sy graag voorskryf. 

“Ek het in 2021 die internasionale aanlyn loodsing daarvan gevolg, en ek is beïndruk met die resultate. Al my pasiënte het heelwat gewig verloor. En dit sonder newe-effekte. Nie een het gekla dat sy naar word nie. En ek is bly om te sê dat die gewig wegbly.” 

Die laaste twee hekkies 

Al die dokters met wie ons gesels het, het egter een voorbehoud gehad: Daar is te min voorraad, en dit wat daar is, moet vir diabete teruggehou word. Vir laasgenoemde is dit ’n lewensnoodsaaklikheid; vir die volrondes is dit ’n gerieflikheid. 

Eers wanneer daar genoeg voorraad is sal dokters dit vir gewigverlies voorskryf. 

Die ander probleem is koste. Dit sal jou tussen R2 000 en R4 000 per maand uit die sak jaag. En jou mediese fonds sal slegs in uitsonderlike gevalle daarvoor opdok. 

Maar hier is alles wat jy moet weet – as jy solank wil begin spaar: 

Wat is dit? 

In die Mexiko-woestyn woon ’n bedreigde akkedis met ’n giftige byt – die gilamon-ster. Gelukkig eet hy slegs ’n paar keer per jaar, klaarblyklik omdat hy nie honger word nie. En hongerte, soos almal weet wat al op ’n dieet was, is die rede waarom diëte misluk. 

Wat sou dié akkedis se honger so doeltreffend stil? Navorsing hieroor het gelei tot splinternuwe insigte oor die werking van eetlus. Die opwindende resultaat is die GLP-1-agoniste, die nuwe klas middels wat die sleutel tot slankheid is. 

Hoe werk dit? 

Hier is ’n verrassende feit om te verteer: Jy is nie honger omdat jou maag leeg is nie; ook nie versadig omdat jou maag vol is nie. Navorsers sê jou brein besluit of jy versadig of honger is, en dan spesifiek twee groepe senuweeselle diep in jou brein, in jou hipotalamus. 

Die sogenaamde eetlusgroep bring twee verbindings voort, NPY and AGRP, wat jou honger laat voel, so honger dat jy móét eet. 

Die sogenaamde versadigingsgroep, aan die ander kant, bring CART en alfa-MSH voort, wat op ’n baie kragtige manier jou eetlus blus. 

Hierdie twee groepe selle word aan-en afgeskakel deur hormone wat in die spysverteringskanaal uitgeskei word in reaksie op kos, onder meer grelien, leptien en insulien, asook GLP-1. 

GLP-1 word in jou dunderm afgeskei en dit laat weet die brein se versadigingselle jy is versadig. By sommige van ons kom hierdie boodskap, helaas, nie deur nie.

En dis waar die nuwe dieetmedikasie aan die werk spring: Dit aktiveer jou GLP-1’s. So word jou versadigingselle dus aangeskakel (en só gehou) ten einde CART en alfa-MSH af te skei. 

Die gevolg? Jy voel versadig. Dis asof jy ’n halfdosyn paasbolletjies verslind het, al het jy slegs ’n halwe een gehad. 

Jy verloor dus gewig sonder daardie hewige stryd teen die ewige honger van kilojoulebeperkte diëte. 

Hoeveel kilogram sal jy verloor? 

Dit verskil van mens tot mens, maar die ondersoeke wys uit dat een uit elke drie mense tot 10% van hul huidige gewig verloor, terwyl die res minstens 5% afskud. Dit beteken sowat 10 tot 20 kilogram in die loop van ses maande. Sommige mense sien wel eers ná ’n paar weke ’n verskil; ander begin gou gewig verloor. Diegene wat die meeste gewig verloor, eet ook verstandig, oefen matig en leer nuwe eetgewoontes aan, dikwels met die hulp van gedragsterapie. 

Maar nee, jy gaan nie twintig kilogram in een maand verloor nie … 

Word jy vet as jy ophou? 

Kort antwoord? 

Ja. 

Hier is nog ’n kopskuif om te maak: Die jongste navorsing dui daarop dat oorgewig ’n chroniese toestand is, met ander woorde soos hoë bloeddruk. Dit gaan nooit weg nie. Jy kan jou bloeddruk met medikasie beheer, maar sodra jy dit staak, styg dit weer na gevaarlike vlakke. 

Dieselfde geld oorgewig. Jy bly lewenslank ’n mens met ’n disfunksionele eetlusbeheer. Daarom sal die vetjies terugkom wanneer jy die medikasie staak omdat jy, net soos tevore, honger voel. Daarom beveel Novo Nordisk en endokrinoloë aan dat jy dit lewenslank gebruik. 

Daar is hieroor wel ’n debat. Een denkrigting is dat jy dit kan gebruik net totdat jou gewig normaliseer. Wanneer jy dan weer tien of wat kilogram opgetel het, hervat jy die gebruik daarvan. 

Dis ook moontlik dat jy, terwyl jy dit gebruik, jou leefwyse en eetgewoontes verander en dus nie so maklik of gou weer sal gewig optel nie. 

Hierdie benadering is uiteraard meer bekostigbaar. 

Vir wie is dit, en vir wie nié? 

Mense met tipe 2-diabetes kry voorkeur. Dis ook reeds in ons land vir gewigverlies goedgekeur, afhangende van beskikbaarheid. 

Dis egter nie vir diegene wat ’n paar kilogram oorgewig is nie. Die riglyn is dat jou sogenaamde “Body Mass Index” (BMI)* 30 of hoër moet wees. As jy 160-170 cm lank is en meer as 80 kilogram weeg, kwalifiseer jy dalk hiervoor. 

Persone met ’n BMI van 27 en ’n chroniese toestand wat sal verbeter as hulle gewig verloor, byvoorbeeld prediabetes, en heup- en knieprobleme, word ook oorweeg. 

Diegene met pankreas- of nierprobleme mag dit nie gebruik nie. 

Uiteindelik sal jou dokter hieroor uitspraak lewer. 

Hoe gebruik jy dit? 

Jy spuit jou weekliks of daagliks in, afhangende van die soort wat jy gebruik. Dis al. Nou voel jy nie meer honger nie, jy eet dus min en verloor gevolglik gewig. Tensy jy jou natuurlik, om byvoorbeeld emosionele of sosiale redes, dwing om (meer) te eet. 

Newe-effekte? 

Een uit vyf gebruikers kla oor moegheid, naarheid, hoofpyn, lighoofdigheid. En konstipasie en/of diarree – meestal ligweg. Byna almal pas binne ’n week aan. 

*Werk jou BMI uit 

Jou BMI is jou gewig (in kilogram) gedeel deur die kwadraat van jou lengte (in meter).

Loer gerus op ons gesondheidsblad vir nog artikels oor jou liggaam en goeie gesondheid.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.