Ek het twee seuntjies. Hulle hou nie van inkleur nie en hulle wil nie lank legkaart bou nie. Hulle hou eerder daarvan om vuil te word. Hulle het, trouens, die kuns van vuil word behoorlik bemeester.
Ek sit en kyk na my jongste wat buite by die kraan doenig is. Hy is besmeer. Hy sê hy is ’n konstruksiewerker en hy is besig om water in sy Tonka-vragmotor se bak te tap. Dit vervoer hy dan na die tuin en stort dit in ’n gat wat hy eiehandig gegrawe het.
Daar is egter ’n probleempie: Die Tonka lek, en so ver hy ry, so ver volg ‘n streep water hom. Ek giggel en dink onwillekeurig aan Hansie en Grietjie se klippies wat hul pad huis toe aangedui het.
My kind lyk teleurgesteld in die minnerig water wat hy telkens in die gat stort. Maar hy hou nie op nie. Vrag ná vrag ry hy aan. Hy leer gou dat as hy vinniger met sy Tonka beweeg, daar meer water in die gat gestort kan word.
LEES OOK: Vriende kan jou breek
Soos altyd maak my kinders se manewales iets los in my. Dié keer dink ek aan Ou Israel wat só deur die profeet Jeremia vermaan is: “Want twee wandade het my volk gepleeg: My, die fontein van lewende water, het hulle verlaat om vir hulle opgaarputte uit te kap – gebarste opgaarputte wat nie water hou nie.”
Verbeel jou jy het direkte toegang tot ’n onuitputlike waterbron, maar jy besluit om eerder vir jou ’n put te bou om water op te gaar. Jy besef gou jy is nie die beste mens om so ’n stuk bouwerk aan te pak nie, maar jy probeer nietemin jou bes.
Die gevolg is egter onvermydelik: ’n put wat gou bars. Net soos die water in my seuntjie se Tonka, stroom die water uit die put se krake en barste. Die hoeveelheid water in die put is gou-gou aansienlik minder as wat jy verwag het.
Daar is ’n volgende probleem: Soos in enige waterstelsel, verminder die waterdruk hoe verder jy van die bron beweeg. Jy het dus baie meer krag nodig om water oor ’n groter afstand te pomp. Dan hardloop jy ál vinniger om by te hou. Dis ’n uitmergelende taak.
Maar daar is ook ’n derde probleem: Wanneer jy self ’n put moet bou, is die put nooit voldoende nie. Dis nie naastenby genoeg vir God se oneindige Bron nie. Oplaas besef jy dat jy eenvoudig nie op so ’n groot skaal kan werk nie; jy beskik nie oor genoeg krag nie.
Ons doen dikwels dieselfde as Ou Israel: In plaas daarvan om water uit die Bron, die fontein van lewende water, te skep, maak ons staat op ons eie planne, en dalk die planne van die mense om ons. Jeremia sê voorts: “Weerhou … jou keel van dors! Maar jy sê, ‘Tevergeefs! Nee, want ek het vreemdes lief; hulle sal ek volg’” (Jer 2:25).
As ons op onsself of op ander vertrou, loop ons put voortdurend leeg. Ons dors word dalk wel vir ’n kort tydjie geles, maar dit keer gou terug omdat ons net bietjies-bietjies op ’n slag kan drink. En hoe warmer dit om ons word, hoe dorser word ons. Dis immers in die woestyntyd dat ons water die nodigste het.
Die Here nooi ons uit: “Kom, almal wat dors is, kom na die water! En wie geen geld het nie, kom koop en eet! Kom koop sonder geld, sonder koste, wyn en melk!” (Jes 55:1).
Al wat ek moet doen, is om op die Here te vertrou, op Hom alleen. Nie op my eie planne nie. Nie op ander mense nie. Op Hom alleen. Ek hoef niks te betaal nie; die prys is reeds betaal. Hy verlang my toewyding en trou, en ek sal nooit weer dors hê nie.
Dis wonderlik om te weet dat die beste oplossing reeds tot jou beskikking is deur jou geloof in en vertroue op God.
Onthou gerus Jesus se gesprek met die Samaritaanse vrou by die put. En veral sy antwoord op haar wens om tog ook van die lewende water te ontvang.
“Jesus het haar geantwoord: ‘Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors kry, maar wie van die water drink wat Ek hom gee, sal tot in ewigheid nooit dors kry nie. Die water wat Ek hom gee, sal in hom ’n fontein van water word wat opborrel tot die ewige lewe” (Joh 4:13-14).
Simone Gauche is ’n mamma met twee seuntjies, sy is ’n huweliksmaat en ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk.