Soms kom daar mense oor ’n gelowige se pad wat gróót uitdagings aan so ’n gelowige bied: Hulle toets jou geloof …
Delila was een van daardie mense. Sy het aanhoudend by Simson geneul om haar te vertel wat die geheim van sy krag is. Sy was opdringerig en knaend. “En omdat sy die hele tyd met haar versoeke by hom geneul het en hom lastig geval het, het hy so ongeduldig geraak dat hy kon sterf” (Rig 16:16).
Drie keer kon Simson die versoeking weerstaan om die geheim te verklap, maar uiteindelik het hy ongeduldig geraak. Só ongeduldig dat hy toe sy lewe in gevaar gestel het.
Ons ken ook sulke situasies en sulke mense. Nee, dis nie altyd iemand wat ons probeer verlei nie; soms is dit bloot ’n mens wat goed weet hoe om “die regte (verkeerde!) knoppies te druk” – en dan word ons so kwaad dat ons dinge sê en doen wat ons later berou.
LEES OOK: Sigbare hoop
Dit is so dat sommige mense die slegste in ons na vore bring. Diésulkes weet hoe om ons swakplekke uit te buit. Soms sal hulle, soos Delila vir Simson, ons manipuleer met hul liefde of hul aandag en só probeer om te kry wat hulle by ons wil hê.
Dalk slaag ons daarin om die versoekings te weerstaan, maar soms gee ons later in.
Ek wonder of dit in die laataand was dat Simson op Delila se skoot aan die slaap geraak het. Was hy moeg ná ’n lang dag? Ons weet, ék weet, hoe moeilik dit is om nié voor versoekings te swig as jy moeg is of onder groot druk verkeer nie.
Ons weet ook hoe Simson se storie geëindig het nadat hy sy belofte aan God verbreek het. Sy hare is afgeskeer en hy het sy Godgegewe krag verloor. Sy oë is uitgesteek en hy is vasgebind om soos ’n slaaf te werk (Rig 16:21).
Simson het op die slegste moontlike manier geleer dat verkeerde vriende en ’n bedenklike verhouding jou kan breek; so ’n vriendskap/verhouding het hom, trouens, sy lewe gekos.
Sommige versoekings is moeilik om te oorwin, bloot omdat ons so dikwels daaraan blootgestel word. Daarom is dit beter om die soort geselskap te vermy wat jy weet jou voor ’n versoeking sal laat swig. Draai om. Loop weg.
’n Ander perspektief
Maar daar is ook ’n ander perspektief op versoekings. Hoor wat skryf die apostel hieroor: “My broers, julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom, want, soos julle weet, as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard. En die volharding moet enduit volgehou word sodat julle tot volle geestelike rypheid kan kom, sonder enige tekortkoming” (Jak 1:2-4).
Beproewings en versoekings, sê die apostel, speel ’n belangrike rol in ons geestelike groei. Wanneer ons geloof getoets word en ons kry dit reg om te volhard, kom daar groei en ontwikkeling. Die versoekings lei dan tot vreugde wanneer ons besef dat ons dit kán oorwin, én dat ons daardeur sterker word.
Maar ons betaal ’n duur prys wanneer ons voor versoekings swig: Ons word gaandeweg blind vir ons eie sondes.
Ons moet dus goed weet dat nie almal dit met ons goed bedoel nie. Ons moet ons oë oop hou en ons gees pantser teen sulke mense. Ons beloning is ’n lewe vol vervulling, en die heerlike wete dat ons God se doel vir ons nastreef.
Hier is ’n uitdaging: Is daar iemand in jou lewe wat jou gereeld teister? Wat kan jy doen om te verseker dat jy sulke teistering te bowe kom en sulke toetse slaag?
Simone Gauche is ’n mamma met twee seuntjies, sy is ’n huweliksmaat en ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk.