Sewe jaar gelede het Elsanne Kamffer (54) se man Kobus haar in die rug geskiet. Net daarna het hy homself met ’n rewolwer om die lewe gebring.
Vandag sê Elsanne sy is nie ʼn slagoffer nie. “Mense sien my rolstoel en hulle weet ek kan nie loop nie. Maar ek het empatie met dié wie se pyn so diep lê dat dit onsigbaar is vir ander.”
‘Hy wou my beheer’
Kobus Kamffer het van jongs af met sy geestesgesondheid gesukkel. Elsanne sê sy het dikwels probeer om vir hom hulp te kry, maar hy wou nie hulp hê nie. Die uiteinde was tragies.
Elsanne vertel: “Ek het Kobus in 1991 ontmoet toe ons albei in ʼn bank gewerk het. Ons was vier jaar lank romanties by mekaar betrokke voordat ons in 1997 getroud is. Hy was ʼn sagte siel; daar was geen gevaarligte nie. Ons het ʼn goeie verhouding gehad. Geen konfrontasies nie, geen argumente nie.
“Sy stiltes was deel van sy persoonlikheid en hy het feitlik nooit geglimlag nie. Dit het my na hom toe aangetrek. Ek wou hom graag laat glimlag. Maar ek het dit nooit reggekry nie.
“In ons eerste klompie huweliksjare was ons goeie lewensmaats. Ons was gemaklik in mekaar se geselskap. Hy het egter daarin geslaag om my geleidelik van my vriende en my familie te isoleer. Hy wou my beheer, besef ek nou.”
‘My gehoorsaamheid sorg vir huweliksgeluk’
Elsanne reken dat daardie aanvanklike gelukkige fase in hul huwelik toegeskryf kan word aan die feit dat sy hom in alles gehoorsaam het. Volgens haar was hy verseker van haar liefde en toewyding. Hy het geweet dat sy hom altyd sou vergewe.
Met verloop van tyd het hy die grense ál meer getoets, ten einde aan homself en aan haar te bewys hoe ver hy kon gaan. Hy het haar voortdurend gekritiseer, oor alles, ook onbenullighede. Haar voorkoms, haar keuses en haar menings is afgekraak. Dit het vir gereelde rusies gesorg, ook in die openbaar en tussen vriende.
LEES OOK: ‘Ek was deurentyd bewus van die Here se teenwoordigheid,’ getuig boervrou ná plaasaanval
Elsanne het verneder gevoel. Maar sy het steeds probeer om die onderskeie situasies te ontlont, en sy het haar bes probeer om enige moontlike konflik te vermy.
‘ʼn Groot man met ʼn harde stem’
Mettertyd het sy begin om sosiale geleenthede te vermy, en sy het ook nie meer vriende oorgenooi nie. Al die meegaande spanning het haar lewe begin versuur.
“Ek moes altyd verslag doen oor my doen en late. Hierdie gedrag het ál erger geword. Hy het ook baie gedrink, wat hom nog aggressiewer gemaak het.”
Sy sou eers veel later besef dat sy geen skuld gehad het aan dié disfunksionele situasie nie, dat sy inderdaad ʼn slagoffer van emosionele uitbuiting was.
“Al het hy my nooit aangerand nie, het dit nie my vrees vir hom minder gemaak nie. Hy was gemeen. Hy het die gewoonte gehad om spesiale geleenthede, soos ʼn verjaardag of Kersfees, met sy aaklige gedrag te bederf.”
Selfs ʼn besoek aan ʼn restaurant sou in ʼn rusie ontaard, dikwels bloot omdat sy ʼn sitplek gekies het sonder om hom te vra.
“Hy was ʼn groot man met ʼn harde stem. Mense het na ons gestaar wanneer hy so onvanpas opgetree het.”
‘Ek kon dit nie meer verduur nie’
Hulle was reeds 20 jaar getroud toe Elsanne besluit het om die huwelik te beëindig. Daar was weer eens ʼn voorval in ʼn restaurant. “Toe ons tuis kom, het ek vir Kobus gesê dat ek dit nie meer kon verduur nie. Ek het ook vir hom ʼn brief geskryf waarin ek alles mooi verduidelik het.
“Hy het nie aggressief daarop gereageer nie, en ons het later ʼn rustige gesprek oor die brief gevoer.”
Dit was in Februarie 2017.
Hulle is uiteindelik daardie Meimaand amptelik geskei. Elsanne onthou dit as ’n rustige tyd, sonder konflik. Later het sy wel besef dat hy so toegeeflik opgetree het omdat hy gehoop het dat sy van plan sou verander.
Elsanne vertel: “Ek het later iemand anders ontmoet en ons het baie tyd saam deurgebring. Ek het foto’s van dié tye op sosiale media geplaas, en iemand het dit aan Kobus gewys. Hy het my gebel. Hy was woedend. Sy reaksie was deels as gevolg van my nuwe verhouding, maar ook omdat hy verneder gevoel het. Hy was trots, en die beeld wat sy vriende van hom gehad het, was vir hom belangrik.”
Te midde van sy aggressie tydens dié foongesprek het Elsanne kalm gebly. Sy het besef dat dit toe vir die eerste keer tot hom deurgedring het dat hy haar finaal verloor het.
Elsanne het ook begin vermoed dat hy haar sou leed aandoen.
“Die teistering oor die foon was baie erg,” vertel sy. “Hy het nooit opgehou om my te treiter nie. Hy het gesê dat as hy sy planne agtermekaar gekry het, my geluk tot ʼn einde sou kom.
“Ek het sy broer en sy dokter gekontak omdat ek geweet het dat hy beheer verloor het. Almal het probeer om my gerus te stel.”
‘Ek het probeer weghardloop’
Op 30 Oktober 2017 het Elsanne se lewe onherroeplik verander.
Daardie dag het Kobus onaangekondig by haar werkplek opgedaag en daarop aangedring om haar te spreek. Hy was vol beloftes oor hoe hy sou verander as sy sou terugkom. Sy het dit egter weer duidelik gestel dat daar geen moontlikheid op versoening was nie.
“Toe het hy ʼn klein pistooltjie uitgehaal. Dit het nie eens na ʼn regte wapen gelyk nie; eerder na ʼn speelding. Hy het dit teen sy slaap gedruk. Ek het geïrriteerd gevoel omdat ek gedink het dis weer sy manier om my te probeer manipuleer. Maar die volgende oomblik het hy my in die arm geskiet.
“Ek het probeer weghardloop, en hy het my twee keer in die rug geskiet. Ek het my bewussyn verloor. Toe ek later bykom, steeds op die vloer, het ek geweet ek is verlam. Daar het ʼn kliënt by die trappe afgekom en ek het net gebid dat Kobus nie dié onskuldige mens se lewe neem nie.
“Maar toe het hy homself reeds geskiet. Hy het naby my gelê en ek kon sy swaar asemhaling duidelik hoor.
“Ek en hy is na dieselfde hospitaal gehaas. Die masjiene wat hom aan die lewe gehou het, is later afgeskakel.”
‘Ek is vry, al is ek in ʼn rolstoel’
Elsanne was drie maande lank in die intensiewesorgeenheid voordat sy na ʼn rehabilitasiesentrum oorgeplaas is. Sy is op 22 Februarie 2018 ontslaan.
Sy sê: “God het my beskerm. As ek nie my bewussyn verloor het nie, sou Kobus gedink het ek leef nog en hy sou my doodgeskiet het. Indien een van die patrone wat deur my rug is my een sentimeter hoër getref het, sou dit my aorta geraak het. Daardie patroon is wel deur my een long, deur my diafragma en my milt.
“Soveel mense het vir my gebid. En ek sien God se hand in my beterskap.
“Vandag is ek ʼn nuwe mens. Ek is vry, al is ek in ʼn rolstoel. Die vrees is weg.
“My persoonlikheid het heeltemal verander: Ek het baie meer deernis met ander mense as wat ek voor die skietery gehad het. My hart is nou sag. Ek het begrip vir ander se pyn.
“Ek is nie kwaad vir Kobus nie. Die lewe is vir my goed, en die Here is by my. Ek glo dat as dit sy wil is, ek eendag weer sal loop. By Hom is alles moontlik.”
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.