Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

‘Die Here gebruik my as sielkundige én as kankerpasiënt’

Hy aanvaar die diagnose, maar nie die prognose nie.

Dit was dr Hermann Liebenberg (58) se reaksie toe hy ses jaar gelede met terminale lewerkanker gediagnoseer is. Daar is gesê dat hy ses maande sou leef, dalk ’n jaar.

So ’n diagnose ruk die mat onder jou voete uit, sê hy. Dit het ook nie sin gemaak nie. “Ek is dan ’n geheelonthouer …

“Daar was egter ’n rede waarom die Here my lewe gered het,” vertel Hermann vandag. “My werk op aarde was nog nie afgehandel nie.” Hy het sy praktyk gesluit, en besoek tans gereeld ’n onkologiesaal by ’n hospitaal in Centurion, waar hy terapie aan kankerpasiënte bied. Hy weet hoe hulle voel, want hy was self daar.

LEES OOK: ‘Julle gaan okay wees’ – Pa Pikkie voor hy sterf

“As ek hulle vertel dat ek ses jaar gelede met terminale kanker gediagnoseer is, vind hulle dadelik aanklank by my.”

‘Alles het baie vinnig gebeur’

Tydens Hermann se jaarlikse besoek aan ’n dermatoloog, meer as ses jaar gelede, het hy so terloops aan haar genoem dat sy hele liggaam jeuk. Dat hy hom soms krap dat die bloed loop. Dié spesialis het hom dadelik vir ’n lewerfunksietoets gestuur.

“Dieselfde dag het ek gehoor dat ek lewerversaking aan die opdoen is. ’n Chirurg, met wie ek reeds 15 jaar lank saamwerk, het ’n sonarondersoek gedoen. Ek kon sommer op sy gesig sien dat hy slegte nuus vir my het.

“Hy het my vir verdere skanderings gestuur. Daar was inderdaad rede tot kommer. Ek is na ’n hepatiese chirurg verwys, wat voorgestel het dat ek dadelik geopereer word en dat biopsies van die lewer en galbuise gedoen word.”

Die diagnose was lewerkanker.

’n Groot gedeelte van Hermann se lewer moes verwyder word. “Tot in daardie stadium het ek nog in ontkenning geleef; ek het nie werklik die impak van die diagnose besef nie. Terugskouend besef ek nou dat dit die brein se manier is om jou teen ’n ‘doodsvonnis’ te beskerm. Kanker is tog iets wat deur ander mense opgedoen word. En eensklaps tref dit jou.

“Die dokters het bevind dat ek nie ’n geskikte kandidaat vir ’n leweroorplanting is nie. Nou, ná die operasie, het ek slegs ’n klein stukkie lewer oor. My galblaas moes ook verwyder word, aangesien die een galbuis deur gewasse verstop is wat sowel binne as buite die buis voorgekom het. Daar is ’n stent ingeplant om die buis oop te hou.

“Alles het baie vinnig gebeur, nog voordat ek dit kon verwerk. Gelukkig is ek met ’n baie gelowige familie geseën wat onophoudelik vir my gebid het.”

’n Lang pad

’n Gedeeltelike hepatektomie gaan met baie bloedverlies gepaard. Hermann het presies geweet hoe die operasie uitgevoer sou word omdat hy die grootste deel van sy beroepslewe in mediese sielkunde gespesialiseer het.

Toe hy wakker word, het hy vasgestel dat die operasie 14 uur geduur het. “Ek was heeltemal uit die veld geslaan en het vir die chirurg gesê ek is jammer dat hy deurnag moes opereer. En dat hy my verskoning ook aan sy vrou moes oordra. Hy het net geglimlag.”

Daar het ’n lang pad voorgelê. Daar was twee keer bloeding in sy longe en hy is terug teater toe.

“Die besluit om die prognose te verwerp was die beste besluit wat ek kón neem. Maar min het ek geweet wat alles vir my voorlê …”

Hy het 28 bestralings ondergaan, en daarna twee afsonderlike sessies chemoterapie. Laasgenoemde moes dikwels uitgestel word omdat sy bloedtelling nie na wense was nie.

“Die newe-effekte was uiters onaangenaam. Maar die genade van die Here is só groot: Mettertyd vergeet jy van die slegte tye; jy onthou slegs die mylpale, en die goeie tye.

“Ek moes dikwels hospitaal toe. Ek het gereeld infeksies opgedoen wat delirium veroorsaak het. Dan het ek, tydens kouekoors-aanvalle, die absurdste dinge denkbaar aangevang! Daardie aanvalle ontneem jou van logiese denke, en het boonop geheueverlies tot gevolg.

“Ek het glo een keer besluit om my wasmasjien reg te maak. Ek het ’n pyp uitgeruk, waarna die hele kombuis onder water was toe die masjien weer aangeskakel is. ’n Vriendin het maande lank by my gebly om seker te maak dat ek nie heeltemal uit die bus val nie.”

’n Profesie

“Toe die diagnose gemaak is, het ek nog nie ’n hegte verhouding met die Here gehad nie. Maar dit het verander.

“Tot in daardie stadium het ek my as ’n Christen beskou. Ek het my selfs tot die Grieks-Ortodokse geloof gewend nadat ’n gesin tydens my jaarlikse besoek aan die Griekse eiland Kalymnos soos familie geword het. Ek het ook ’n nuwe doopnaam gekry, Savvas. Dis die naam van een van hul heiliges.

“Tydens my behandeling het ek by ’n Bybelstudiegroep aangesluit. Daar is toe geprofeteer dat die Here my al hierdie dinge laat deurmaak sodat ek, wanneer dit agter die rug is is, ’n ‘megafoon’ vir hom sal wees. Hierna is ek gedoop.

“Ek het vriende verloor. Maar ek het ware vriende bygekry, mense met dieselfde geloofsoortuigings as myne.”

‘My lewe het onherroeplik verander’

“Wat met my gebeur het, was bonatuurlik. Ek is ná ses jaar in volle remissie, en ek glo en vertrou dat ek genees is. Al die operasiewonde laat lyk dit wel of ek ’n haai-aanval oorleef het. Maar dit pla my glad nie. Ek noem dit ‘oorlogswonde’. Dit het my net sterker gemaak.

“Ná die aanvanklike diagnose was ek bang om te sterf. Tog het ek ’n saligheid begin beleef wat alle verstand te bowe gaan. Nou ervaar ek geen vrees vir die dood nie. Die Koninkryk wag vir my wanneer dit sy wil is om my te kom haal.

“Ek glo nie aan toeval nie; al dié dinge was ’n bestiering. Daar het deure vir my oopgegaan. Daar is ’n spreekkamer vir my aangebied sodat ek onkologiepasiënte op ’n operasie en verwante prosedures kan voorberei.

“Die Here se plan vir my was om ’n getuie vir Hom te wees. En om ander, wat in dieselfde bootjie as ek is, na Hom te lei. Hy is die Oppergeneesheer. Ek het dus die geleentheid gekry om ’n instrument in sy hand te wees. Hy gebruik my ervaring as sielkundige, sowel as my belewenisse as kankerpasiënt.

“Ek konfronteer niemand oor geloofsbeskouings nie; ek probeer eerder met my persoonlike interaksie ’n voorbeeld stel. My lewe het onherroeplik verander. Alle eer aan die Here!”

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Projek 108

Ons wil ‘n dringende beroep op medegelowiges doen om ons te help om die Evangelie te versprei – voordat dit te laat is. Jou donasie kan iemand se storie herskryf – nou en hierna…

Hulle Wag

Ons kan die rede wees dat iemand vir die eerste keer vir Jesus leer ken…

Kinderpret-leesreeks

Beleef ‘n avontuurlike leesreis met ons Kinderpret-leesreeks! Vir jong lesers, elke boekie vol pret en leersame avonture…

Kinders van die Lig

Gee geloof en hoop aan kinders deur geloofsboeke in kinders se hande te plaas…

Laat ‘n Ligspoor

Help ons om die boodskap van lig uit te dra en verander kinders se lewens deur die krag van stories…

BybelBouBlokke

Bou saam aan ‘n geestelike toekoms deur die geloof van kinders, gesinne, en lidmate te versterk…

KinderKersKous

Gee ’n geskenk van hoop aan kinders deur hulle lees-met-begrip-vermoë te bevorder en hul geestelike ontwikkeling te ondersteun…

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF