Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

My weduwee-reis: Van Godverlate tot dankbaar en dansend

DEUR HESSIE SCOTT

Godverlate, kwaad vir die Here. My hele wêreld in duisend flentertjies.

Dis hoe ek op 18 Mei 2018 gevoel het toe my Engelsman sy hemelse vlerke gekry het. Hy het ’n kort stryd teen longkanker gevoer en is op presies 60 jaar en vier maande oorlede. Ons was 35 jaar lank bymekaar.

Nie eens ons dominee se woorde kon my troos nie. Hy het gesê die Here het my nie verlaat nie, en dat Hy nou nader as ooit aan my is. En ek mág kwaad wees vir die Here, het hy bygevoeg.

‘My dae was grou en alleen’

Só het my reis as weduwee begin. Daar was nie tyd om te rou nie. Die boedel moes afgehandel word. Daarby was die aanpassing moeilik; gemeenskaplike vriende het skielik nie meer kom kuier nie. Eensaamheid, donkerte, het die oorhand gekry en ek het ’n diep, rou seer beleef. ’n Verlange wat my nooit wou laat los nie.

My Engelsman het ’n kort stryd teen longkanker gevoer en is op presies 60 jaar en vier maande oorlede. Ons was 35 jaar lank bymekaar. Foto verskaf

Donkerte het my omvou. ’n Winterkoue het oor my hele menswees kom lê. My dae was grou en alleen. Ek was so kwaad vir die Here dat ek gesukkel het om te bid. Ek het dae lank met oop oë met die Here gepraat. Ek het lang ente langs die see gaan stap en met die Here baklei.

LEES OOK: ‘God gee my krag wanneer ek swak is,’ vertel Willistonse boervrou wat al 20 jaar vir skool stap

Ek het Hom gevra waar Hy dan is, en waarom Hy my verlaat het. Die kere wat ek wel met toe oë in my binnekamer kon bid, het ek vrae gevra: “Waarom my liefmens vat? Waar is U, en waar is u trooskombers waarmee U my moet toevou? Ek sukkel om al die flentertjies van my stukkende hart en my stukkende lewe aan mekaar te plak.”

‘Ons het elke dag ons droom geleef’

Ek en my Engelsman was al twee onderwysers. Ons is in 1983 getroud. In 2016 is ek medies ongeskik verklaar as gevolg van isgemiese hartsiekte, wat ek van my pa oorgeërf het. Hy is reeds op 42 oorlede. Dis ’n degeneratiewe siekte. En omdat my toestand toe ’n afwaartse neiging getoon het, het die kardioloog aanbeveel dat ons dié dinge wat ons graag wou doen, moes doen.

Daarop het Engelsman op vervroegde aftrede besluit. Hy was 57 en ek 55. Ons het van Brackenfell na Britanniabaai getrek en ’n droomhuis gekoop, feitlik teen die see. Ons het elke dag ons droom geleef.

Die lewe was ‘n fees omdat ons huis altyd vol mense, gaste en vriende was. Daar is altyd gelag en gekuier.

In Julie 2017 het Engelsman egter ’n bloedklont in sy been gekry, en as gevolg van vernoude are moes hy stents ontvang. Daarna het sy gesondheid verswak. In Maart 2018 is hy met kanker gediagnoseer.

‘Die Here is die skrywer van my lewensboek’

Nou eers begin ek die Here se hand in my lewe raaksien. Ek sien hoe Hy my nooit verlaat het nie. Hoe Hy my lewe vooruit beplan het.

Die Here is die skrywer van my lewensboek; ek is bloot die hoofkarakter. Ek sien hoe my lewe se flenters soos ’n legkaart in mekaar begin pas.

Ek sien hoekom ek destyds medies ongeskik verklaar is. Die Here wou hê ons moes saam so ’n bietjie proe aan die lekkerte van aftrede, en die diep, innige liefde wat daarmee gepaardgaan.

Ek sien ook dat Hy ons na hierdie mooi dorpie gelei het, waar die lewe teen ’n stadiger pas verloop. Waar omgeemense leef, mense met ’n oop en warm hart.

Die grootste geskenk is dat ons destyds reg langs my nou liefste vriendin Helena ingetrek het. Helena is ook ’n weduwee en sy was my anker in my moeilikste tyd. Sy kon my op die weduwee-paadjie lei en tree vir tree saam met my stap. Sy het my voorberei op wat ek te wagte moes wees, en sy was die een wat my elke dag in haar gebede aan die Here opgedra het.

Vandag is ons twee weduwees wat mekaar ondersteun, wat elke middag ’n “sundownertjie” drink en oor die dag se gebeure gesels.

Ek het onlangs ook besef dat die Here my pa op ’n vroeë ouderdom kom haal het sodat ek kon sien hoe my ma ná sy dood geleef het. Haar lewe het destyds ingrypend verander. Mense wou haar inloop en haar weerloosheid misbruik. Gemeenskaplike vriende het die hasepad gekies. En haar nuwe vriendekring het nou slegs uit weduwees en ander enkellopende vroue bestaan.

Sy moes ook die heel belangrikste les leer: hoe om ’n gelowige, sterk alleenvrou te wees.

‘My eens donker lewe is nou kleurvol’

Een van die Here se groot geskenke aan my was dat Hy ’n ou skoolliefde weer oor my pad gestuur het. Hy is ’n ware juweel, ’n regte omgeemens, wat my gehelp het om uit die donkerte na die lig te beweeg. As ek groot besluite moet neem, is hy daar om te help en hy bemoedig my as die wêreld druk.

Ons sien mekaar selde, maar het daagliks kontak met mekaar. Hy reis baie oorsee vir sy werk en vertoef soms lank in die vreemde. Hy stuur dan vir my video’s en foto’s van die mooi plekke waar hy hom bevind, en só leer ek ook baie oor ander mense se mooi.

Vandag kan ek juig, en getuig dat my Here my nooit verlaat het nie. Dat Hy my lewe lank die pad saam met my stap. My emmertjie loop oor van sy daaglikse bederfies.

My eens donker lewe is nou kleurvol. Dis vol kleurryke hartsmense, en ek kleur ook letterlik my lewe met ’n verfkwas in. Ek verf meubels en potte en hou my besig met binnenshuiseversiering.

Ek kleur my dowwe, grys hare donker. En ek voeg pienk, pers, blou of rooi ligstrepies daarin, afhangend van hoe ek voel. Ek verf my naels en trek vrolike klere aan.

Bron van dankbaarheid

Ja, daar kom steeds slegte dae, maar ek gryp elke dag aan. Ek leef en beleef dit voluit en ek dans op die ritme van die musiek wat die dag vir my speel. Ek stap steeds lang ente langs die see, maar ek geniet nou die Vader se mooiste skepping. Elke dag vind ek daar vrede, aanvaarding en hoop vir die toekoms.

Vroeër moes ek hoor dat ek nie nog baie lank sal lewe nie, maar deesdae gaan dit goed met my. Ek gebruik nuwe medikasie wat my hart stérk laat klop. My twee kinders en my drie labradors vul my met vreugde en vrede en maak my lewe sinvol. Elke dag dank ek my Heer vir hulle.

My hartsmense en my familie is ’n groot seën in my lewe. My grootste bron van dankbaarheid is dat ek die Skepper kan loof dat Hy hierdie reis na heling tree vir tree saam met my gestap het.

Hierdie is my #liggetuienis. Dis die verhaal van my destydse Godverlatenheid ná die heengaan van my man, van my reis as weduwee, en van hoe ek my Heer weer gevind het.

Nou, ná vyf jaar, is ek weer my ou self. Ek is selfs besig om ’n boek te skryf.* Ek het die afgelope vyf jaar agtergekom dat baie mense nie kan verstaan dat hul lewe ná die verlies van ’n lewensmaat heeltemal verander nie. En ek weet ook dat baie mense sukkel om dit te hanteer.

* In Flentertjies heel vertel ek my verhaal. Hierdeur wil ek ander mense bemoedig. Die boek handel gedeeltelik oor my persoonlike belewing van my reis na heling, asook wat om te verwag as jy jou huweliksmaat verloor.

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.