Delia Pereira vertel openhartig waarom sy so ’n lang pad in die filmbedryf moes loop. Op 23 was sy die rooikop Vlam in die reeks Torings – maar daarna het sy van die TV-skerm verdwyn. Vandag, 30 jaar later, is sy terug op die kassie as die feeks Genevieve in Binnelanders.
DEUR DEONETTE DE KOCK
“Ek verstaan nou waarom ek so ’n lang pad moes loop: Die Here moes my uit die filmbedryf haal om my eers heel te maak. Want as jy gebroke is en jy werk in dié bedryf, is dit gevaarlik.
“Jy moet eers gegrond wees in die Here, gewortel in jou identeit en sin vir eiewaarde, en sterk in die Here staan, om dié bedryf te oorleef.”
‘My leë hart’
Só gesels die 53-jarige aktrise Delia Pereira. Sy vertolk tans die rol van ’n opperste feeks in die gewilde sepie Binnelanders. Wat sommige (ouer) kykers dalk nie besef nie, is dat hulle Delia sowat 30 jaar gelede ook in ’n groot rol in ’n gewilde reeks gesien het, dié van die rooikop Vlam in Torings.
Daarna is sy ’n voltydse rol in Egoli aangebied, maar sy het dit van die hand gewys. Alhoewel sy van kindsbeen af daarvan gedroom het om ’n aktrise te wees.
LEES OOK: Juanita op 50: ‘Ek is nader aan God, sterker en hopelik ’n beter mens’
“Ek het altyd gedink: As ek ’n aktrise is, sal my lewe vervuld wees. Ek onthou ek was 23 toe ek die rol in Torings losgeslaan het. My gesig was op tydskrifte se voorblad, en my lewe was presies soos ek daarvan gedroom het.
“Tog was my hart leeg; daar was trouens ’n gat in my hart.
‘Uiteindelik vind ek waarna ek gesoek het’
“Ek het in ’n tradisionele kerk grootgeword, maar ek het nie die Here daar ervaar nie. Daar was ook te veel huigelagtigheid. Ek het na vervulling in my lewe gesoek, na ’n geestelike lewe wat ‘magical’ is, in direkte verbinding met God. Dis waarna ek gestreef het. In my soeke hierna het ek op universiteit selfs by die New Age betrokke geraak.”
Delia het uiteindelik by ’n charismatiese kerk ingestap en die Here se teenwoordigheid daar ervaar. “Toe weet ek dis waar ek hoort. God is lewend, jy kan met Hom gesels, jy kan Hom ken en ’n diep verhouding met Hom hê.
“Tydens die verfilming van Torings het ek die Here aangeneem. Dit was ’n soos-handomkeer-verandering in my lewe. Dis waar my geloofsreis met die Here begin het. Ek het uiteindelik gevind waarna ek al die jare gesoek het.”
Hierna het Delia ’n tydelike rol in die immergewilde sepie Egoli gekry. Tussendeur het klein rolletjies gevolg, allerlei teaterwerk en stemwerk. Egoli se regisseur Franz Marx het Delia, ná drie maande in Egoli, ’n voltydse rol aangebied.
“Dit was fantasties om ’n voltydse rol in ’n sepie aangebied te word. Die aanbod was aanloklik, maar ek kon dit nie aanvaar nie. Ek was nie gemaklik met die soort dinge, onder meer die seksuele immoraliteit, wat ek moes uitbeeld nie. Ek kan my nie as Christen en Jesusverteenwoordiger daarstel en dan speel ek daardie soort rol nie.
“Ek het nie omgegee vir die prys wat ek moes betaal om die regte ding te doen nie. Ek kan nie kompromieë tref in my geloof nie. Ek moes keuses maak ter wille van moraliteit en eiewaarde, en dit het ’n negatiewe uitwerking op my loopbaan gehad.”
’n Visioen
In 1999 het Delia en Frank twee jaar lank Taiwan toe gegaan om Engels te doseer. Daarna is hulle twee jaar lank Amerika toe, waar hulle toneelgespeel het.
Toe het Thailand gevolg, 14 jaar lank. Hulle het Engels gedoseer en kreatiewe vakansiekampe vir kinders aangebied. Intussen het Frank ’n parodie-karakter geskep en YouTube-video’s gemaak. Hierdie video’s het wyd byval gevind.
“Sowat agt jaar gelede, tydens ’n Christenkonferensie in Indonesië, het ek ’n ervaring gehad, eintlik ’n visioen, terwyl ek gebid het. In dié visioen het Jesus my as mens raakgesien terwyl Hy aan die kruis hang. Hy het my gewys wie ek is en hoe Hy my sien. Hierdeur het Hy my identiteit in ’n oogwink herstel, en ek het besef ek is goed genoeg vir Hom.
“Dié ervaring was ’n ware ingryping in my lewe. Daarom wil ek ander mense graag help om hul identiteit in die Here te vind, en te besef hoe ontsaglik lief Hy hulle het.”
In 2017 het Delia en haar man Frank, ’n kunstenaar en akteur, asook skrywer en regisseur, na Suid-Afrika teruggekeer. Die paartjie het ’n dramaskool gestig, The Studio Acting School, wat hulle in Oude Westhof in Bellville bedryf.
“Ons het gevoel ons wil ’n impak op jong akteurs se lewe maak. En hier was ’n gaping wat ons kon vul. Ons voel regtig dat ons ’n mandaat van die Here het om die volgende geslag kreatiewe mense op te hef, te versterk en vir die bedryf gereed te maak. Ons wil jong akteurs help om hul voete te vind in die Here, hulle daaraan blootstel om op ’n professionele filmstel te wees, om die regte keuses uit te oefen en te leer hoe om te maak as jy ’n oudisie bywoon.”
’n Uitdagende rol
Oor haar rol in Binnelanders lag Delia net: “Ek is glad nie soos die bose Genevieve nie, want ek probeer om soos Jesus te wees. Dis wel makliker om ’n rol te speel wat baie ver van my as mens verwyderd is. Dis trouens nogal lekker om sulke rolle te speel, want dis uitdagend, veel meer as om ’n ‘goody two shoes’ te moet wees.
“Die wêreld is vol gebroke mense, en as aktrise moet jy mooi dink oor wat jy bereid is om te speel en wat nie. Ek gee nie om om die rol van Genevieve as gevalle mens te speel nie. Niemand hou van haar en wat sy doen nie; almal haat haar – en met goeie rede.
“Maar waar ek die streep trek, is om ’n rol te moet speel waar seksuele immoraliteit en immorele dade voorkom, en dan maak asof dit aanvaarbaar is.”
Flieks en wonderwerke
In 2021 het Delia en Frank hul eerste kortfilm gemaak – Franki. “Een van ons jong akteurs, Nicola Nothnagel, het die hoofrol in Franki gekry. Sy was in haar matriekjaar ’n student by ons.
“Sy het pas ook ’n baie groot rol gekry in ’n Netflix-reeks wat tans geskiet word. Dit maak ons baie bly as die deure vir ons studente oopgaan.”
Verlede jaar het hulle hul tweede kortfilm, Time Machine, gemaak wat vanjaar vrygestel word. Weer eens het Frank die storie geskryf en Delia die redigering waargeneem.
“Baie mense het ons finansieel gesteun om hierdie films te kon maak. Ons glo dat alles van die Here af kom. Hy het aan my en Frank die woord gegee om films te maak. Hoewel ons tans kortfilms vervaardig, sal ons graag later vollengte films wil aanpak. Stories oor die Here se ingryping en die verlossing wat Hy bring.”
So tussendeur het Delia ook ’n nagraadse onderwyssertifikaat met lof behaal, en vanjaar ’n pos as kultuurhoof by die Hoërskool Durbanville losgeslaan, waar sy onder meer met tienertoneel gaan help.
Hieroor is sy baie opgewonde: “Dit was ook ’n wonderwerk! Terwyl ek gestudeer het, het ek die rol in Binnelanders gekry. Ek het proefonderwys by my almal mater, die Hoërskool Durbanville, gegee – en ek het so lekker daar gewerk dat ek aansoek gedoen het vir die pos as kultuurhoof. Ek het dit gekry, en die hoof was werklik tegemoetkomend. Hy het onderneem dat ek steeds af en toe ’n aktrise kan wees.”
Ook by die skool wil Delia as mentor optree en talentvolle kinders help om nie die pad byster te raak wanneer hulle die akteursbedryf betree nie. Om op die Here te vertrou om hul loopbaan vir hulle te bestuur.
Wat hou haar toekoms in die bedryf in?
Delia sê sy wil, ná die Binnelanders-rol, steeds toneelspeel en probeer om nog ’n rol of wat los te slaan. Maar intussen wil sy en Frank vollengte films maak, wat kykers meesleur en hulle daardie magiese oomblikke sal laat ervaar. “Wow!”-oomblikke, waarin hulle besef hoe die Here werk. Hulle wil mense wys hoe die Here ’n gebroke lewe aanraak.
- Delia het aan die Hoërskool Durbanville gematrikuleer en ’n BA-graad in drama aan die Universiteit Stellenbosch behaal. Daarna het sy ’n honneursgraad in toneelspel verwerf en haar eerste hoofrol in die reeks Grondbaronne Sy het ook ’n rol in Sleurstroom vertolk. Toe het Torings gevolg.
- Deel jou getuienis met LiG. Stuur jou storie van hoop in sowat 800 woorde na lig@tydskrifte.co.za en onthou om foto\’s by te voeg.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.