Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

\’Die klippe sal uitroep\’

DEUR PIERRE BEUKES

Ongeveer ’n jaar gelede het ek ’n begeerte gekry om klippe op ons kleinhoewe te pak weens ’n gedagte wat by my opgekom het, naamlik “die klippe sal uitroep”. Ek het dit met my vrou gedeel en nie toe spesifiek geweet of dit ’n spreekwoord of iets uit die Bybel is nie.

Verwagtinge vir 2020

Die afgelope paar jaar het dit finansieël baie moeilik met ons gegaan weens. Die hoof rede hiervoor is omdat God intens besig was om aan ons gesin se lewens te werk. Ek moes sommige maande geld rondskuif tussen rekeninge en het gereeld nie geweet hoe alles betaal gaan word nie, maar ten spyte van uitdagings, het ek besef dat God besig was om ons te vorm het. Ek het Hom bly vertrou. Met die aanbreek van die Covid-19 grendeltyd het die gedagte van die klippe weer by my opgekom.

Die kleinhoewe waar die klippe uitroep.

Omdat die finansiële druk so groot was, het ek van Januarie af ’n groot opgewondenheid gehad oor 2020. Ek het geglo dat die Here iets in 2020 gaan doen, want my situasie was net te beroerd. Die reël by my werk was dat ons vir April-maand net 50% van ons salarisse sou kry. Dit was die kersie op die koek, maar ek het met groot verwagting gewonder wat die Here gaan doen.

Gedurende die eerste week van grendeltyd het ek die gedagte rondom die klippe met my vrou en twee seuns gedeel, en ons het saam besluit om die woorde in Engels uit te pak, sodat die boodskap die wêreld kan ingaan.

Die Beukes-gesin van Wellington.
Lukas 19:40 – As hulle swyg, sal die klippe dit uitroep

Meeste van ons ken die bekende gebeurtenis. Jesus het op Palmsondag op die rug van ’n jong esel Jerusalem ingery en die mense het geskree en gejuig en hulle klere op die pad gegooi om Hom te eer. Die Fariseërs het vir Jesus gevra om die mense stil te maak. Jesus het hulle geantwoord dat as hulle sou stilbly, sou die klippe dit uitroep. Ek en my gesin het besluit om “God loves you” uit te pak by hierdie skrifgedeelte.

Genesis 22:14 – Die Here sal voorsien

In hierdie skrifgedeelte lees ons dat Abraham en sy seun, Isak oppad is na die berg waar Abraham hom moet gaan offer in opdrag van die Here. Toe Abraham gereed was om hom te slag, het ’n Engel van die Here met hom gepraat en gesê dat Abraham met hierdie optrede bewys dat hy gehoorsaam is aan God. ’n Ram was die voorsiening wat God bewerk het, sodat Abraham dit in die plek van Isak kon offer. Abraham het die berg “Die Here sal voorsien” genoem. Dit is die woorde wat ons saam met hierdie teksvers uitgepak het – “God will provide.”


Lees nog getuienisse hier.


Die klippe sal praat

Op die kleinhoewe waar ons woon lê daar duisende rivierklippe. Nadat ek die woorde van God ontvang het, het ek gevoel dis ’n opdrag van God om die klippe uit te pak, sodat Hy ons oorwinning kan bewerkstellig.

Die woorde “God loves you” is 60 m x 6 m.

Ons gesin het begin beplan aan hoe lank en wyd die letters moet wees, maar ons moes eers die klippe bymekaarmaak.

“God loves you” se mates is 60 m x 6 m en die hele projek het ons ongeveer vyf weke besig gehou tussen ons ander verpligtinge.

En die wonderwerke het begin gebeur.

Gedurende die derde week van grendeltyd kontak ’n vriend my en vra vir my bankbesonderhede. Sy woorde was dat ’n anonieme persoon ’n gedeelte van sy salaris aan my wou oorbetaal.

Net vier dae later noem ’n ander persoon dat hy my graag finansieël (rentevry) wil help totdat ek in ’n beter posisie is. Aan die einde van April kon ek al my rekeninge en ’n gedeelte van my agterstallige skuld betaal.

Die lesse wat God my geleer het

God is groot en wonderbaar, en Hy bly getrou. Dit is vir my die wonder van hoe God deur mense werk wat na Sy stem luister en gehoorsaam is aan Hom. Hoe kan mens steeds twyfel in die Lewende God, wat op die perfekte tyd en manier voorsien in jou behoeftes deur ander wat niks van jou omstandighede weet nie?

Om hierdie getuienis uit te dra het die Here reeds op vele maniere voorsien: ’n Helikopter wat foto’s geneem het en Pieter Walters wat deur middel van ’n hommeltuig video’s gemaak het – alles gratis.

Pierre het geleer dat God sal voorsien in alle omstandighede.

Hierdie getuienis gaan nie nét oor die wonderwerke wat gebeur het gedurende grendeltyd nie, maar juis oor die Here se getrouheid en genade. En wat Hy ons leer wanneer dit nie goed gaan volgens ons nie.

In hierdie tyd het God se beloftes regtig vir my ’n werklikheid geword. Net soos Hy vir Abraham voorsien het, sal die Here ook voorsien vir ons, mits ons Hom vertrou en gehoorsaam is aan Hom. Ek het geleer dat Sy gedagtes nie ons s’n is nie.

Ons moet Hom verheerlik en sing tot sy eer. Anders sal die klippe dit uitroep.


LEES OOK: Bosveld-boervrou: ‘Ons dien ’n wonderbaarlike God’

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.