Om dankbaar te wees … Soms klink dit asof gelowiges mekaar daarmee dreig. Dit is asof ons hard moet werk om behoorlik dankbaar te wees, anders kom daar moeilikheid. Dit kan tog nie wees nie. Jesus se kruis vertel ’n heel ander storie.
“Ons moet dankbaarder wees …”
Ons ken dié “gevleuelde woorde”.
As ons dit nie soms self kwytraak nie, beaam ons dit wanneer iemand anders ons daaraan herinner.
Is dit ’n immer ontwykende ideaal, dié dankbaarheid?
Of is dit dalk ’n kwalik bedekte dreigement? Asof ons aangepraat word (of onsself aanpraat) omdat ons kwansuis nie volgens ’n aanvaarbare “dankbaarheid-standaard” leef nie.
Ons gebede is ook dikwels vol sulke ideale, veral ons immergroen tafelgebede. Soos wanneer ons vra: “Maak ons opreg dankbaar vir die kos.”
Luister mooi: Ons moet dankbaar gemáák word; trouens opreg dankbaar. Selfs al staan daar elke keer ’n groot bord kos voor ons, hoor ons byna nooit dat iemand sê “ons is dankbaar vir die kos” nie.
Byna nooit dank ons die Here bloot omdat Hy daar is nie, omdat Hy as Gasheer én Eregas by die ete opgedaag het nie.
Dit lyk my dus dat dankbaarheid selfs tydens ons etes ’n onbereikbare ideaal bly. Ja, dalk is dit gelowiges se mees onverhoorde gebed ooit …
’n Dreigement? Of die werklikheid?
Waarom is dankbaarheid skynbaar buite die meeste mense se bereik? Waarom beland dit keer op keer op die top tienlys van die dreigemente in gebede en gesprekke?
Jesus leer ons tog duidelik in Markus 6:41* en Markus 8:6** hoe om reg te bid wanneer ons eet. Paulus leer ons in verskeie van sy briewe dat dankbaarheid ’n normale deel van ons geloofslewe is. Dit is nooit buite ons bereik nie, nie by ons etes nie en ook nie in die res van ons lewe nie.
Dankbaarheid is veronderstel om ’n daaglikse werklikheid te wees; dis nooit opsioneel nie. Dis nie bloot ’n vlietende emosie of ’n gepaste reaksie wanneer goeie dinge met ons gebeur nie.
Anders gesê: Ons is nie net dankbaar wanneer dit goed gaan nie. Of wanneer ons reken ons is geseënd nie. Ons is altyd en in alle omstandighede dankbaar. Ons gaan slaap dankbaar. Ons staan dankbaar op. Ons leef dankbaar. Ons werk dankbaar. Ons eet dankbaar. Ons dink dankbaar. Ons praat dankbaar. Ons speel, kuier, bid, ly, huil, treur, loof, help en dien dankbaar.
Dankbaarheid se Naam en adres
Die regte soort dankbaarheid het altyd die regte naam – Jesus. Hy is die Bron van al ons vreugde. Sy kruisdood is die oorsprong en die lewenslange fontein van ons dankbaarheid. Sy kruis is ons enigste adres.
Golgota is ons brug na die hemel én terug. By die kruis het ons, van kop tot tone, ’n nuwe mens geword. Daar het Jesus sy lewe opgeoffer. Daar het Hy sy hart oorgeplant in elkeen wat glo.
Nee, dis nie eintlik óns wat ons hart vir Jesus gegee het nie; dis net mooi andersom. Die Here het sy hart in ons binneste oorgeplant, presies soos God belowe het om te doen (Jer 31:33).
Nou klop ons nuwe hart op die maat van hemelse vreugde. Christus is ons hemelse Pasaangeër. Hy het immers nie net sy lewe met ons kom deel nie, maar ook sy vreugde.
As ons nie met vreugde leef nie, is ons niks anders nie as wandelende “exercises in missing the point” – soos my een Engelse vriend sou sê.
Ons vreugde is voltyds in Jesus geanker. Ons jubel in Hom, al kry ons swaar. Ons loof Hom, al ly ons. Al sak die donkerte toe oor ons lewe, gee ons nooit moed op nie.
Ons pyn en wanhoop is nooit sterk genoeg om ons uit Christus se hand te ruk nie. Of om ons ewige vreugde te steel nie. Dit word deur Christus se kruis bevestig en deur die Heilige Gees gewaarborg.
Vra en kla is afgegradeer
Die Nuwe Testament het die “vra-en-kla”- leefwyse radikaal afgegradeer.
Ons gebede en ons daaglikse handel en wandel is terselfdertyd opgegradeer tot lof en dank. Jesus se kruis het dankbaarheid laat verskuif vanaf ’n ideaal na ’n daaglikse werklikheid.
Terwyl klagtes en versoeke nog wemel in Ou-Testamentiese boeke soos Psalms, vervaag dit in God se tweede testament. Nuwe-Testamentiese gelowiges kla of murmureer byna nooit; hul lof ontplof behoorlik. Hul dankbaarheid eggo in elke gebed, elke gesprek en in elke daad.
Hul dankbaarheid is ’n voltydse gebeurtenis. Dit gebeur altyd en oral.
Toe die eerste Christene deur wrede base sleg behandel is, het dit nooit hul dankbaarheid gesteel nie. Hulle het hul werk met dankbaarheid gedoen – vir die Here, soos Paulus in Kolossense 3:23 daaroor skryf.
Toe hul geloof deur lyding en swaarkry getoets is, was hulle dankbaar dat sulke toetse hul geloof geslyp het, soos Jakobus 1 en 1 Petrus 1 ons leer.
Toe hulle uitmekaar geslaan is, kon hulle steeds lofliedere sing. Vra maar vir Paulus. In Handelinge 16 sing hy die hemel én die tronkdeure vreugdevol oop. En dit nadat hy wreed mishandel is.
Hy kla nie. Hy verwyt nie. Hy is nie bitter nie. Hy sing met dankbaarheid omdat Hy weet Christus is die Here.
Elke Paulusgebed was deurdrenk met lof en dank. Dié apostel het geweet dat die Heilige Gees oor alle gelowiges uitgestort is, en dat Hy almal wat glo met sy hemelse vreugde en dankbaarheid vervul (Ef 5:18-20). Dis daarom dat Paulus elke dag geleef het op die maat van die Gees se lof-en-dank-musiek.
Om dankbaarheid baas te raak
Dankbaarheid is ’n daaglikse werklikheid in jou lewe. Nee, dit beteken nie dat jy nie ook mag vra en kla wanneer jy bid nie. Of dat swaar dae en donker tye jou nie soms oorweldig nie.
Maar jy moet nogtans kies of jy die Nuwe Testament ernstig opneem: Gaan jy jou eie gebede en die res van jou lewe hiermee belyn?
As klagtes en murmurering, se-dert Christus se kruis, nie meer voor-op staan in die Bybel nie, mag jy dit nie gedurig na jou lewe terugkarwei nie. Jy mag nooit gemaklik word met enige soort vreugdeloosheid nie. Of met ’n middelmatige geloof, wat gekenmerk word deur gebrokenheid in plaas van dankbaarheid nie.
Jy is immers ’n Nuwe-Testamentiese gelowige. Jy is ontwerp vir lof en dank. Jy is deurdrenk met God se Gees. Hy het nuwe bladmusiek vir jou daaglikse lewe gekomponeer, lof-en-dank-musiek.
Jy moet dit weet. Jy moet dit glo. Jy moet dit deurdink. Jy moet dit uitvoer.
Uiteraard moet jy elke dag jou nuutgevonde dankbaarheid inoefen. Kies om dankbaar op te daag by die lewe, elke dag en in elke situasie. By elke ete en elke gesprek.
Leer om te sê: “Ek is dankbaar.” Leer om elke keer só aan etenstafel te bid: “Ek is opreg dankbaar vir die kos!” Kies om die Here voortdurend te dank vir al die mooi dinge wat jy in die lewe raaksien, en in die mense wat om jou is.
Kies om aanhoudend dankie te sê dat Christus alles in jou lewe is.
Dan dreig jy nie meer nie. Dan leef jy dankbaar.
Dis so eenvoudig en so mooi soos dit.
- Toe het Hy die vyf brode en die twee visse geneem, na die hemel opgekyk en die seën gevra. Daarna het Hy die brood gebreek en dit vir sy dissipels gegee om aan die mense voor te sit. Hy het ook die twee visse onder hulle almal verdeel.
- Toe gee Hy die mense bevel om op die grond te gaan sit. Nadat Hy die sewe brode geneem en God gedank het, het Hy dit gebreek en vir sy dissipels gegee om uit te deel, en hulle het dit aan die mense voorgesit.