Ons sit oor ’n koppie koffie en gesels oor dinge wat eens baie gewild was maar intussen heeltemal in onbruik verval het: plate, video’s en kassette, CD’s. Padkaarte. Ons onthou die “walkie talkie”. En hoe ons huis vol ensiklopedieë was.
Toe kom die internet en die slimfoon. Ons google, en ons skakel die GPS aan as ons ry. Ons kan nou 3D-afdrukke maak en selfs Ouma kan skype. Daar is elektriese motors en ons kan ’n DNS-toets via die internet aanvra om vas te stel wie ons voorouers was.
LEES OOK: Moenie te vinnig omblaai nie
Daar het ’n heel nuwe woordeskat ontstaan: hutsmerk, potgooi, hommeltuig, toepassings.
En al dié dinge het sommer maar … gebeur. Dis eers wanneer ons daaroor sit en gesels dat ons regtig onthou wat alles in ons leeftyd verander het. Dit maak ons nostalgies, en in ons heimwee praat ons maklik van “die goeie ou dae”.
Dis ’n óú storie …
Die Prisse Papyrus is ’n antieke Egiptiese papirusrol, meer as 6 000 jaar oud – een van die oudste bestaande geskrewe dokumente – en dit bevat onder meer dié sinnetjie: “Helaas, tye is nie meer wat dit was nie.”
Die Bybelse Prediker het egter ’n heel ander siening: “Moenie sê in die ou dae was dit beter as nou nie; dit is nie uit wysheid dat ’n mens so sê nie” (Pred 7:10).
Om die een of ander rede sê ons nog altyd, ten spyte van al die vooruitgang, dieselfde dinge oor en oor vir mekaar, bloot op verskillende maniere. Veral tydens krisisse verloor ons hoop en voel ons die toekoms is duister.
Maar as ons regtig gaan stil staan en na ons geskiedenis kyk, kan ons nie help om ’n opwaartse neiging te bespeur nie. Deur die jare het ons nog altyd op die een of ander manier vordering gemaak. Ná elke ramp het die son weer opgekom en het die mens weer opgestaan, dalk selfs met ’n sterker gees. Ons oorwin telkemale ons uitdagings, en dan beweeg ons weer opwaarts en voorwaarts ná die lesse wat ons geleer het.
Ook nou voel dit asof die wêreld geruïneer word deur oorloë, politieke onstuimigheid, ekonomiese onsekerheid, kragonderbrekings en pandemies. Ons is bekommerd en onseker, ons vrees die toekoms.
Onthou tog!
Dit sal ons help om te onthou dat die mensdom al voorheen soortgelyke krisisse deurgemaak het. Daar was feitlik uit die staanspoor oorloë, pandemies, groot ekonomiese ineenstortings – en elke keer het die mens weer opgestaan, sterker as voorheen en met meer wysheid. Die ou wysgeer Plato het gesê: “As daar ’n goeie en wyse God bestaan, dan bestaan daar ook vooruitgang van die mens in sy strewe na perfeksie.”
God herinner ons gereeld aan alles wat Hy vir ons in die verlede gedoen het wanneer Hy ons in die hede ontmoet. Hy wil hê ons moet ons verlede gebruik as ’n bron van hoop en moed. Hoor dan: “Ek is die God van jou voorvaders, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob” (Eks 3:6). En: “Ek is die God van Abraham, die God van Isak, en die God van Jakob … nie die God van dooies nie, maar van lewendes” (Matt 22:32). Asook: “Die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob, die God van ons voorvaders, het aan Jesus, sy Dienaar, goddelike eer gegee …” (Hand 3:13).
Ons kan die toekoms met moed en geloof aanpak, ongeag hoe die wêreld tans vir ons lyk of voel. Ja, daar kom dikwels terugslae; dit voel trouens asof ons agteruit beweeg wanneer dit met ons swaar gaan. Maar telkens kom ons sterker anderkant uit. Ralph Waldo Emerson het gesê: “Hierdie tyd, soos alle tye, is ’n baie goeie een, as ons maar weet wat om daarmee te doen.”
Daar is altyd stemme vol wanhoop in ons omgewing. Wees jy dan ’n stem vol hoop en moed. Deel jou geloof, hoop en vreugde met die wêreld en omring jou met mense wat in hierdie perspektief deel. Die hedendaagse krisisse is slegs ’n oomblik in ons sonnestelstel vasgevang, ’n vlietende episode in die geskiedenis. Ons kan vashou aan God se beloftes en veilig rus in die wete dat Hy altyd vir ons sorg, van die oerbegin af.
Hoor dan wat sê die Hebreërsskrywer: “Die twee onveranderlike dinge, die belofte en die eed, waarborg dat God sy woord gestand sal doen. En dit is vir ons, wat ons toevlug tot Hom geneem het, ’n kragtige aansporing om vas te hou aan die hoop op dit wat vir ons weggelê is. Hierdie hoop besit ons as ’n veilige en onbeweeglike lewensanker, wat agter die voorhangsel vas is” (Heb 6:18-19).
- Simone Gauche is ’n mamma met twee seuntjies, sy is ’n huweliksmaat en ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk.