Vroeg-vroeg een koue wintersoggend draf ek langs die see en ek sien die walvisse wat baljaar – hulle blaas, hulle slaan die stert, hulle spring uit die water. Dis kompleet of hulle bewus is van almal wat hulle dophou.
Die mense wat staan en kyk, sorg vir ’n studie op sigself. Daar is verkykers en kameras, hande bo die oë en hande wat ’n koppie koffie vashou. Hier en daar is ’n hond wat aan ’n leiband trek omdat sy eienaar versteen staan voor die skouspel. Almal beduie vir elkeen wat by hulle aansluit – kyk daar! Dis ’n belewenis wat gedeel moet word.
LEES OOK: Val en opstaan
’n Plek sonder grense, waar die tyd stilstaan
Mense van elke ouderdom, geslag, ras en stand staan en kyk na die walvisse. Dit is soos dit is: Die natuur laat tyd stilstaan, en dit snoer mense saam.
Sulke oomblikke laat ons klein voel en ons begryp iets van die skepping se grootsheid. Dis asof die wêreld om ons ’n tydjie lank in fokus kom.
Dis in sulke oomblikke dat ons daarvan bewus word daar skuil ’n dieper geheimenis onder die oppervlak van die dinge waarmee ons ons besig hou. Die belewenis van die natuur sorg dikwels vir ’n deur na hierdie dieper plek, wat ons nie goed verstaan nie en wat ons nie altyd raaksien nie.
Dis ’n plek sonder grense. Hier staan tyd inderdaad stil. En ons is vol verwondering, ons besef daar is nie eintlik woorde wat kan beskryf wat ons sien en ervaar nie.
Dit is jammer dat dit nie altyd so met ons is nie. Ons is so dikwels vasgevang in ons eie gedagtes, besig om die verlede te analiseer of oor die toekoms te tob.
Daarom het ons sulke oomblikke vol verwondering nodiger as brood. Oomblikke wat ons na ons asem laat snak. Soos wanneer ons die son sien opkom of sien sak. Wanneer ons na musiek luister wat met ons siel praat, of ’n kunswerk bewonder wat iets in ons verander. Wanneer ons ’n gedig lees wat ’n gevoel onder woorde bring op ’n manier wat ons nie self kan regkry nie. Wanneer ons die seisoen se verandering aan ons lyf voel. Wanneer ’n struik blom en soet geure die lug in blaas. Wanneer ons die maan sien vol word, aand ná aand. Wanneer ons iemand vashou wat ons liefhet.
Ons sien iets vlietends van ’n wêreld wat altyd daar is, maar waarvan ons nie altyd bewus is nie. Ons besef dat ons aan mekaar en aan alles om ons verbind is. Ons is nie alleen nie. Ons het deel aan mekaar en aan die wêreld. Ons besef dat ons deel is van iets veel groter as ons. En dat God ons deel daarvan gemaak het.
Ons kan kies …
Die wêreld is voortdurend besig om te ontvou om ons, om God se skeppingskrag bloot te lê. Soms is dit in die sagte fluistering van die wind, en soms in die oorverdowende gedruis van die donderweer. Ons is deel van hierdie ontvouende verhaal, of ons daarvan bewus is of nie. Ons is deel van die seisoene se ritme, en deel van God se skeppingsplan.
Ons kan kies om met vreugde hiervan deel te wees en met bewondering daarna te kyk, of ons kan met toe oë deur die lewe gaan. Ons kan ons voorneem om hierdie oomblikke deel van ons te maak en dit toelaat om ons te verander, of ons kan aanhou leef in die klein wêreld van ons klein gedagtes.
En ons kan kies om saam met die Psalmdigter te sing: “Die hemelruim verkondig die eer van God en die hemelkoepel maak die werk van sy hande bekend. Dag ná dag bring dit ’n boodskap voort en nag ná nag deel dit kennis mee. Alhoewel daar geen spraak en geen woorde is nie en hulle stem nie hoorbaar is nie, gaan hulle boodskap uit oor die hele aarde en hulle woorde tot aan die einde van die wêreld. Vir die son het Hy ’n tent opgeslaan in die hemel. Die son is soos ’n bruidegom wat by sy slaapkamer uitgaan – vol vreugde, soos ’n held wat op die pad hardloop. Aan die een kant van die hemel gaan hy op en aan die ander kant gaan hy onder, en niks ontkom aan sy hitte nie” Ps 19:2-7).
Simone Gauche is ’n mamma met twee seuntjies, sy is ’n huweliksmaat en ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk.