Dis Sondagmiddag en ons gesin gaan stap ’n entjie. My kinders sien die steil afdraand en besluit om voluit resies te hardloop, al teen die hoogtetjie af. Maar halfpad struikel my jongste oor ’n baksteen en slaan neer.
Hy maak so twee bollemakiesies voor hy opspring en uitroep: “Ek is oukei! Ek is oukei!”
Toe skud hy die stof van sy klere af en skree: “Weer!”
Ek is nog op pad om hom te troos en ’n drukkie te gee, toe is hy reeds bo vir ronde nommer twee.
Maar dié keer is hy versigtiger, en hy spring soos ’n Olimpiese-hekkiesatleet oor die baksteen. Hy hardloop soos blits by my verby.
Met ’n groot glimlag op sy gesig roep hy van onder af: “Ek het dit gedoen!”
LEES OOK: Hedendaagse afgode
Ons foute word ‘getel’
Ons is almal op pad, elkeen op ’n eie roete deur die lewe. En dit gebeur ongelukkig dat ons struikel en val. Om die waarheid te sê, daar ontstaan dikwels ’n siklus van val-en-opstaan.
Albert Einstein het eens gesê: “As jy nog nooit ’n fout begaan het nie, het jy nog nooit iets nuuts probeer nie.”
Ons onthou nie vir Einstein vanweë sy foute nie; eerder vir sy buitengewone bydrae tot die wetenskap. Tog het hy vir seker iets van val-en-opstaan verstaan.
Ons is dikwels so bang om foute te maak dat ons nooit iets nuuts wil probeer nie. Van kindsbeen af, en later op skool, word ons tereggewys as ons foute begaan. Ons foute word “getel” as ons toetse skryf om te bepaal of ons slaag of druip.
As jy dit ooit gewaag het om jou hand op te steek om ’n antwoord te gee en jou antwoord verkeerd is, weet jy hoe moeilik dit is om weer die vrymoedigheid te hê om iets voor ’n groep mense te sê.
Ons gebruik die foute wat ons maak as maatstaf vir ons vermoëns, in plaas daarvan om ons foute te gebruik as belangrike hulpmiddels in die leerproses.
Ons wonder dikwels hoekom ons kinders so baie nuwe dinge so maklik kan aanleer. Dalk is dit omdat hulle vreesloos is. Hulle skroom nie om iets nuuts te probeer nie, al maak hulle foute. Dit lyk asof hulle altyd gretig is om weer te probeer.
As ons voortdurend bang is om foute te maak, is dit baie moeilik om te groei en te leer. Die foute wat ons maak, is nie bewyse van ons mislukkings nie; dit is bewyse dat ons probeer het. En die lesse wat ons hieruit leer, is noodsaaklik vir ons ontwikkeling en groei.
In plaas van tob en pruttel oor ons foute, moet ons ons eerder afvra wat ons daaruit kan leer.
Die lesse is belangriker …
Die bekende monnik en skrywer Thomas Merton het eens gesê dat ’n mens altyd moet nadink oor die ontmoediging ná ’n val. Daardie kere wat ons faal en val, kry in ons geestelike lewe ’n dieper betekenis. ’n Val lê ons dikwels bloot. Dit wys ons waaraan ons nog moet werk. Elke val herinner ons ook daaraan dat God altyd gereed is om ons te vang. Dat Hy ons oneindig liefhet, ten spyte van ons gebrokenheid.
Dit bly egter belangrik dat ons altyd weer opstaan. Ons moet aanhou probeer, en fokus op die lesse wat ons geleer het wanneer ons val. Dié lesse is dikwels belangriker as die uiteindelike opstaan.
Ek het iewers gelees iemand sê: “Jy maak foute, maar jou foute maak jou nie.” Elke fout bied ’n geleentheid om klein veranderings aan te bring, om jou koers effens aan te pas.
Dat ons foute sal maak, is ’n gegewe. Maar hoe ons daarna kyk en die manier waarop ons dit hanteer, sal bepaal waarheen ons op pad is.
Ons sal altyd struikel en val, want God is nog nie klaar met ons nie. Maar ons sal altyd kan opstaan en verder loop, selfs hardloop. Alles met die ywer van ’n kleuter. Want op ’n manier is die val ook ’n geskenk.
Hoor die Spreukedigter se wysheid: “Al val die regverdige hoeveel keer, hy staan weer op, maar die goddeloses word deur rampe vernietig” (Spr 24:16).
Simone Gauche is ’n mamma met twee seuntjies, sy is ’n huweliksmaat en ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk.