DEUR MARTJIE ROOS
Sy het as dogtertjie in die Uniegebou se tuin gespeel; deesdae is Frankryk haar speelplek. Haar TV-programme verklap iets van haar liefde vir die lewe se mooi dinge; haar betrokkenheid by talle kultuurprojekte vertel waar haar hartsplek is.
LEES OOK: ‘Ek het skielik besef ek was so arm soos ’n geestelike boemelaar,’ vertel Danie Botha
Daar bestaan geen twyfel oor waar Anet Pienaar-Vosloo se liefde vir styl, kuns en mooigoed vandaan kom nie. Haar ma, wyle Florence Wills, wat tot op ’n rype 94 geleef het, was ’n grasieuse dame. Boonop ’n kranige atleet wat in die 1950’s lid was van ’n Suid-Afrikaanse aflosspan wat ’n wêreldrekord in die 4×110-tree aflos opgestel het.
Florence was Anet se rolmodel. Sy het haar geleer om die mooi in die lewe raak te sien, om dit te waardeer en te koester. Anet vertel: “My ma kon opgewonde raak oor ’n silwer teelepeltjie. Sy het dit blink gepoets en dan op ’n spesiale plek neergesit waar sy dit kon bewonder.”
Anet onthou ook hoe goed versorg haar ma altyd was. “Sy het elke dag haar hare ingedraai, en sy het daarvan gehou om haar toonnaels te verf. Net soos ek was sy baie lief vir tuinmaak. En om rooi lipstiffie te dra.”
Die beginjare
Anet het in die hartjie van Pretoria grootgeword. Haar pa, wyle Jan Johannes Strydom, was ’n regter. Hul huis was reg langs die Uniegebou geleë.
“Ek was een van vier kinders en ons het heerlik in die Uniegebou se tuin gespeel. Ek was die tweede jongste, inderwaarheid die middelkind, die wílde kind,” skerts sy.
Sy het haar skoolloopbaan in Pretoria-Oos begin – maar toe sy moes hoërskool toe gaan, het haar ma besluit om haar platteland toe te stuur. Só beland sy in Hoër Volkskool Heidelberg.
Ná matriek aan Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria het sy vir ’n diplomakursus in kuns op Stellenbosch ingeskryf. “Dié kursus het drie jaar lank geduur. En ses jaar gelede, op 60, is ek terug Stellenbosch toe om ’n graad in kuns te behaal.
“My tweede oudste dogter Rita (32), wat vandag ’n digitale bemarker is, het terselfdertyd op Maties gestudeer. Dit was so lekker om saam met haar daar te wees!”
Kuns, kultuur en joernalistiek
Anet (66) en dr Ton Vosloo, ’n legende in die koerantwese en oudvoorsitter van die Naspers-direksie, is 22 jaar lank getroud. Al twee is baie aktief betrokke by kunstefeeste en verskeie ander kultuurinstellings.
Anet is lid van die WAT-direksie (Woordeboek van die Afrikaanse Taal), en sy en Ton is mede-beskermhere van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees. Anet was ook tien jaar lank voorsitter van die Baxter-teater in Rondebosch.
“Kuns, kultuur en joernalistiek lê my en Ton baie na aan die hart,” vertel sy.
Anet praat met groot liefde oor haar eggenoot. “Ton is báie slim, hy is behoorlik ’n wandelende ensiklopedie. Ek verstom my oor sy wye algemene kennis.
“Ons deel verskeie belangstellings. Ons hou baie van reis, van lees en om saam met vriende en familie te kuier. Ons hou ook daarvan om elke dag koerant te lees en nuus te kyk om op die hoogte van aktuele sake te bly.”
Van die Kaap tot Parys
Die Vosloos woon in Oranjezicht in Kaapstad in ’n pragtige, eeu oue huis genaamd Mayville, wat deur Anet opgeknap en smaakvol ingerig is.
Toe sy destyds by die vrouetydskrif Sarie ’n joernalis was, het sy Parys die eerste keer besoek. Frankryk en die Franse leefstyl en kultuur het onmiddellik haar hart gesteel. Sy vertel: “Ek is mal oor die Franse kultuur, tradisies en styl. En ek het toe al gedroom om eendag eiendom in Frankryk te kan besit.”
Aanvanklik het sy en Ton ’n klein woonstelletjie in Parys gekoop. Dié is later verkoop en ’n groter een is aangeskaf.
“Ons tweede woonstel was soos hemel op aarde, en ek het dit volgens die ontwerper Coco Chanel se styl ingerig.”
Tydens hul vele besoeke aan Frankryk het hulle gereeld in Boussac gekuier. Op ’n dag het ’n Suid-Afrikaanse vriend Hardy Olivier, wat hom daar gevestig het, hulle vertel van die kasteel genaamd Villebouche wat te koop is.
“Daar, in die prentjiemooi Boussacomgewing, staan dié reuseplek met sy 26 vertrekke. Dit dateer uit die 17de eeu, met ’n valbrug en ’n toring wat in Napoleon se tyd gebou is.
“Die kasteel word omring deur sewe mere, en daar is etlike vrugteboorde – appels, pere, kersies.”
Die vorige eienaars het byna alles in die huis aan die Vosloos verkoop, insluitend linne en ou meubels wat uit die 17de en 18de eeu dateer.
“Nadat ons die huis gekoop het, het ons wonderlike antieke meubels daar ontdek. Die eienaars het ook die huis saam met ’n versameling Franse wyn aan ons verkoop, waarvan die waarde, net soos die ou meubels, eintlik onberekenbaar is. Gelukkig kon ons ook die tuinier ‘erf’, wat help om alles in stand te hou.”
‘Ek is mal oor Frankryk, maar …’
Anet het haar intussen as TV-aanbieder onderskei in die Via-reeks Mooi wat in 2017 gemaak is. Hierin is van die mooiste huise in ons land besoek, en televisiekykers het ’n proesel van die onderskeie eienaars se besonderse styl en smaak gekry.
“Ek sou aanvanklik nie die aanbieder wees nie,” vertel Anet, “maar Via se kanaalhoof Izelle Venter het my arm gedraai. En voor ek my oë kon uitvee, het ek my vuurdoop voor die kamera gehad.”
Dié pragreeks was die voorloper van Mooi Frankryk, waar die kollig weer op die wonings van Suid-Afrikaners val, maar dié keer mense wat in Boussac en omgewing woon.
Anet vertel: “Kan jy glo dat daar 36 Suid-Afrikaners in hierdie omgewing woon? Onder hulle was 26 bereid om hul deur vir ons oop te maak en hul stories te vertel – veral oor hoe hulle die ou wonings opgeknap het.” Anet en Hardy het vroeër ook met die kunstenaar Louis Janse van Vuuren saamgespan en in 2010 die boek Feestelike Frankryk saamgestel. Dié boek fokus op smaaklike geregte, fabels en allerlei vertellings uit die Franse platteland.
Anet sê die grootste pluimpie wat haar nóg te beurt geval het, was toe sy in 2020 met die Chevalier des Arts et de Lettres (oftewel Ridder van die Kuns en Lettere) in Frankryk bekroon is. Dit was uit erkenning vir haar betrokkenheid by kunstefeeste in Suid-Afrika. Die Franse president Emmanuel Macron het ’n persoonlike brief aan haar gerig, waarin hy haar die nuus oor dié eretoekenning meegedeel het. “My kop is nou nog in die wolke,” vertel Anet, “veral nadat ek gelees het wie almal voorheen die eerbewys ontvang het. Skrywers soos Breyten Breytenbach en Nadine Gordimer is byvoorbeeld daarmee vereer.”
Anet het twee dogters – Rita (32) en Loren (36). Sy is ook die trotse ouma van twee kleindogters, Julia (2) en Stella (5).
Vier jaar gelede moes sy ’n heupvervanging ondergaan. “Maar,” sê sy, “die operasie het beslis my lewensgehalte positief beïnvloed. Ek ry nou gereeld fiets. Ek het die Argus en die Epic gery, en ek gaan drie keer per week gimnasium toe.” Sal sy permanent in Frankryk wil woon?
Anet skud haar kop. “Ek is mal oor Frankryk, maar Suid-Afrika is my hartsplek. Met die reeks Mooi het ek weer eens besef hoe hardwerkend Suid-Afrikaners is. Hoeveel werk hulle skep. Dit het my trots gemaak en my vertroue in ons land en sy mense herbevestig.”