Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

‘Die seerkry was ’n geleentheid om my doel te vind,’ vertel vrou 15 jr ná traumatiese teistering

’n Wolf in skaapsklere. Iemand by wie jy veronderstel is om veilig te wees. Iemand wat jou moet help om jou passie uit te leef.

Maar dan ontdek jy dat daardie mens eintlik duistere motiewe het.

Dit het ek as jong student uitgevind nadat ek besluit het om my liefde vir die tjello uit te leef. Ek het in 2000 begin om klas te loop by ’n musiekdosent aan die universiteit waar ek in kliniese sielkunde geswot het.

Ongevraagde aandag

Hy was ’n aangename man, in sy vroeë veertigs. Tydens my eerste les het ek probeer om tog nie te lyk soos die amateur wat ek was nie. Die dosent, Diederik*, het my gewys hoe om die tjello teen my lyf te stut en die strykstok op die korrekte manier vas te hou. In ’n stadium het hy agter my gestaan en my elmboë platgedruk. Hy het gesê dit lyk asof ek wil opstyg.

“Jy ruik lekker,” het hy onverwags bygevoeg.

Maar hy het my entoesiasme raakgesien en my ’n sleutel van sy studio gegee sodat ek in my vrye tyd daar kon oefen.

Die volgende dag het ek by die studio aangekom en gesien dat hy ’n suiglekker op my tjello neergesit het. “Dis oulik van hom,” het ek gedink en met die oefening voortgegaan.

Die dorpie en die universiteit is klein, en ek het tot drie keer per dag in my musiekdosent vasgeloop. Ek het wel nie my ander dosente so gereeld gesien op plekke waar studente gewoonlik uithang nie.

Diederik het my ál meer oor my persoonlike lewe begin uitvra. Dit was asof hy verskonings gesoek het om my gereeld te sien. Ek het begin ongemaklik voel.

LEES OOK: ‘God se liefde het my gehelp om vrede te maak met my verlede,’ sê musiekpromotor ná jare se mishandeling en molestering

Ek was angstig oor die ongevraagde aandag en het ’n afspraak by een van die universiteit se sielkundiges gemaak.

Daar is tot die slotsom gekom dat ek geteister word. Ek is ook met ’n algemene angsversteuring gediagnoseer.  

Ná die sessie by die sielkundige het ek na my kar toe gestap. Teen die windskerm het suiglekkers gelê – dieselfde soort wat ek altyd op my tjello vind. My hart het in my keel geklop. Hoe het hy geweet waar ek is?

Diederik se obsessie en teistering het meer intens begin word. Hy het my behoorlik agtervolg, hy het geskenke en kruideniersware by my woonstel laat aflewer. Hy het selfs die opsigter by die woonstelblok betaal om my vullissakke eenkant te hou. Dit, het ek later uitgevind, het hy dan na sy huis toe geneem.

Dit was traumaties

Hy het my ook deur my woonstel se venster begin dophou. Op ’n keer het hy my selfs probeer verkrag. Dit was traumaties.

En die gevolge was verreikend. Ek is telkemale in psigiatriese klinieke opgeneem, ek was depressief. Ek het my aan alles en almal onttrek. Ek het my hare gekleur en gesny sodat hy my nie kon herken nie, ek het met huurmotors oor die weg gekom. Naweke het ek in verskillende gastehuise deurgebring. Alles om van hom en sy obsessie weg te kom.

En ek het by my woonstel in die badkamer geslaap, waar daar nie ’n venster was waardeur hy my kon afloer nie.

Ek was geseënd

Vandag sukkel ek steeds met angs, en ek is geneig om mense nie maklik te vertrou nie. En wanneer ek klassieke musiek hoor, maak dit my hartseer omdat ek my tjello-droom moes prysgee.

Dit is belangrik om ’n ondersteuningsnetwerk te hê, en ek is dankbaar vir die mense in my lewe met wie ek kon praat, by wie ek alles kon vertel.

Indien dit nie vir dié mense was wat God in my lewe geplaas het nie, sou hierdie nagmerrie ondraaglik gewees het. Ek was geseënd om ’n baie goeie sielkundige te hê.

Daar is ook my ouers, vir wie ek aanvanklik nie van die teistering vertel het nie. Ek was bang, en ek wou hulle nie ontstel nie. Maar met die hofsake wat gevolg het, moes ek noodgedwonge met alles vorendag kom. Hulle het my wonderlik ondersteun.

Ek het ook die geleentheid gekry om met Diederik se vrou en sy ma te gesels. Ja, hy was getroud. Dié gesprekke het my met die genesingsproses gehelp.

Ongeveer vyf jaar gelede kon ek Diederik self konfronteer. Hy het volgehou dat hy het dit gedoen het omdat hy my liefhet.

Ek besef hy is siek. Hy is uiteindelik met obsessiewe-kompulsiewe gedragsversteuring gediagnoseer. Ek het alle kontak met hom verbreek.

Die pad na herstel

Van die grootste uitdagings wat ek moes oorkom sodat ek die trauma kon verwerk, was die wete dat Diederik met sy lewe kon voortgaan terwyl my wêreld inmekaargestort het. Ek moes verhuis. Weg van die mooi dorp, weg van die universiteit, weg van my vriende, weg van my eerste woonstel. Weg van my onskuld en weg van my tjello.

Ek het jare lank met posttraumatiese stres gesukkel. God het my beskerm en gedra, en Hy het mense oor my pad gestuur om my te help. Die pad na herstel was lank en moeilik. Ek het wel my MA-graad in Sielkunde voltooi, asook ’n BSoc Sc-graad in Maatskaplike Werk. ’n Nagraadse onderwyssertifikaat het daarop gevolg.

Maar dis eers nou, ná 15 jaar, dat ek regtig antwoorde op my vrae kry en dat die legkaartstukke bymekaarkom.

Snaaks genoeg, ek het nooit gevra “hoekom?” nie. Nou verstaan ek. Dit moes gebeur!

Nee, God het my nie ’n rede gegee vir waarom dit gebeur het nie; Hy het my dié openbaring gegee: “Jy kan nie jou vertroue in mense stel nie.”

Ek het gedink ek het mense nodig …

Ek móés daardeur gaan. Ek móés wys dat ek kan volhard. Dis die enigste wyse waarop my geloof kon groei om sodoende ’n geleentheid voort te bring. Die rede waarom jy deur iets gaan, maak nie saak nie. Wat saakmaak, is jou reaksie daarop.

Ek het gedink ek het mense nodig – maar toe ontdek ek mense het mý nodig. Hierdie reeks gebeure was ’n geleentheid wat in ’n wonderwerk verander het, en toe ’n missie geword het. Miskien, dink ek nou, het dit waardeur ek gegaan het nie eens oor mý gehandel nie.

Miskien moes ek daardeur gaan sodat iemand anders nie hoef nie. Ek kies om te glo dat dit moes gebeur, want dit het my gevorm tot wie ek vandag is. Terwyl die wind die boot beheer, het God die wind beheer.

Nee, ek sê nié die gebeure het van God gekom nie. Maar as Hy dit toegelaat het, aanvaar ek dit. Die plek waar jy seergekry het, is dieselfde plek waaruit jou doel sal voortspruit en waaruit jou getuienis sal bestaan. Dit gaan daaroor om ’n doel te vind te midde van die pyn.

Vandag is ek reeds meer as ses jaar “in remissie”; dis ses jaar sedert my laaste paniekaanval. Ek is gelukkig getroud en het ’n wonderlike loopbaan. En ’n pragtige dogtertjie. Ek onderrig elke dag my leerders oor die mooi én die lelik in die lewe. Ek bied berading aan dié wat, soos ek, onder die druk wil swig. Ek help hulle met God se leiding sodat hulle hulleself kan help.

Dis my doel.

Wat ’n voorreg!

*skuilnaam

  • Chantelle Botha is ’n onderwyser en terapeut in Bloemfontein. Sy is getroud met Johan Botha en hulle het ’n dogtertjie Paisley.
Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.